Gaan na inhoud

Johannes I Tzimiskes

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Johannes I
Keiser van die Bisantynse Ryk
’n Muntstuk wat Johannes uitbeeld; hy word beskerm deur God en die Maagd Maria.
’n Muntstuk wat Johannes uitbeeld; hy word beskerm deur God en die Maagd Maria.
Bewind 11 Desember 96910 Januarie 976
Volle naam Johannes Tzimiskes
Dinastie Masedoniese
Gebore Omstreeks 925
Oorlede 10 Januarie 976
Voorganger Nikephoros II Phokas
Opvolger Basilius II van Bisantium
Eggenote Maria Skleraina
Theodora
Grootprins Swjatoslaf I van Kiëf hou samesprekings met keiser Johannes.

Johannes I Tzimiskes (Grieks: Ιωάννης Α΄ Τζιμισκής; omstreeks 925 – 10 Januarie 976) was die Bisantynse keiser van 11 Desember 969 tot met sy dood. Hy was ’n briljante generaal en in sy kort bewind is die ryk se grense uitgebrei en Bisantium self versterk.[1]

Vroeë lewe

[wysig | wysig bron]

Tzimiskes is iewers in 925 gebore as lid van die Kourkouas-familie, wat van Armeense oorsprong was. Sy ma was die suster van die toekomstige keiser Nikephoros II Phokas.

Dit lyk of hy op ’n jong ouderdom by die leër aangesluit het, aanvanklik onder Phokas se bevel. Hy het vinnig opgang gemaak en het die politieke en militêre bevel van die streek Armenië oorgeneem voor hy 25 was. Sy huwelik met Maria Skleraina het hom verbind aan die invloedryke Skleroi-familie.

Die Bisantynse Ryk was in ’n oorlog betrokke met sy oostelike bure en die verskeie onafhanklike en semi-onafhanklike state wat ontstaan het ná die verbrokkeling van die Abbasidiese Kalifaat. Die belangrikste was die Emiraat van Aleppo. Armenië het tussen die twee ryke gelê en Johannes het sy streek suksesvol verdedig. Hy en sy soldate het daarna by die hoofleër aangesluit, wat onder bevel van Nikephoros Phokas was.

Nikephoros het ’n reeks oorwinnings behaal en die grense uitgebrei deur sowat 60 grensstede, onder meer Aleppo, te verower. Johannes het in die oorlog uitgeblink, onder sy oom en as bevelvoerder van dele van die leër. Met die dood van keiser Romanos II in 963 het Johannes sy oom aangespoor om die troon oor te neem. Daarna is hy weens ’n gekonkel van sy bevel onthef. Hy het toe met Nikephoros se vrou, Theophano, met wie hy ’n verhouding gehad het, saamgesweer om hom te vermoor.

Bewind

[wysig | wysig bron]

Nadat Nikephoros vermoor is en Johannes keiser geword het, het hy sy swaer Bardas Skleros gestuur om ’n rebellie te onderdruk deur Johannes se neef Bardas Phokas, wat sy oom wou opvolg. Hy het ook met Theodora getrou om sy posisie te versterk.

In ’n reeks veldtogte teen die indringende Kiëf-Roes het hy die vyand in 971 uit Thracië verdryf. Hy het grootprins Swjatoslaf I so geheel en al verslaan dat hy in beheer was van Bulgarye en Dobruja.

In 972 het hy die Abbasidiese Kalifaat en sy ondergeskikte state aangeval. In ’n tweede veldtog in 975 teen Sirië het Johannes se magte onder meer Damaskus, Nasaret, Beiroet en Tripoli oorgeneem, maar hy kon nie Jerusalem verower nie. Hy is in 976 skielik dood met sy terugkeer van die tweede veldtog.

Johannes is opgevolg deur Basilius II, die seun van Konstantyn VII wat in 960 deur sy pa tot medekeiser gekroon is.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Treadgold, Warren (1997). A History of the Byzantine State and Society. Stanford: Stanford University Press. p. 512. ISBN 0-8047-2630-2.

Bronne en verdere leesstof

[wysig | wysig bron]
  • Norwich, John J. (1991). Byzantium: The Apogee. Alfred A. Knopf, Inc.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]