Gaan na inhoud

Spanje

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Koninkryk Spanje
Reino de España (Spaans)
Vlag van Spanje Wapen van Spanje
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Plus Ultra
(Latyn vir: "Steeds verder")
Volkslied: Marcha Real[1]
(Spaans vir: "Koninklike Mars")
Ligging van Spanje
Hoofstad Madrid

40°26′N 03°42′W / 40.433°N 3.700°W / 40.433; -3.700

Grootste stad Madrid
Amptelike tale Spaans
Regering Unitêre parlementêre
grondwetlike monargie
Felipe VI
Pedro Sánchez
Onafhanklikheid
Vorming
• Dinasties
de facto
de jure
• Nasionale staat
• Grondwetlike monargie
• Huidige grondwet


20 Januarie 1479
23 Januarie 1516
9 Junie 1715
19 Maart 1812
12 April 1931
29 Desember 1978
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
505 370[2] km2  (54ste)
195 124 myl2
0,89 (2015)[3]
Bevolking
 - 2024-skatting
 - 2016-sensus
 - Digtheid
 
47 280 433[2] (32ste)
46 354 321
93,6 / km2 (121ste)
242,3 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$2 516 miljard[4] (15de)
$52 012[4] (36ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$1 647 miljard[4] (15de)
$34 045[4] (32ste)

MOI (2022) 0,911[5] (27ste)  –  baie hoog
Gini (2023) 31,5[6] –  medium
Geldeenheid Euro (€) (EUR)
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+1)
MEST (UTC+2)
Internet-TLD .es
Skakelkode +34

Spanje (Spaans: España, [esˈpaɲa], ), amptelik die Koninkryk Spanje (Spaans: Reino de España, Katalaans: Regne d'Espanya, Aragonees: Reino d'Espanya, Asturies: Reinu d'España, Baskies: Espainiako Erresuma, Galicies: Reino de España, Oksitaans: Reiaume d'Espanha), is 'n land in die suidweste van Europa. Dit deel die Iberiese Skiereiland met Portugal en Gibraltar. In die noorde word Spanje begrens deur die Pireneë van Frankryk en die landjie Andorra. Die Baleariese Eilande in die Middellandse See, die Kanariese Eilande langs die weskus van Noord-Afrika, asook die eksklawes Ceuta en Melilla in Noord-Afrika, wat deur Marokko omring word, maak deel uit van Spanje se staatsgebied. Dit beslaan 'n oppervlakte van 505 370 km² en het 'n bevolking van 47 280 433 in 2024 gehad.[2]

Nasa-satellietbeeld van Spanje
Geografiese kaart van Spanje

Spanje is 'n grondwetlike erflike monargie nadat dit dekades lank, tot die fascistiese leier of caudillo Francisco Franco se afsterwe in 1975, deur 'n diktatoriese regime beheer is. Administratief word die land onderverdeel in 17 outonome gemeenskappe en twee outonome stede, die eksklawes Ceuta en Melilla. Die hoofstad en grootste metropool is Madrid. Ander belangrike metropolitaanse gebiede sluit in Barcelona, Valencia, Sevilla, Zaragoza, Málaga en Bilbao.

Spanje is 'n lidstaat van die Verenigde Nasies (VN, sedert 14 Desember 1955), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESO, sedert 1961), die Europese Unie (EU, sedert 1 Januarie 1986) en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO, sedert 30 Mei 1982). Dit is een van die hoogs ontwikkelde nywerheidslande en word ook onder die wêreld se grootste twintig in- en uitvoerlande gereken. Danksy 'n hoogs ontwikkelde toerismesektor is Spanje die tweede meesbesoekte land op aarde na Frankryk.[7] In 1999 het die land by die eurosone aangesluit; sedert 2002 is Eurobanknote en -muntstukke in omloop.

Die amptelike taal is Spaans (oftewel Kastiliaans, Castellano), met Katalaans as tweede ampstaal in die outonome gemeenskappe van Katalonië, Valencia en op die Baleariese Eilande; Baskies in die Baskeland en dele van Navarra; Galicies in Galisië; en Aranees in die Val d'Aran. Aragonees en Asturies word as streekstale erken. Die bevolking word volgens taal of dialek en kultuur onderverdeel in Kastiliane in Noord- en Sentraal-Spanje, Andalusiërs in die suide, Galiciërs in die noordweste, Baske in die noordoostelike Atlantiese kusgebied en Katalane in die noordoostelike Mediterreense streek.

Die geskiedenis van Spanje se kultuur strek terug tot in die prehistoriese tydperk toe die land omstreeks 15 000 v.C. deur die Iberiërs bewoon is wat hul naam aan die Iberiese Skiereiland verleen het. Die geskiedenis van kuns in Spanje strek oor byna twintig millennia, van paleolitiese kuns wat in grotte in die noordweste van die land aangetref word, tot Salvador Dalí se 20ste eeuse surrealistiese skilderye.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Die naam "Spanje" (España) is afgelei van Hispania, die Romeinse naam vir die Iberiese Skiereiland en sy provinsies tydens die Romeinse Ryk. Die etimologiese oorsprong van die term Hispania is onduidelik, hoewel die Fenisiërs na die gebied verwys het as Spania (wat "land van die konyne" beteken), gevolglik is die Fenisiese teorie die mees aanvaarde.[8] Daar was 'n aantal rekeninge en hipoteses oor die oorsprong daarvan:

Jesús Luis Cunchillos het gemeen dat die wortel van die woord span die Fenisiese woord spy is, wat "smee" beteken. Gevolglik sou i-spn-ya beteken "die land waar metale gesmee word".[9] Dit kan ook afgelei gewees het van die Fenisiese woord I-Shpania wat "eiland van konyne", "land van konyne" of "hoek" kan beteken; laasgenoemde verwys na Spanje se ligging aan die einde van die Middellandse See; Romeinse munte wat in die gebied onder keiser Hadrianus gemunt is, toon 'n vroulike figuur met 'n konyn by haar voete,[10] en Strabo het dit die "land van die konyne" genoem.[11] Die betrokke woord beteken eintlik "dassie", moontlik weens die Fenisiërs wat die twee diere verwar het.[12]

Daar is ook die bewering dat "Hispania" afgelei is van die Baskiese woord Ezpanna, wat "rand" of "grens" beteken, nog 'n verwysing na die feit dat die Iberiese Skiereiland die suidwestelike hoek van die Europese vasteland vorm.[13]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Vroeë geskiedenis en oudheid

[wysig | wysig bron]
'n Diorama van die Altamira-grot (Katalaanse Argeologiese Museum, Barcelona)

Die eerste mense het hulle volgens die huidige stand van navorsing sowat 1,5 miljoen jaar gelede op die gebied van die huidige Spanje gevestig. Die Neanderdaller het vermoedelik 45 000 jaar gelede verdwyn. Die Neolitikum (van die 6de millenium v.C.), die oorgang van die die toeëiening van die lewenstyl as jagters, vissers en versamelaars na die produserende, uiteindelik landelike lewenswyse het begin met die migrasie uit die sentrale Middellandse Seegebied wat sy oorsprong in die Nabye Ooste gehad het.

'n Romeinse teater in Mérida

Uit die 10de eeu v.C. getuig die handel van Fenisiese seevaarders met die Suid-Spaanse kusstreke. Ten minste van die 8ste eeu af het hulle kolonies gestig wat als handelsplekke gedien het, waarvan hul bekendste Cádiz (Gades) was; later het Grieke gevolg, veral die Fokeërs uit Massalia. In die 5de en 4de eeu v.C. het Kelte uit die noorde hulle op die Iberiese Skiereiland gevestig en in die noordelike en westelike gebiede gemeng met die inheemse Iberiërs (sien Keltiberiërs). In hierdie tydperk is Oud-Spaanse skrifte gebruik. 'n Ander belangrike vroeë inheemse volk is die Baske in die noorde van die land. Tydens die Puniese Oorloë het die Kartage, nasate van die Fenisiërs, groot dele in die suide en ooste van die skiereiland verower. Tydens die Tweede Puniese Oorlog het die Romeine spoedig die suide en weste van die Kartage verower. Dit het egter 200 jaar geneem totdat die Romeine ook die noorde kon verower. Die provinsies Hispania Baetica in die suide en Hispania Tarraconensis in die noorde en ooste het in belangrike dele van die Romeinse Ryk ontwikkel. Uit die Romeine se Latynse taal het later Spaans en ander Romaanse tale in Spanje ontwikkel.

Van Moorse heerskappy tot Spaanse Ryk

[wysig | wysig bron]

Tydens die Volksverhuising, waartydens die Wes-Romeinse Ryk in die 5de eeu ineengestort het, het die Suebe hulle op die Iberiese Skiereiland gevestig, terwyl die Wes-Gote na Gallië beweeg en ook groot dele van die Iberiese Skiereiland verower het. Ná 'n vernietigende nederlaag teen die Frankiese Ryk het die Wes-Gote Gallië ontruim en hul sentrum na die skiereiland verskuif. Na hierdie tweede en laaste fase van die Wes-Gotiese Ryk word vanweë sy nuwe hoofstad Toledo ook as Toledaanse Ryk verwys. Hulle heerskappy is van 711 af deur Islamitiese troepe beëindig, nadat die Wes-Gotiese koning Roderik verslaan is. Die Arabiese nalatenskap het ná eeue se heerskappy die argitektuur en die taal beïnvloed. Hierdie Berbergroepe, waarna as More verwys is, het die grootste deel van die skiereiland verower, maar hulle het nie daarin geslaag om hulle in die noorde van die skiereiland te vestig nie. Die Goot Pelayo (hy word slegs in 'n vals kroniek genoem) het hul uitbreiding in die Slag van Covadonga in Noord-Spanje gestuit. Dié slag het – terugskouend – die begin van die Christelike herowering gemerk, die Reconquista, wat in 722 begin en oor eeue gestrek het. Die Moorse Spanje het ná 750 onafhanklik geword van die Arabiese Ryk, in 929 het Abd al-Rahman III in Al-Andalus 'n eie kalifaat uitgeroep. Geskille tussen die adelsgesinne het daartoe gelei dat die kalifaat 'n eeu later in verskeie Taifas verbrokkel het.

Intussen is die verenigingsproses in die noorde veral deur Kastilië aangedryf. Die Koninkryk León is in 1037 deur koning Ferdinand I die Grote verower; boonop het die Kastiliërs imperiale doele nagejaag en tydelik die keisertitel aangeneem. Vername figure in die Reconquista rondom die 11de eeu was Raymond Berengarius III van Barcelona en El Cid; laasgenoemde is later as nasionale held van Spanje vereer. Albei koninkryke het in 1157 verbrokkel, toe koning Alfonso VII 'n erfdeling uitgevoer het. Teen 1230 is hulle deur Ferdinand III in die Koninkryk Kastilië herenig. In 1469 het die troonopvolger van Kastilië, Isabella, in die huwelik getree met Ferdinand, die troonopvolger van Aragon. Ná die regeringsoorname in 1474 in Kastilië en in 1479 in Aragon het hulle albei heerskappye saam regeer. Hulle het die twee koninkryke egter nie in een enkele staat verenig nie.

Christophorus Columbus (ca. 1451–1506): Genuese seevaarder in diens van die Kroon van Kastilië (portret deur Ridolfo Ghirlandaio)

In 1492 het Christelike troepe die laaste oorblywende gebied op die skiereiland onder Islamitiese bewind verower. In dieselfde jaar het Christophorus Columbus Amerika vir Europa ontdek. Ná die einde van die Reconquista is ook ander godsdienstige minderhede geteiken. Die "Katolieke konings" Isabella I en Ferdinand II wou geen nie-Christene meer in hul ryke duld nie. Moslems en Jode is gedwing om hulle te laat doop. In 1478 is die Spaanse Inkwisisie ingestel om "ongelowiges" wat net uiterlik bekeer het, maar in die geheim hul ou godsdiens nagekom het, op te spoor en te straf (onder andere deur auto de fe). Op 31 Maart 1492 het Isabella I en Ferdinand II die uitsettingsbevel uitgevaardig, waarvolgens al die 300 000 Jode, wat hulle nie wou laat doop nie, die Koninkryk Kastilië en die ryke van die Kroon van Aragon moes verlaat (Sefardiese Jode). In 1609 het Filips III ook die Moriske, afstammelinge van bekeerde More, uitgesit.

In die 16de eeu is die heerskappye van Kastilië en Aragon tot een koninkryk verenig. Aragon was reeds 'n gevestigde seemag in die Middellandse See, terwyl Kastilië meegeding het met Portugal oor invloed op die Atlantiese Oseaan. Met die ontdekking van die Amerikas deur Kolumbus vir Europa het Spanje 'n Christelike groot moondheid geword. In 1504 is Johanna I ná die dood van haar moeder Isabella I tot koningin van Kastilië geproklameer. Deur haar huwelik met Filips I, die seun van die Rooms-Duitse keiser Maksimiliaan I, het 'n blywende verbintenis ontstaan tussen die Spaanse koninkryke en die Huis van Habsburg (Spaans: Casa de Austria). Hul seun, koning Karel I, sedert 1516 Spaanse koning, het in 1519 as Karel V keiser van die Heilige Romeinse Ryk geword. Onder sy bewind het Hernán Cortés die Asteekse Ryk in Meksiko, Francisco Pizarro die Inka-ryk in Peru en ander conquistadores die Yucatanskiereiland verower. Vervolgens het Nieu-Spanje in Noord-Amerika Spanje se rykste kolonie geword. Nadat Karel in 1556 afstand gedoen het van alle poste, is die heerskappye tussen die Spaanse en Oostenrykse lyne van die Huis van Habsburg verdeel. Daarmee het die Habsburgse Nederland as Spaanse Nederland aan die Spaanse Ryk geval.

Die Iberiese Unie in 1640, Spaanse gebiede in rooi

In 1571 was Spanje deel van die Heilige Liga en het vervolgens in die Slag van Lepanto teen die Ottomaanse Ryk geveg, waarmee die Turkse bedreiging in die Middellandse See beëindig is. In 1580 het die Portugese Huis van Aviz uitgesterf en die buurland het om dinastiese redes aan die Spaanse Huis van Habsburg (Iberiese Unie) geval. Portugal was tot in 1640 ondergeskik aan Spanje en het dele van sy koloniale ryk verloor. In dié jaar het die hertog van Braganza 'n adellike opstand aangevoer teen die Spanjaarde en homself as Johannes IV tot Portugese koning uitgeroep. In 1588 het koning Filips II met die Spaanse Armada die Koninkryk van Engeland onder die Protestantse koningin Elizabeth I probeer verower, maar Francis Drake en gure weer het die armada vernietig. Dit was ook deel van die Tagtigjarige Oorlog, waartydens die Republiek van die Sewe Verenigde Nederlande in opstand gekom het teen Spanje en deur die Engelse en Franse ondersteun is. Gelyktydig het in die Heilige Romeinse Ryk die Dertigjarige Oorlog gewoed. Albei oorloë het in 1648 geëindig met die ondertekening van die Vrede van Münster en die Vrede van Wesfale, waarin Spanje onafhanklikheid aan Nederland moes toestaan.

Teen 1600 het die Spaanse Ryk oor groot dele van Suid- en Sentraal-Amerika, die Suidelike Verenigde State en die Filippyne gestrek. Nadat die Engelse en Franse se koloniale strewe ook toegeneem het, het Spanje geleidelik aan wêreldwye invloed verloor. Die Franse koning Lodewyk XIV het veral op die Spaanse Nederland gemik en die Devolusieoorlog ontketen wat met die Vrede van Aken en die oorhandiging van 'n aantal stede aan die Franse geëindig het, terwyl Spanje Franche-Comté ontvang het. Enkele jare later het die Frans-Nederlandse Oorlog uitgebreek en dié oorlog is met die Vrede van Nijmegen beëindig waarin die vorige uitruiling van gebiede omgekeer is. Nadat in 1700 die laaste koning van die Huis van Habsburg se Spaanse lyn, Karel II sonder nakomelinge oorlede is, is hy opgevolg deur Filips van Bourbon, die kleinseun van die Franse koning Lodewyk XIV uit die Huis van Bourbon. Die Spaanse Opvolgingsoorlog het in groot dele van Wes-Europa gewoed, onder andere het Spanje Gibraltar aan Groot-Brittanje verloor. Tydens die Sewejarige Oorlog het Spanje in 'n groot alliansie saam met Frankryk, Oostenryk, Rusland en Swede geveg teen Groot-Brittanje, Pruise en Portugal, maar hom aan die verloorkant bevind. In die Verdrag van Parys moes die land egter minder kolonies as sy geallieerdes oorhandig en slegs Florida aan die Britte oorhandig, terwyl dit Louisiana van die Franse bekom het.

Spanje het saam met Frankryk en Nederland die Verenigde State tydens die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog teen Groot-Brittanje ondersteun en in die Vrede van Parys ná dié oorlog Florida en Minorka van die Britte gewen. Die Amerikaanse lande se onafhanklikheidsoorloë, veral die Meksikaanse en Suid-Amerikaanse onafhanklikheidsoorloë aan die begin van die 19de eeu, het met die onafhanklikheid van die meeste kolonies geëindig. Aan die einde van die Spaans-Amerikaanse Oorlog (wat die Filippynse Rewolusie ingesluit het) het Spanje in 1898 sy laaste kolonies in die Karibiese gebied en die Stille Oseaan aan die Verenigde State verloor, waarmee die Spaanse koloniale ryk tot 'n einde gekom het. Die Afrikakolonies wat later bygevoeg is (Spaans-Marokko, Spaans-Sahara en Ekwatoriaal-Guinee) het uiteindelik hul onafhanklikheid in die 20ste eeu verkry.

Van Franse besetting tot Franco-diktatuur

[wysig | wysig bron]
Standbeeld in herinnering aan die Cortes van Cádiz (1810–1813) wat die eerste Spaanse grondwet uitgevaardig het

Ná die Franse Rewolusie (van 1789 tot 1799) het Napoleon Bonaparte bewind oorgeneem in Frankryk en nadat hy Spanje verower het, sy broer Josef Bonaparte tot koning geproklameer. Die Spanjaarde het weerstand ontbied in 'n lank guerrilla-oorlog. Van 1810 tot 1813 het die Cortes, afgevaardigdes uit al die provinsies van die Spaanse Ryk, in Cádiz vergader en die land se eerste grondwet uitgevaardig. Dié liberale grondwet was later voorbeeld vir ander grondwette van Spanje en in die buiteland. Ná Napoleon se oorgawe het Ferdinand VII op die Spaanse troon teruggekeer. Hy is in 1833 deur sy (destyds tweejarige) dogter Isabella II opgevolg. Sy was aan bewind tot in 1868. Ná die afdanking van die in 1870 tot koning verkose Amadeus uit die Huis van Savoje is in 1873 die Eerste Spaanse Republiek uitgeroep. Ná 'n staatsgreep is in 1874 die monargie onder Alfons XII van Spanje heringestel.

Aan die begin van die 20ste eeu was Spanje 'n hoofsaaklik onderontwikkelde agrariese land, gekenmerk deur feodale eienaarskapsverhoudinge, die min nywerhede was veral in Katalonië en die Baskeland saamgetrek. Tydens die Eerste Wêreldoorlog het Spanje neutraal gebly. Spanje is weens sy min vlak van buitelandse handelsskakels deur die Groot Depressie heelwat minder geraak as ander lande.[14] In 1923 het generaal Miguel Primo de Rivera bewind oorgeneem en 'n militêre diktatuur geïnstalleer, maar die verbinding van koning Alfons XIII met die diktator het die monargie gediskrediteer, terwyl die dringende sosiale probleme egter nie aangepak is nie; op 14 April 1931 het Niceto Alcalá Zamora die Tweede Spaanse Republiek uitgeroep. Die oorgeërfde politieke en sosiale konflikte het die Tweede Spaanse Republiek van die begin af oorheers, reeds in 1932 het regse militêrs onder generaal José Sanjurjo 'n staatsgreep probeer. In 1934 was daar 'n reeks linkse en anargistiese opstande, wat deels bloedig onderdruk is. Die politieke onstabiliteit, wat veral deur die ekstreme verteenwoordigers van linkse en regse posisies en hul paramilitêre verenigings, maar ook deur lede van die gewone veiligheidsmagte aangehits is, is met die Volksfront, bestaande uit linksliberale, sosialistiese en kommunistiese partye, se oorwinning in die parlementsverkiesings op 17 Februarie 1936 verder verskerp.

Generaal Francisco Franco, van 1936/39 tot sy dood in 1975 langjarige diktator van Spanje

In Julie 1936 het dele van die weermag onder generaal Francisco Franco in opstand gekom teen die regering, die staatsgreep was slegs in enkele dele van die land suksesvol, terwyl dit in die belangrike politieke en nywerheidsgebiede misluk het (o. a. Madrid, Katalonië en Baskeland). Dit het tot die Spaanse Burgeroorlog gelei, waartydens die nasionalistiese opstandiges belangrike hulp ontvang het van die fascistiese Italië asook Nazi-Duitsland en die kommuniste deur die Sowjetunie ondersteun is, terwyl die liberale demokrasieë Frankryk en die Verenigde Koninkryk neutraal gebly en daarmee Franco se oorwinning bevoordeel het. Die nasionaliste onder Franco het in 1939 geseëvier. Die diktatuur onder Franco het begin met etlike jare se gewelddadige suiwerings, waarmee die land 'n lang fase van politieke en sosiale letargie betree het. Ná die einde van die burgeroorlog het Franco aangesluit by die Anti-Kominternpakt met Nazi-Duitsland, Italië en Japan wat teen die uitbreiding van kommunisme gerig was.[15] Nadat Nazi-Duitsland in Augustus dieselfde jaar egter die Molotof-Ribbentrop-verdrag met die Sowjetunie onderteken het, het die Spaanse verhouding met die Duitsers afgekoel. Vervolgens het Franco, ongeag die Duitse en Italiaanse ondersteuning tydens die burgeroorlog, die Spilmoondhede tydens die Tweede Wêreldoorlog op militêre vlak nie ondersteun nie. Die meeste mense wat uit Nazi-Duitsland gevlug het, is egter in Spaanse konsentrasiekampe, wat tydens die burgeroorlog gebou is, geïnterneer.

Net soos ander Europese lande het ook Spanje ná die wêreldoorlog 'n lang ekonomiese opswaai geniet.[16] In 1947 het Franco die monargie herstel en in 1969 Juan Carlos I tot sy opvolger benoem. Hy het ná die diktator se dood op 20 November 1975 'n demokratiseringsproses (Transición) ingelui. Spanje het in 1978 met die goedkeuring van 'n grondwet 'n grondwetlike monargie geword. In die laaste fase van Franco se diktatorskap en veral tydens die Transición het die land gebuk gegaan onder massiewe terreuraanvalle deur die ETA en ander linkse asook regse terreurgroepe. In 1981 het die laaste staatsgreeppoging ("23-F") deur regse militêrs en dele van die paramilitêre Burgerwag (Guardia Civil) teen die demokratiese regering misluk. Die eerste minister Adolfo Suárez het hervormings deurgevoer wat die oorgang na demokrasie gebaan het.

Sedert demokratisering

[wysig | wysig bron]
Felipe VI is sedert 2014 die Spaanse koning

Die oorgang het in 1982 met die bewindsoorname deur die Sosiaal-Demokratiese Party onder Felipe González (Partido Socialista Obrero Español, PSOE) geëindig. Spanje het in 1982 by die NAVO en in 1986 by die Europese Gemeenskap (EG, nou die Europese Unie) aangesluit en nog 'n ekonomiese groeifase ervaar. Gelyktydig is in die stryd teen die ETA 'n staatsterroristiese eenheid (Antiterreurbevrydingsgroepe, Grupos Antiterroristas de Liberación, GAL) opgestel, wat met marteling en moord die Baskiese separatiste beveg het, dié tydperk word in Spanje "vuil oorlog" (guerra sucia) genoem.[17] Die skandaal rondom die GAL-verwikkelinge van belangrike regeringslede het in 1996 gelei tot 'n verkiesingsnederlaag vir die PSOE. Vervolgens het José María Aznar van die konserwatiewe Volksparty (Partido Popular, PP) die nuwe eerste minister geword. In 2002 is die euro as geldeenheid ingevoer. Ná twee ampstermyne wat gekenmerk was deur talle skandale en binnelandse konflikte (Irakse Oorlog), het die PP, onder die indruk van die Madridse treinaanvalle op 11 Maart 2004, die parlementsverkiesings verloor (op 14 Maart 2004). Daarna het José Luis Rodríguez Zapatero (PSOE) in Madrid 'n minderheidsregering gelei. In 2007 het in Spanje 'n eiendomsborrel gebars; in 2008 is die land deur die kredietkrisis geraak. Gelyktydig het separatistiese bewegings, veral in Katalonië, gegroei. Ná die verkiesings in Desember 2011 het die PP onder Mariano Rajoy weer aan bewind gekom, wat ná 1982, 1996 en 2004 die altesaam vierde magsverandering tussen die konserwatiewes en die sosiaaldemokrate sedert die demokratiese oorgang was.

Tydens die parlementsverkiesings op 20 Desember 2015 het die twee groot partye aansienlik aan stemme verloor en kleiner partye soos Podemos en Ciudadanos het na vore gekom. Weens die ingewikkelde meerderheidsverhoudings het die regeringsvorming misluk, wat tot herverkiesings op 26 Junie 2016 gelei het. Nadat die aantal setels min verander het, was die regeringsvorming weereens moeilik. Mariano Rajoy het op 29 Oktober 2016 eindelik eerste minister geword en 'n minderheidsregering aangevoer, totdat hy op 1 Junie 2018 deur 'n mosie van wantroue in die parlement verwyder is. Hy is opgevolg deur die sosialis Pedro Sánchez, maar sy party is met slegs 84 setels in 'n minderheidsregering op die steun van Unidos Podemos, PNV en verskeie separatistiese partye aangewese.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Naas Rusland, Frankryk en Oekraïne is Spanje die grootste land in Europa. Met inbegrip van die Baleariese en Kanariese Eilande is die oppervlakte 505 370 km².[2]

Spanje beslaan ongeveer 85% van die Iberiese Skiereiland en Portugal beslaan 15% van die skiereiland. Die grens tussen die twee lande is ongeveer 1 000 km lank, terwyl die grens tussen Spanje en Frankryk, die Pireneë, sowat 500 km lank is. Die res van die land grens, behalwe vir 'n klein gedeelte langs Andorra en Gibraltar, aan die see. In die noorde is die Golf van Biskaje en die Kantabriese See, in die noordooste die Golf van Lion, in die ooste die Baleariese See en in die suide die Alboransee geleë.

Die twee Marokkaanse kusstede Melilla en Ceuta, die eilande en eilandgroepies Penon de Vélez de la Gomera, Islas de Alhucemas en die Chafarin, wat aan die kus van Marokko lê, en die eiland Alboran, wat ongeveer halfpad tussen Melilla en die Spaanse vasteland lê, behoort ook aan Spanje.

Landskap

[wysig | wysig bron]
Die Kantabriese Gebergte in Noord-Spanje
Teide op die Kanariese Eilande is die hoogste bergpiek op Spaanse gebied

Buiten Oostenryk en Switserland is Spanje die bergagtigste land in Europa. Die land lê gemiddeld 660 m bo seespieël, en een sesde van Spanje lê hoër as 1 000 m. Teide op die Kanariese eiland Tenerife is met 3 715 m die hoogste bergpiek op Spaanse gebied. Die hoogste piek op die Spaanse vasteland en die Iberiese Skiereiland is Mulhacén met 'n hoogte van 3 478 m, gevolg deur Aneto met 'n hoogte van 3 404 m; laasgenoemde is ook die hoogste berg in die Pireneë.

In die Pireneë is pieke wat hoër as 3 000 m is. Spanje bestaan ruweg uit 'n groot plato, die Meseta of Spaanse hoogvlakte, wat tussen 600 en 1 000 m hoog is en deur bergreekse omring word. In die noorde is die Cordillera Cantabrica (Kantabriese Gebergte), met Picos de Europa as die hoogste piek (2 648 m).

Suid van die Ebrorivier lê die Cordillera lbérica (ook Sistema lberico genoem), met die Sierra de Gúdar as die hoogste deel. Heeltemal suid, in die Sierra Nevada, is die Sistema Béticos, met Mulhacén (3 478 m) as die hoogste piek. Deur die gebergte loop die hoogste pad in Europa, naamlik tussen Granada en Pichacho de Veleta (3 392 m).

Die Meseta word in 'n noordelike en 'n suidelike gebied verdeel deur die sentrale bergland noord van Madrid, waarvan onder meer die Sierra de Guadarrama, die Sierra de Gredos en die Sierra de Avila deel uitmaak. Dit vorm ook die grenslyn tussen die historiese landstreke Oud- en Nieu-Kastilië.

Afgesien van die groot berge wat om die Meseta geleë is, is daar 'n aantal kleiner berge wat verspreid oor die hoogvlakte lê, onder meer die Sierra Morena (noord van die Guadalquivir) en die Montes de Toledo.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Klimaatsones in Spanje volgens die Köppen-klimaatklassifikasie

Spanje is 'n uitgestrekte land met 'n ander klimaat in feitlik elke streek. Die Meseta het 'n kontinentale klimaat met 'n groot verskil tussen winter- en somertemperature. Die Spanjaarde beskryf hulle klimaat gewoonlik as drie maande van hel en nege maande winter. In Madrid is die maksimumtemperatuur in die somer 40 °C en in die winter –7 °C.

Die Meseta ontvang gemiddeld slegs 370 mm reën per jaar, hoofsaaklik gedurende die lente en die herfs. Noord- en Noordwes-Spanje het matige winters en warm somers. Die reënval is daar byna oral meer as 1 000 mm per jaar en op plekke selfs meer as 1 500 mm.

Die Spaanse ooskus het ’n Mediterreense klimaat met warm, droë somers en matige, nat winters. In Barcelona is die gemiddelde temperatuur in die winter 8 °C en in die somer 26 °C. Die gebied ontvang gemiddeld 500 mm reën per jaar, hoofsaaklik in die winter. In die suidooste is die klimaat min of meer dieselfde, maar die gemiddelde wintertemperatuur is aansienlik hoër (tot byna 15 °C). Ongeveer een derde van Spanje het 'n Mediterreense klimaat. Die klimaat van die verre suide stem baie ooreen met dié van Noord-Afrika.

Veral die lae dele het geweldig warm somers en uitsonderlik sagte winters. Die kusstrook van Gibraltar tot by Alicante is die warmste streek. Malaga se temperatuur in die winter is gemiddeld 13 °C en in die somer 27 °C. Die gebied tussen Murcia en Almeria is woestynagtig en kry nie meer as 300 mm reën per jaar nie.

Riviere en mere

[wysig | wysig bron]
Spanje se rivierstelsels

Die meeste riviere in Spanje water in 'n oostelike rigting in die Middellandse See af. Feitlik al die riviere is onbevaarbaar. Die belangrikste riviere (van noord na suid) is Llobregat (gedeeltelik bevaarbaar), Ebro (ook gedeeltelik bevaarbaar), Turia, Júcar, Sangonera, Almanzora, Andarax, Guadalhorce en Guadiaro. Taag en Duero mond albei in Portugal in die Atlantiese Oseaan uit. Die Ebro is met 'n lengte van 930 km die langste Spaanse rivier, gevolg deur die Guadalquivir met 'n lengte van 657 km. Die Taag (Portugees Tejo en Spaans Tajo) is die langste rivier op die Iberiese Skiereiland en dit vloei deur belangrike stede soos die ou Spaanse hoofstad Toledo en die Portugese hoofstad Lissabon, terwyl die Spaanse hoofstad Madrid slegs 40 km noord van die rivier geleë is.

Guadiana, wat in die suide aan Portugal grens, sowel as Guadalquivir en Guadalete, vloei na die Atlantiese Oseaan. In die noorde en noordweste is daar talle riviere aan die kus, waarvan Nervion, Besaya, Bidassoa, Deva, Nalon, Navia en Rivadeo die belangrikstes is. Buiten die stumere het Spanje baie min mere: suid van Valencia is 'n groot strandmeer, La Albufera, en oos van Cartagena lê 'n tweede, die Mar Menor.

Kuste

[wysig | wysig bron]
Mediterreense kus aan die Costa Brava

Die kuslyn aan die Middellandse See is ongeveer 1 700 km lank en baie egalig. Groot dele bestaan uit mooi sandstrande, wat gewilde toeriste-aantreklikhede is. Die Costa Brava (van die grens met Frankryk af tot by Barcelona), die Costa Dorada (van Barcelona af tot by die monding van die Ebro), die Costa Blanca (van Kaap de la Nao af tot by Kaap de Palos) en die Costa del Sol aan weerskante van Málaga is van die mooiste en gewildste kusstroke aan die Spaanse kus.

In die suidweste (by die delta van die Guadalquivir) is 'n groot gebied met duine, naamlik die Arenas Gordas. Die noordkus van Spanje aan die Golf van Biskaje en die Kantabriese See is steil en rotsagtig en is dus nie vir toeriste geskik nie. Dit is 'n sogenaamde riaskus, waar versonke riviermondings diep, smal baaie (rias) vorm.

Fauna en flora

[wysig | wysig bron]
Iberiese wolwe (Canis lupus signatus)

Spanje het vroeër groot beboste gebiede gehad, maar dit is deur oorloë, grondontginning, weiding en die bewerking van plantasies vernietig. Vandag is slegs sowat 10% van Spanje se grondgebied bebos. Uitgestrekte bosse kom nog net in die Pireneë en noordwestelike dele van die land voor. Tog lewer die land belangrike bosbouprodukte soos hars en kurk. Spanje is ná Portugal die tweede grootste kurkprodusent ter wêreld. In die laaste paar dekades het die Spaanse regering pogings aangewend om die land weer te bebos.

Hoewel Spanje steeds 'n jagtersparadys is, het die wildgetalle – soos elders in Europa – geweldig afgeneem. Ter beskerming van die dierelewe het die owerheid sedert 1918 'n hele aantal wildreservate aangelê. Die oudste reservaat is die van Covadonga by Oviedo. Later het die van Ordesa in die Pireneë, en Donana in die duine en moerasse suidwes van Sevilla, en die by Tenerife en San Miguel de la Palma (Kanariese Eilande) bygekom.

Tradisionele landstreke

[wysig | wysig bron]
Streke en provinsies van Spanje

Geografies en tradisioneel kan Spanje in verskeie landstreke, elk met sy eie kenmerkende eienskappe, verdeel word. In die verre suide lê Andalusië, wat duidelike invloede van Afrika (More) sowel as Europa toon. Dit is een van die onderontwikkelde streke waar grondbesit nog 'n belangrike rol speel. Andalusië het 'n paar groot stede met 'n kleurryke verlede en talle besienswaardighede, onder meer Sevilla, Granada en Málaga. Kastilië is in baie opsigte die hart van Spanje.

Sedert die Middeleeue het die gebied, wat min of meer met die Meseta ooreenstem, 'n oorheersende rol gespeel en Kastiliaans het byvoorbeeld Spanje se amptelike taal geword. Kastilië is hoofsaaklik 'n landbougebied en bestaan uit eindelose kaal vlaktes. In die noorde is Oud-Kastilië en in die suide Nieu-Kastilië. Belangrike stede in die noorde is Salamanca, Valladolid en Burgos. Die hoofstad van Spanje, Madrid, lê in Nieu-Kastilië. Die noorde van Spanje staan as Kantabrië bekend.

Dit is 'n bergagtige gebied en bestaan van wes na oos uit Galisië, Asturië, Léon en die Baskiese provinsies. Galisië ontvang die meeste reën, maar is nog nie vir toerisme ontsluit nie. Asturië is 'n mynbou- en swaarnywerheidsgebied. Léon kom baie ooreen met Kastilië. Die Baskiese provinsies in die noorde is veral bekend om hulle welvarendheid in vergelyking met ander en ook om die inwoners se sterk nasionalisme. Aan die voet van die Pireneë in die weste lê Navarra en in die ooste Katalonië.

Navarra het noue bande met sowel die Baske as Frankryk. Katalonië is ekonomies die beste ontwikkel en is meer verwesters as ander dele van Spanje. Omdat hulle relatief ryk is en hulle eie taal praat, voel die Katalane net so min Spaans as die Baske. Aragón lê half ingedruk tussen Navarra en Katalonië. Dit is ’n bergagtige, baie onvrugbare agrariese gebied. Die gebied langs die Middellandse See, tussen Katalonië en Andalusië, word die Levant genoem. Dit omvat die streek Valencia met sy uitstekende klimaat en sitrusverbouing, en die woestynagtige gebied Murcia.

Administratiewe streke

[wysig | wysig bron]
'n Kaart van die Spaanse outonome gemeenskappe en stede

Volgens die 1978-grondwet bestaan Spanje uit 17 "nasionaliteite en streke". Elke outonome gemeenskap (comunidad autónoma) het deur 'n statuut van outonomiteit sekere bevoegdhede in wetgewing en uitvoering verkry. Die omvang van hierdie regte verskil vir elke outonome gemeenskap. Oor die algemeen geniet nasionaliteite meer outonomiteit as streke. Sewe van die 17 outonome gemeenskappe bestaan uit slegs een provinsie (provincias), die ander uit meer (tot nege) provinsies. Altesaam is daar 50 Provinsies in Spanje. Buitendien is daar die twee outonome stede (ciudades autónomas) Ceuta en Melilla aan die Marokkaanse kus wat nie deel uitmaak van enige provinsie nie. Benede provinsies is comarcas, plaaslike tradisionele streke of 'n groep munisipaliteite (municipios).

Outonome gemeenskappe

[wysig | wysig bron]
Vlag Outonome
gemeenskap
Hoofstad Wetgewer Oppervlakte
(km²)
Bevolking
(2020)
Digtheid
(/km²)
Status
Vlag van Andalusië Andalusië Sevilla Parlement 87 268 (17,2%) 8 464 411 96 Nasionaliteit
Vlag van Aragon Aragon Zaragoza Cortes 47 719 (9,4%) 1 329 391 28 Nasionaliteit
Vlag van Asturië Asturië Oviedo General Junta 10 604 (2,1%) 1 018 784 96 Historiese gemeenskap
Vlag van die Baleariese Eilande Baleariese Eilande Palma Parlement 4 992 (1%) 1 171 543 230 Nasionaliteit
Vlag van die Baskeland Baskeland Vitoria-Gasteiz
(de facto setel van instellings)
Parlement 7 234 (1,4%) 2 220 504 305 Nasionaliteit
Vlag van die Kanariese Eilande Kanariese Eilande Las Palmas,
Santa Cruz
Parlement 7 447 (1,5%) 2 175 952 289 Nasionaliteit
Vlag van Kantabrië Kantabrië Santander Parlement 5 321 (1%) 582 905 109 Historiese gemeenskap
Vlag van Kastilië en León Kastilië en León Valladolid
(de facto setel van instellings)
Cortes 94 223 (18,6%) 2 394 918 25 Historiese gemeenskap
Vlag van Kastilië-La Mancha Kastilië-La Mancha Toledo Cortes 79 463 (15,7%) 2 045 221 26 Streek
Vlag van Katalonië Katalonië Barcelona Parlement 32 114 (6,3%) 7 780 479 239 Nasionaliteit
Vlag van Extremadura Extremadura Mérida Vergadering 41 634 (8,2%) 1 063 987 26 Streek
Vlag van Galisië Galisië Santiago de Compostela Parlement 29 574 (5,8%) 2 701 819 91 Nasionaliteit
Vlag van La Rioja La Rioja Logroño Parlement 5 045 (1%) 319 914 63 Streek
Vlag van Madrid Madrid Madrid Vergadering 8 028 (1,6%) 6 779 888 830 Streek
Vlag van Murcia Murcia Murcia Regionale vergadering 11 313 (2,9%) 1 511 251 132 Streek
Vlag van Navarra Navarre Pamplona Parlement 10 391 (2%) 661 197 63 Nasionaliteit
Vlag van die Valensiaanse gemeenskap Valensiaanse gemeenskap Valencia Cortes 23 255 (4,6%) 5 057 353 215 Nasionaliteit

Outonome stede

[wysig | wysig bron]
Vlag Wapen Outonome
stad
Wetgewer Oppervlakte
(km²)
Bevolking
(2020)
Digtheid
(/km²)
Vlag van Ceuta Wapen van Ceuta Ceuta Vergadering 18,5 84 202 4 583
Vlag van Melilla Vlag van Melilla Melilla Vergadering 12,3 87 076 7 031

Demografie

[wysig | wysig bron]
Bevolkingsdigtheidkaart van Spanje
Taalverspreidingkaart van Spanje:

   Kastiliaans

   Katalaans

   Baskies

   Galicies

   Asturies-Leonees

   Aragonees

   Aranees

Spanje is ten opsigte van sy inheemse bevolking 'n minder homogene land as sy buurland Portugal. Die term Spanjaarde kan na die staatsvolk of titulêre nasie van die land verwys wat verskillende etniese groepe insluit. Ander belangrike inheemse groepe sluit in Baske in die Baskeland en Katalane in Katalonië wat hul eie nasionale identiteit as etniese en taalgroepe handhaaf. Volgens die 2021-skatting is 84,8% van die bevolking Spanjaarde, 1,7% Marokkane, 1,% Roemene en 12,3% ander.[2] 'n Ander belangrike minderheid is Roma. In onlangse jare het ook Arabiere hulle in Spanje gevestig.

Spanje se uiteenlopende inheemse bevolking weerspieël ook in die tale van die land. Naas Spaans (waarna in die grondwet as "Kastiliaans" verwys word) wat deur sowat 74% van die bevolking gepraat word, is Katalaans (amptelik in Katalonië, die Baleariese eilande en die Valensiaanse gemeenskap) 17%, Galicies (amptelik in Galisië) 7%, Baskies (amptelik in die Baskeland en Navarra) 2%, Aranees (amptelik in dele van Katalonië) met sowat 5 000 sprekers belangrike inheemse tale.[2] Van die ander belangrike streekstale sluit in Aragonees in Aragon, Asturies in Asturië, Leonees in Kastilië en León en Oksitaans in Katalonië.

Die meeste Spanjaarde is Rooms-Katolieke Christene (58,2%), met klein minderhede ateïste (16,2%), agnosties (10,8%), ander (2,7%), niegelowiges (10,5%) en onbepaal (1,7%).[2]

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
Die finale montering van die Airbus A400M geskiet in Sevilla
'n Model van die Seat Leon. Seat is 'n groot nywerheidswerkgewer in Spanje.
'n Aansig van Benidorm snags. Toerisme speel 'n belangrike rol in die Spaanse ekonomie.
Kweekhuise by El Ejido
Die eksklusiewe ekonomiese sone van Spanje

Met die Plan de Estabilización in 1959, die demokratiese oorgang ná 1975, die toetrede tot die Europese Gemeenskap in 1986 en sy deelname aan die Ekonomiese en Monetêre Unie het Spanje die grondslag geleë vir 'n langaanhoudende ekonomiese opswaai. Die land se nywerhede is agtereenvolgens geliberaliseer en gemoderniseer. Hieruit het 'n aantal internasionaal suksesvolle maatskappy voortgespruit soos IBERIA, Seat, Telefónica, Zara, El Corte Inglés, Endesa, Parador. Die oopstelling van Spanje vir internasionale mededinging het gelei tot uitgebreide direkte buitelandse beleggings.

Die prys hiervoor was egter erge krimpings in tradisionele bedrywe, byvoorbeeld in die Baskeland. Die Spaanse maatskappye se gemiddelde aantal werknemers was in 2011 met tien ook heelwat minder as die EU-deursnee van 17 (ter vergelyking: Griekeland 5, Duitsland 35). 80% van die maatskappye in die produserende bedryf het minder as tien werknemers, wat op 'n min mededingendheid van dié vernuwende nywerheid dui. Die herindustrialisering ná die krisis in 2009–2013, wat tot 'n erge ineenstorting van die nywerheidsproduksie gelei het, geskiet tans slegs stadig, hoewel die daarmee gepaard gaande vermindering in indiensneming die produktiwiteit verhoog het. In 2014 is vir die eerste keer sedert die krisis 'n groei in die nywerheidsproduksie van 1,1% aangeteken.[18]

Spanje was, volgens 'n studie deur die bank Credit Suisse in 2017, die land met die twaalfde grootste nasionale totale fortuine wêreldwyd. Die Spanjaarde se totale eienaarskap aan eiendom, aandele en kontant was altesaam 4 845 miljard Amerikaanse dollar. Die fortuine volgens volwassenes is gemiddeld 129 578 en 63 369 Dollar in mediaan (Duitsland: 203 946 en 47 091 dollar onderskeidelik). Die Gini-koëffisiënt by die welvaartverspreiding het in 2016 68,0 beloop wat op 'n gemiddelde ongelykheid aan rykdom dui.[19] In 2018 was daar in Spanje 25 miljardêrs. Die rykste persoon in die land is Amancio Ortega wat met 'n fortuin van sowat 70 miljard Amerikaanse dollar onder die tien rykste mense wêreldwyd is. Ortega is die stigter van die tekstielmaatskappy Inditex.[20]

Die ekonomiese groei rondom die millenniumwisseling is veral deur 'n eiendomsborrel gesteun, waardeur die gemiddelde skuldlas in 2005 125% van die jaarlikse salaris beloop het, dit was drie keer meer as tien jaar terug.[21] Die eiendomsborrel het tydens die finansiële krisis van 2007 af gebars. Aangesien die Spaanse banke feitlik slegs lenings met veranderlike rentekoerse toegestaan en sodoende die rentekoersrisiko aan die leners oorgedra het en die banke weens streng regulering skaars by die ineenstorting van bate-gesteunde sekuriteite betrokke was, is die Spaanse bankwese lank as relatief stabiel beskou. Aangesien die eiendomsektor amper een derde tot die BBP bygedra het, het die ineenstorting 'n groot impak op die ekonomie gehad. Gelyktydig het die eiendomspryse skerp gekrimp, in die eerste kwartaal 2009 met 6,8% in vergelyking tot dieselfde kwartaal die vorige jaar,[22] het baie huishoudings 'n groot skuldlas gedra.

Op 25 Junie 2012 het die destydse minister van finansies Luis de Guindos namens die Spaanse regering by die Europese Unie vir finansiële hulp aangeklop om die Spaanse banke te herkapitaliseer. Die Euro-vennote het aan Spanje reeds 'n enkelbedrag van 100 miljard euro belowe.[23] Nadat die situasie in die Spaanse finansiële sektor verlig het, het die land in Januarie 2014 die euro-reddingspakket verlaat. Gedurende die 18-maande-tydperk van die hulpmaatreëls het Spanje altesaam 41,4 miljard euro ontvang om sy banke te ondersteun.[24]

Die werkloosheidskoers in November 2012 was volgens die Europese Unie se berekening 26,6%.[25] In 2006 was dit 7,6%[26] en in November 2008 13,4%. Daarmee was dit die destyds hoogste werkloosheidskoers in die Europese Unie. Gelyktydig was die werkloosheidskoers van onder 25-jariges op 56,5% (in November 2012), net ná Griekeland die naashoogste koers in die Europese Unie.[25] Vanweë die ekonomiese herstel van 2013 af het dit tot in Januarie 2016 tot 20,5% gekrimp (4,68 miljoen werkloses)[27] en in Junie 2018 tot 15,2%.[28] In 2017 het die betrug die jeugwerkloosheidskoers 39,4% beloop.[29] In 2009 was 4,2% van al die werknemers in landbou werksaam, 24% in nywerhede en 71,7% in die diensektor. Die totale aantal werknemers is in 2017 op 22,75 miljoen beraam; waarvan 46,4% vroue.[30] In die Wêreldwye mededingendheidverslag, wat die mededingendheid van lande vergelyk, het Spanje die 34ste plek onder 137 lande beklee (in 2017–2018).[31] In die Ekonomiese Vryheidsindeks was die land in 2017 in die 69ste plek van 180 lande.[32]

Spanje se kapitalistiese gemengde ekonomie is die 15de grootste wêreldwyd en die vierde grootste in die Europese Unie asook die vierde grootste in die Eurosone, ná Duitsland, Frankryk en Italië. Die sentrum-regse regering onder die voormalige eerste minister José María Aznar het suksesvol daarna gestreef om in 1999 deel te word van die lande wat die Euro as nuwe geldeenheid ingevoer het. In Julie 2024 was die werkloosheidskoers 11,27%.[33] Die jeugwerkloosheidskoers (26,5% in April 2024) is baie hoog in vergelyking met ander EU-lidlande.[34] Voortdurende swakpunte in Spanje se ekonomie sluit in 'n groot informele ekonomie,[35][36][37] en 'n onderwysstelsel wat volgens OESO van die swakste in die ontwikkelde lande is, saam met dié in die Verenigde State.[38] Die skadu-ekonomie het 'n aandeel van 21,5% aan die BBP.[39]

Sedert die 1990's het sommige Spaanse maatskappye multinasionale status verwerf nadat hulle hulle dienste veral na die kultureel verwante Latyns-Amerika uitgebrei het. In dié streek is Spanje die naasgrootste belegger ná die Verenigde State. Spaanse maatskappye het ook na Asië uitgebrei, veral na Indië en die Volksrepubliek China.[40] Spaanse maatskappye belê onder andere in hernubare energie-kommersialisering (Iberdrola was die wêreld se grootste hernubare energie-operateur[41]), tegnologiemaatskappye soos Telefónica, Abengoa, Mondragon Corporation (die wêreld se grootste koöperasie wat deur werkers besit word), Movistar, Hisdesat, Indra, treinvervaardigers soos CAF, Talgo, globale korporasies soos die tekstielmaatskappy Inditex, petroleummaatskappye soos Repsol of Cepsa en infrastruktuur met ses van die tien grootste internasionale konstruksiemaatskappye wat in vervoer spesialiseer is Spaans, soos Ferrovial, Acciona, ACS, OHL en FCC.[42]

Die motorbedryf is een van die grootste werkverskaffers in die land. In 2023 het Spanje 2,45 miljoen motors vervaardig wat dit die agste grootste motorvervaardiger wêreldwyd en die tweede grootste in Europa na Duitsland maak,[43] 'n plek wat dit ook in 2024 behou het.[44] In 2023 is altesaam 89% van die motors en 60% van die motoronderdele/-toebehore wat in Spanje vervaardig is uitgevoer. In 2023 is altesaam 2 201 802 in Spanje vervaardigde motors uitgevoer. In dié jaar het die Spaanse motorbedryf 10% tot die land se bruto binnelandse produk en 18% tot die Spaanse uitvoere bygedra (insluitende motors en motoronderdele/-toebehore). Die buitelandse handelsoorskot van motors het in 2023 €18,8 miljard beloop. Die bedryf genereer 9% van die totale indiensneming en byna twee miljoen werksgeleenthede is gekoppel aan hierdie bedryf.[43]

Handelsvennote

[wysig | wysig bron]

Spanje se hoofuitvoervennote is Frankryk 17%, Duitsland 10%, Portugal 9%, Italië 8% en die Verenigde Koninkryk 6% (in 2022). Spanje se hoofuitvoere is motors, geraffineerde petroleum, kledingstukke, verpakte medisyne en motoronderdele/-toebehore. Met weinig natuurlike hulpbronne om ekonomiese ontwikkeling te onderhou steun Spanje op ander lande vir meeste van sy grondstowwe; die land voer dus 'n verskeidenheid goedere in. Die land se hoofinvoervennote is Duitsland 11%, die Volksrepubliek China 10%, Frankryk 10%, Italië 7% en die Verenigde State 6% (ook in 2022). Spanje se hoofinvoere is ruolie, aardgas, kledingstukke, motors en motoronderdele/-toebehore. Spanje se algehele grootste handelsvennote is almal EU-lidlande soos Frankryk, Duitsland en Italië.[2]

Sport

[wysig | wysig bron]
Die Spaanse nasionale rugbyspan in 2009
Spanje in 2010 nadat hulle die sokkerwêreldbekertoernooi gewen het

Sokker is die gewildste sportsoort in Spanje. Real Madrid en FC Barcelona is twee van die suksesvolste sokkerspanne wêreldwyd. Van die ander vername sokkerklubs sluit in Celta de Vigo, Club Deportivo Lugo, Real Club Deportivo Carabanchel en SD Compostela. Die Spaanse nasionale sokkerspan is met vier titels die UEFA Europa-beker se rekordwenner (in 1964, 2008, 2012 en 2024) en hulle kon ook die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2010 in Suid-Afrika wen. Hulle het daarmee die eerste span geword wat drie belangrike internasionale toernooie agtereenvolgens kon wen. Van die vername sokkerspelers uit dié tydperk sluit in Xabi Alonso, Andrés Iniesta en David Villa. Spanje se hoogste sokkerliga is La Liga, gevolg deur Secunda División.

Basketbal, tennis, fietsry, handbal, futsal, motorfietsry en, in die afgelope tyd, Formule Een is ook gewilde sportsoorte. Die Spaanse nasionale rugbyspan het vir die Rugbywêreldbeker 1999 gekwalifiseer, maar hulle het laaste in hul groep geëindig. Hulle ding in die Europese Rugbykampioenskap met ander opkomende rugbyspanne mee. Die Estadio Nacional Universidad Complutense in Madrid dien as hulle tuisstadion.

Die Vuelta a España is 'n belangrike fietswedren wat elke September gehou word en tot die drie Grand Tours behoort, saam met die Tour de France en die Giro d'Italia. In Formule Een word sedert 1913 die Spaanse Grand Prix aangebied, voorheen op onderskeidelik die Jarama-renbaan, die Jerez-renbaan asook die Montjuïc-renbaan en sedert 1991 op die Barcelona-Catalunya-renbaan. By tye is ook die Europese Grand Prix in Spanje gejaag, naamlik in Jerez en in Valencia.

Spanje het al verskeie groot sportgeleenthede soos die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 1982 en die Olimpiese Somerspele 1992 aangebied. Spanje sal saam met Argentinië, Marokko, Paraguay, Portugal en Uruguay die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi in 2030 aanbied.[45]

In hul onderskeie streke is die sportsoorte Baskiese pelote en Valensiaanse pelote baie gewild.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (es) Spaanse Regering (11 Oktober 1997). "Real Decreto 1560/1997, de 10 de octubre, por el que se regula el Himno Nacional" (PDF). Boletín Oficial del Estado núm. 244. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 27 Mei 2020. Besoek op 1 Junie 2018.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 2,5 2,6 2,7 (en) "Spain". Central Intelligence Agency. Besoek op 16 September 2024.
  3. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 16 September 2024.
  4. 4,0 4,1 4,2 4,3 (en) "Spain". Internasionale Monetêre Fonds. April 2024. Besoek op 16 September 2024.
  5. (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 16 September 2024.
  6. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 16 September 2024.
  7. (en) International Tourism Highlights 2020 Edition. Madrid: Wêreldtoerismeorganisasie. 2021. p. 8. doi:10.18111/9789284422456. ISBN 978-92-844-2245-6.
  8. (es) ""I-span-ya", el misterioso origen de la palabra España". ABC. 28 Augustus 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 November 2016. Besoek op 13 November 2016.
  9. (es) #Linch, John (direkteur), Fernández Castro, María Cruz (del segundo tomo), Historia de España, El País, volumen II, La península Ibérica en época prerromana, bl. 40. Dossier. La etimología de España; ¿tierra de conejos?, ISBN 978-84-9815-764-2
  10. (en) Ulick Ralph Burke (1895). A History of Spain from the Earliest Times to the Death of Ferdinand the Catholic, Volume 1. Londen: Longmans, Green & Co. p. 12. hdl:2027/hvd.fl29jg.
  11. (en) Charles Herbermann (red.). "Spain". New York: Catholic Encyclopedia. Besoek op 16 September 2024.
  12. (en) "Rabbits, fish and mice, but no rock hyrax". Understanding Animal Research. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 31 Oktober 2018. Besoek op 31 Oktober 2018.
  13. (en) Charles Anthon (1850). A System of Ancient and Mediæval Geography for the Use of Schools and Colleges. New York: Harper & Brothers. p. 14.
  14. (de) Horst Hans Hergel (1963). Industrialisierungspolitik in Spanien seit Ende des Bürgerkrieges. p. 15. Besoek op 16 September 2024.
  15. (en) Edmund J. Osmanczyk (1990). The Encyclopedia of The United Nations and International Relations (2 uitg.). Bristol: Taylor and Francis. p. 865. ISBN 0-85066-833-6.
  16. (en) Nicholas Crafts; Gianni Toniolo (1996). Economic Growth in Europe Since 1945. Cambridge University Press. p. 123. ISBN 978-0-521-49964-4.
  17. (de) "Jahresbericht 1998 – Spanien". Amnestie Internasionaal. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 4 Maart 2016.
  18. (es) A. Mars (16 Mei 2015). "El pequeño tamaño lastra la carrera española por la reindustrializatión". El País.
  19. (en) "Global Wealth Report 2017". Credit Suisse. Besoek op 1 Januarie 2018.
  20. (en) "The World's Billionaires 2018". Forbes. Besoek op 21 Julie 2018.
  21. (en) "Bank of Spain Economic Bulletin 07/2005" (PDF). Bank van Spanje. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 22 Julie 2011. Besoek op 22 Julie 2011.
  22. (de) "Immobilienpreise in Spanien im 1. Quartal im Rekordtempo gefallen". Reuters. 17 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Januarie 2016. Besoek op 16 Januarie 2016.
  23. (de) "Spanien beantragt Finanzhilfen bei Euro-Partnern". Der Spiegel. 25 Junie 2012. Besoek op 17 September 2024.
  24. (de) "Spanien hat Rettungsschirm verlassen". Bundesregierung. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2016. Besoek op 6 Maart 2016.
  25. 25,0 25,1 (de) "Arbeitslosenquote des Euroraums bei 11,8 %" (PDF). Eurostat. 8 Januarie 2013. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 23 Januarie 2013. Besoek op 23 Januarie 2013.
  26. (en) "Spain's Economy: Closing the Gap". OESO. 15 Augustus 2008. Besoek op 15 Augustus 2008.
  27. (de) "Arbeitslosenquote im Euroraum bei 10,3%" (PDF). Eurostat. 1 Maart 2016. Besoek op 6 Maart 2016.
  28. (de) "Home". Eurostat. Besoek op 8 Augustus 2018.
  29. (en) "Unemployment, youth total (% of total labor force ages 15-24) (modeled ILO estimate) | Data". Wêreldbank. Besoek op 8 Augustus 2018.
  30. (en) "The World Factbook". Central Intelligence Agency. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2016. Besoek op 21 Augustus 2016.
  31. (en) "Country/Economy Profiles". Global Competitiveness Index 2017-2018. Besoek op 4 Desember 2017.
  32. (en) "Index of Economic Freedom". Heritage. Besoek op 17 September 2024.
  33. (en) "Economically Active Population Survey. Second Quarter 2024". Nasionale Statistiekinstituut. Besoek op 16 September 2024.
  34. (en) "Expansión / Unemployment, youth total (% of total labor force ages 15-24) (national estimate) - Spain".
  35. (en) Lauren A. Benton (1990). Invisible Factories: The Informal Economy and Industrial Development in Spain. SUNY Press.
  36. (en) Roberto A. Ferdman (16 Julie 2013). "Spain's Black Market Economy Is Worth 20% of Its GDP: One million Spanish people have jobs in the underground economy". The Atlantic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 September 2017. Besoek op 11 September 2017.
  37. (en) Angel Alañón; M. Gómez-Antonio (2005). Estimating the size of the shadow economy in Spain: a structural model with latent variables. Vol. 37 (9 uitg.). Applies Economics. p. 1011–1025.
  38. (en) "OECD report for 2006" (PDF). OESO. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 19 Augustus 2008. Besoek op 19 Augustus 2008.
  39. (ca) "L'economia submergida a Espanya representa el 21,5% del PIB". El Periódico de Catalunya. 1 Junie 2011. Besoek op 17 September 2024.
  40. (en) "A good bet?". The Economist. 30 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Mei 2009. Besoek op 4 Mei 2009.
  41. (en) "Spain's Iberdrola signs investment accord with Gulf group Taqa". Forbes. 25 Mei 2008. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Junie 2010. Besoek op 7 Junie 2020.
  42. (en) "Big in America?". The Economist. 8 April 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 12 April 2009. Besoek op 12 April 2009.
  43. 43,0 43,1 (en) "Spain is the 2nd largest automaker in Europe and the 8th largest in the world". ICEX-Invest in Spain. 22 Julie 2024.
  44. (en) "Car Production by Country 2024". worldpopulationreview.com. Besoek op 26 Maart 2024.
  45. (en) Emma Middleton (11 Desember 2024). "How will the 2030 World Cup work?". BBC. Besoek op 12 Desember 2024.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
Algemeen

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]