Gaan na inhoud

Jag

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Jag
aktiwiteit
Subklas vanaktiwiteitWysig
Onderdeel vanprimitiewe stamgemeenskapWysig
Opgevolg deurslagting, EetWysig
Begindatum1800000 years BCE, 200000 years BCEWysig
Deelnemerdier, dierWysig
Bestudeer deurjagmanskap, bosbou wetenskapWysig
BeskermheiligeSaint Giles, Saint Eustace, HubertusWysig
Beoefen deurjagterWysig
Gebruikejagwapen, diere vangWysig

Jag verwys na die aktiwiteit waarin diere gesoek en uiteindelik doodgemaak word. Die rede waarom hierdie aktiwiteit geskied is óf 'n behoefte na kos, óf vir sport, óf om dieregetalle te beheer. Diere wat só gejag word deur mense, word gewoonlik wild genoem.

In die oertyd was jag vir die mens lewensbelangrik omdat dit naas die versamel van veldkos, die enigste manier was om voedsel te bekom. Met verloop van tyd, en veral sedert die Middeleeue, het hierdie manier van voedselverkryging stadig begin verdwyn en het jag grotendeels 'n sportsoort geword. Aanvanklik het slegs die adel ter wille van ontspanning gejag en vir dié doel alle jagregte vir hulself voorbehou. Tans word jag in feitlik alle lande deur die owerhede beheer, wat poog om die aantal jagters en die wildstapel deur middel van lisensies en jagregulasies te beheer.

Tog is daar steeds volke wie se bestaan hoofsaaklik van jag en veldkos afhanklik is. Hierdie volke bewoon die onherbergsaamste gebiede van die wêreld en daarom bestaan daar geen noukeurige gegewens oor hulle lewenswyse nie. Jag het in Suid-Afrika net soos in ander lande deur 'n aantal fases gegaan. Aanvanklik het die inboorlinge met primitiewe wapens en die Blanke setlaars met gewere ter wille van voedsel en veiligheid gejag. Die nuus van die land se wildrykdom het oorsese jagters egter na die land laat stroom, en die verbetering in vuurwapens het die Boere ook meer laat jag as wat nodig was. Wildbewaringswette het reeds in die middel van die 19e eeu nodig geword, en Suid-Afrika se wildstapel word vandag met 'n aantal streng regulasies van owerheidsweë beskerm.

Algemeen

[wysig | wysig bron]

Jag was oorspronklik 'n suiwer ekonomiese bedrywigheid wat saam met die versamel van plantaardige voedsel die oudste manier is waarop die mens homself aan die lewe gehou het. Gevaarlike diere moes boonop ook dikwels as beskermingsmaatreël gejag word. Die oudste vorm van jag word vandag nog by die sogenaamde natuurvolke soos die Eskimo's, die Indiane van Suid-Amerika, die Rooihuide van Noord-Amerika, die pigmeë en Boesmans van Afrika en sommige Asiatiese volke aangetref.

Hulle jag ter wille van vleis, asook huide en velle, wat vir klerasie en behuising nodig is, ivoor, horings en been vir die vervaardiging van werktuie en wapens, en tande en vere vir versieringsdoeleindes. In die moderne samelewings word oorblyfsels van hierdie jagvorm nog in pelsjasse, handtasse van krokodil- of slangleer en vere vir hoede aangetref. In die vroegste tye is dieselfde wapens vir jag gebruik as die waarmee geveg is, naamlik knuppels en boemerangs. Spesialisasie in jagwapens het egter gou ingetree en honderde verskillende soorte pyle en boë met punte van been, horing of harde hout (wat soms met gif besmeer is), dolke van klip, been, bamboes en yster, spiese, slingers, blaaspypies en talle ander toerusting is ontwikkel.

'n Goeie voorbeeld van hierdie spesialisasie is 'n pyl met 'n afgeplatte, knotsvormige punt waarmee die Papoeas van Nieu-Guinee en Melanesië paradysvoëls geskiet het om te voorkom dat die pragtige verekleed, wat as versiering by danskostuums gebruik is, met bloed bevlek word. Benewens om van wapens gebruik te maak, is ander jagmetodes ook ingespan, soos byvoorbeeld vangkuile, nette, strikke en valle. In die Middeleeue het jag toenemend 'n sportsoort geword waarmee die adelstand hom in vredestyd feitlik daagliks besig gehou het. Jag het toe baie hoë aansien geniet. Die adellikes was so suinig met hul wildstapels dat ondergeskiktes verbied is om te jag. 'n Oortreder van die verbod is swaar gestraf - soms selfs met die dood.

Later in die Middeleeue is die jagtersinstink van sommige diere soos honde, roofvoëls en jagluiperds by jagtogte gebruik. Dryfjagte te perd om bisons te vang, is toe reeds deur die Noord-Amerikaanse Rooihuide uitgevoer. Teenswoordig word jag in die ontwikkelde lande feitlik uitsluitlik as sport en ontspanning beoefen, maar ook om wildstapels te beheer deur oorbevolking te voorkom. Hoofsaaklik swak-ontwikkelde diere word uitgeskiet. Dit is egter steeds noodsaaklik om skadelike diere dood te maak.

Illustrasie uit die Hertog de Berry se getyeboek (Frankryk, 15de eeu)

Westerse jaggeskiedenis

[wysig | wysig bron]

Nomadestamme het tot in die Neolitikum (ca. 6000 tot 2000 v.C.) in Europa gewoon en hoofsaaklik van jag gelewe. In hierdie tydperk het dele van die bevolking hul egter al op 'n vaste plek gevestig om voedsel te verbou, en jag het 'n minder belangrike rol as voorheen gespeel. Gaius Julius Caesar (100-44 v.C.) het byvoorbeeld in sy De bello Gallieo geskryf dat die dier vir die Germane nog baie belangrik was. Caesar het daarop gewys dat daar in die destydse bosryke Wes-Europa nog rendiere, elande en oerosse was. Die diere wat deur die Germane met spiese en valstrikke gevang is, het reeds in die Middeleeue nie meer voorgekom nie. Die Germane het toe waarskynlik ook reeds dryfjagte met honde uitgevoer. Hierdie jagvorm het sy oorsprong in Gallië (min of meer die huidige Frankryk) gehad. Kleiner wildsoorte en voëls is met 'n pyl en boog gejag. Die Romeinse oorheersing het die Wes-Europese jagtegnieke nie beïnvloed nie. Veranderings op dié gebied het in die Middeleeue voorgekom toe jag reeds tot die elitegroepe beperk was, en die laere stand verbied is om te jag.

Middeleeue

[wysig | wysig bron]

Reeds tydens die bewind van keiser Karel die Grote (768-814) was jag al 'n belangrike tydverdryf van die hoër stand. Die keiser het groot stukke bosryke grond opsy laat sit waar slegs hy en 'n klein groepie uitverkorenes mog jag. Daar het hulle dryfjagte met honde asook valkejagte, wat sedert die 4e eeu gebruiklik geword het, uitgevoer. 'n Ander vorm was die sogenaamde ingeslote jag, waar die wild deur 'n kleiner wordende kring jagters vasgetrek is.

Die jagvorm was veral na 900 in die Duitse gebiede baie gewild, terwyl die dryfjag met honde in Frankryk steeds die gewildste was. Tot diep in die Middeleeue was jag oor die algemeen 'n aksie net vir mans. Na die eerste kruistogte in die 11e en 12e eeu het die jag met voëls soos vaIke, sperwers en hawikke al wyer in gebruik geraak. Hierdie vorm, wat uit Asië en Noord-Afrika afkomstig was, het hom tot die deelname van die edelvroue geleen, en jagpartye het 'n onontbeerlike deel van die elite se feeste geword.

Jag het ook toenemend 'n sportsoort geword waarby die klem meer op vermaak as op voedselvoorsiening geval het. In die 14e eeu is daar selfs handboeke oor die jagsport geskryf wat met prentjies van diere en jagtegnieke versier was. Sedert die 15e eeu is vuurwapens by dryfjagte gebruik. Tydens die regering van Lodewyk XV (1715- 1774) het sluipjag, waarvoor die koning baie lief was, mode geword. Hierby moes die jagters, wat dikwels gekamoefleer was, die wild tot op skootafstand nader. Die Franse jagmetodes was in die 17e en 18e eeu toonaangewend vir die hele Wes-Europa.

Nadele

[wysig | wysig bron]

Die adel se jagliefhebbery is ten koste van die boere bedryf. In Engeland het Willem die Veroweraar (1066- 1087) se opvolgers die boere verjaag en sulke groot stukke landbougrond laat ontruim om jagterreine aan te lê. Die Franse koning Lodewyk XI (1461 - 1483) het die jagreg in die hele grondgebied vir homself en sy naaste familie en vriende voorbehou. Dit het veroorsaak dat die wildstapel in so 'n mate toegeneem het dat dit 'n plaag vir die boere geword het. Hutlanderye was nie omhein nie en die diere het groot skade aan die oeste berokken. Daarby was die boere ook aan die gevaar wat die groeiende aantal wolwe ingehou het, blootgestel. As hulle die diere self sou doodmaak, het hulle gevaar geloop om weens oortreding van die jagwet vervolg te word.

19e eeu

[wysig | wysig bron]

Sedert die 19e eeu is die jagsport in die Weste al hoe minder intensief beoefen. Die wild het skaarser geword, as gevolg van onder meer die sterk bevolkingstoename. Veral grootwild het al hoe skaarser geword. Die adelstand het sy voorregte, en dikwels ook sy rykdomme, verloor, wat meegebring het dat die jagtradisie nie meer op dieselfde skaal as in die Middeleeue voortgesit kon word nie. Daarby het die regerings steeds strenger bepalings aan jag gekoppel. Deesdae is lisensies feitlik oral in die Weste 'n vereiste.

Jagtersvolke

[wysig | wysig bron]
Boesmanjagter

Die term jagtersvolke verwys in die kulturele antropologie na groepe met 'n selfstandige kultuur wat heeltemal van jag en die versamel van veldkos afhanklik is, en wat geen akkerbou of veeteelt beoefen nie. Hoewel die jag op grootwild ʼn belangrike deel van hul lewens vorm, versamel die meeste jagtersvolke ook plantaardige voedsel en ander kos soos eiers, larwes en vis. Daarom is dit beter om na jagters en versamelaars te verwys. Vroeër is hierdie volke ook dikwels "natuurvolke" genoem. Daarmee is bedoel dat hulle nader aan die natuur sou gelewe het as meer beskaafde samelewings wat "kultuurvolke" genoem is. Jagters en versamelaars het wel 'n kultuur, en moet net soos alle ander mense leer hoe om sosiaal reg op te tree en hoe om voedsel te bekom. Die bestaan van jagters en versamelaars is wel volkome verweef met die natuurlike prosesse in hul onmiddellike omgewing, waarin hulle selde ingryp maar wat 'n groot invloed op hul sosiale lewe en hul godsdiens het.

Oorsprong van jag

[wysig | wysig bron]

Daar bestaan enkele gegewens wat daarop dui dat alle mense tot sowat 10 000 jaar gelede jagters en versamelaars was. Gedurende die 2 tot 3 miljoen jaar van die mens se bestaan het hy homself van gereedskap voorsien en hom aangepas om hom in die uiteenlopendste omstandighede te kan handhaaf (Eskimo's in uiterste koue, Ethiopiërs en pigmeë in kwaai hitte). As die tydperk waarin die mens op aarde bestaan, aan een uur gelykgestel word, dan was hy vir feitlik 56 minute van daardie uur jagter en versamelaar.

Volgens 'n ander raming was sowat 90% van alle mense wat tot nou toe gelewe het, jagters en versamelaars. Hierteenoor vorm huidige ramings dat nog slegs 'n paar honderdduisend mense lewe wat tot die een of ander jagtersvolk behoort, 'n skerp kontras. Hierdie mense woon boonop verspreid oor die hele wêreld, in die meeste gevalle in gebiede wat vir ander mense (tot vandag toe) onaantreklik is, naamlik halfwoestyne, poolgebiede en tropiese oerwoude.

Die vraag bestaan hoe lank hulle nog sal voortbestaan, want in die laaste paar eeue het talle jagterskulture verdwyn - veral sedert Europeërs hul jaggebiede binnegedring en oorgeneem het. Oor sommige jagterskulture is deeglike navorsing gedoen, maar oor andere is min of niks bekend nie. Dit is trouens nie eens moontlik om 'n volledige lys van alle bestaande jagtersvolke op te stel nie.

Kenmerke

[wysig | wysig bron]

'n Opvallende kenmerk is dat alle gebiede waar jagterskulture aangetref word, baie yl bevolk is: een inwoner per km2 is eerder die reël as die uitsondering. Hierdie verhouding word ook min of meer in gebiede waar daar nog volop wild is, gehandhaaf. Die belangrikste uitsondering is gemeenskappe wat hulle aan visryke waters gevestig het, soos byvoorbeeld die Rooihuide langs die noordweskus van Noord-Amerika. Hulle woon nie net in groot dorpe nie, maar het ook 'n hoogs ontwikkelde kultuur. Oor die algemeen is jagtersvolke daarvoor bekend dat hulle ʼn nomadiese lewe lei. Sommige trek elke dag na 'n ander standplaas, ander trek maandeliks of kwartaalliks, soos byvoorbeeld die Swartvoet-Rooihuide, terwyl die Eskimo's in Kanada elke twee jaar verhuis. Die groepe is meestal baie klein (25 tot 50 mense) en sonder erflike leierskap. Gesag berus gewoonlik by mense wat byvoorbeeld vanweë hul jagvernuf of hul wysheid bo die ander uitstaan. Die groepe bestaan nie noodwendig uit vaste lede nie; waar nodig, kan die samestelling daarvan verander word. Die taakverdeling binne die groep geskied egter altyd volgens 'n vaste patroon. Gewoonlik jag die mans en die vroue versorg die huishouding. Dit is ook gewoonlik die vroue wat veldkos moet versamel. Die hele groep het gewoonlik die reg om te jag, maar elke groep moet binne 'n bepaalde afgebakende gebied bly. As die grense van die jaggebied oorskry word, het naburige groepe die reg om 'n deel van die buit op te eis en selfs stamoorloë kan plaasvind. Die voorbereidings vir 'n jag tog bestaan uit ambagtelike en magiesreligieuse rituele. Die wapens moet in orde en die weer gunstig wees, terwyl die nodige religieuse rites ook voltrek moet word. Die jagdans is hier baie belangrik, en die prooidier word gewoonlik uitgebeeld en nageboots. Bekendejagdanseis onder meer die skilpad dans op die Andaman- en die Samoa-eilande, die bisondans van die Hopi-Rooihuide en die Mandane in Dakota, die hottentotsgotdans van die Boesmans, die beerdans van die Sioux-Rooihuide in Noord-Amerika en die sogenaamde "apedans" van Bali. Behalwe 'n magiese betekenis is daar beslis ook sielkundige faktore aan die jagdans verbonde soos die opwek van geesdrif en selfvertroue onder die jagters. Dit is dan byna ook vanselfsprekend dat die meeste jagtersvolke se belangrikste god "heer of meesteres van die diere" genoem word.

Voedselkwessies

[wysig | wysig bron]

Die vraag word dikwels gevra of die meeste jagtersvolke verdwyn het omdat jag en versamel nie voldoende bestaansmiddele opgelewer het nie. Meestal was dit egter nie die geval nie. Dit blyk byvoorbeeld dat die Boesmans in normale omstandighede met sowat vier uur se werk per dag genoeg kos bymekaar kan maak. Daarenteen lyk dit of hongersnood en epidemies veel eerder by die agrariese bevolking, wat digby mekaar woon, of by ondervoede stedelinge in arm lande, voorkom. Verskeie jagtersvolke hou hul bevolkingsdigtheid laag deur, wanneer die groep te groot word, kinders dood te maak en siekes aan hul eie lot oor te laat.

Hierdie praktyke word deur beskaafde volke as barbaars beskou, maar dit dra daartoe by dat daar selde sprake van hongersnood is. Landbouvolke probeer in soortgelyke gevalle om die landbou intensiewer te bedryf sodat meer mense gevoed kan word. Op hierdie grondslag kan hegter en meer georganiseerde samelewingstrukture gevestig word. Wanneer jagtersvolke met landbougeoriënteerde samelewings in aanraking gekom het, het dit dikwels gebeur dat die jagterskultuur geassimileer is of heeltemal verdwyn het.

Jagsport

[wysig | wysig bron]

Oor die vraag hoekom 'n mens jag, bestaan verskeie menings. Sosiale motiewe speel dikwels 'n rol: oupa en pa het gejag, die bure jag vriende jag. In Noord- en Wes-Europa was dit van oudsher die hoër stand wat gejag het, en vir mense wat skielik sosiaal vooruitgegaan het, kan dit dus 'n vorm van snobisme wees. Daar bestaan ook meningsverskil oor die kwessie van sielkundige motiewe om te jag, soos die begeerte om dood te maak, In vertoning van mag of om van aggressie ontslae te raak.

Die mens se jag patrone het met verloop van tyd sekere veranderings ondergaan. Van jag as 'n sportsoort was daar eers sprake toe kultuurvolke van veral landbouprodukte begin leef het en nie meer op jag as die vernaamste bron van voedsel staatgemaak het nie. Veral varste en krygsmanne het as tydverdryf gejag en hulle is terselfdertyd met die gebruik van wapens vertroud gemaak. Daarby het jag ook hul uithouvermoë en moed getoets. Die ontwikkeling van verskeie rituele en edelmoedige handelings wat vandag nog deel van jag is, kan hieruit verklaar word. Dit is nie soseer die blote doodmaak van wild wat die jagter bevrediging gee nie, maar die heerskappy van die mens oor die natuur.

Die jagter lê homself beperkinge op om die dier 'n kans te gee om te oorleef. Hierdie sienswyse omtrent jag word verder gesteun deur die verhouding wat in die Middeleeue tussen ridderlikheid, jagkuns en flinkheid bestaan het. Ander meen egter dat jag ontstaan het vanweë 'n aangebore jaginstink wat mettertyd by die mens ontwikkel het. Hoewel sommige mense wel genot daaruit put om diere dood te maak, is dit egter nie noodwendig 'n bewys vir die bestaan van 'n jaginstink nie. 'n Ander rede waarom gejag word, lê moontlik in die uitoefening van mag oor die lewe van 'n dier. Deur hom dood te maak, word mag oor hom uitgeoefen.

Jagkulture

[wysig | wysig bron]

Die jagsport het in verskillende lande op uiteenlopende maniere ontwikkel. Faktore wat hierby 'n rol speel, is die aantal jagters, die beperktheid van natuurlike hulpbronne en benaderings oor natuurbeskerming. In die Verenigde State van Amerika is daar 'n groot aantal jagters en hoofsaaklik grootwild word gejag. Die jagkode het daar minder as in Wes-Europa ontwikkel, maar beter as in Suid-Europa. In Engeland stel die jagters ʼn voorbeeld van hoe 'n mens sorgvuldige natuurbeheer kan toepas en steeds op bevredigende wyse kan jag. Daar word veral op voëls, waarvan 'n groot aantal trekvoëls is, jag gemaak.

In Noord- en Sentraal-Europa word ook sorgvuldige natuurbeheer toegepas. Die wild waarop die meeste jag gemaak word, is herte, wildevarke en reebokke. Buite die jagseisoen word hierdie diere goed beskerm en in die meeste lande in hierdie gebied moet voornemende jagters ook eers 'n jageksamen aflê. In Suid-Europa is die situasie egter heeltemal anders. In Italië word jag veral as volksvermaak beoefen. Die aantal jagters is ontstellend hoog en die wildstapel besonder laag. Groot getalle trekvoëls, selfs die klein soorte wat die Italianers as 'n delikatesse beskou, word geskiet.

In Oos-Europa word onder streng staatstoesig gejag en die wildstapel bly gevolglik hoog. In Siberië is veral die jag vir pels van ekonomiese belang, en in bepaalde steppegebiede ook die jag vir vleis. In Afrika is safari's en grootwildjag baie gewild. Ryk Westerse toeriste skroom nie om groot bedrae geld te betaal om 'n leeu, renoster, buffel en dies meer te kan skiet nie. Die wildstapel neem in baie lande vinnig af, onder meer omdat meer grond vir akkerbou nodig is.

Jagmetodes

[wysig | wysig bron]

Die belangrikste jagmetodes is die volgende:

- Die sluipjag, waar die jagter sy wild bekruip of vanuit 'n skuiling daarop vuur. Jaghonde kan gebruik word om die wild op te spoor of om die prooi te gaan haal.

- Die dryfjag, waar 'n trop honde die spoor van die wild volg terwyl hulle aanhoudend blaf. Die jagters volg die honde te perd. In 'n moderne variasie van hierdie metode volg die honde 'n sak vol vosmis wat deur 'n ruiter gesleep word, en die jagters volg die honde met 'n wilde rit oor 'n veld met kunsmatige hindernisse sonder om ooit 'n dier te sien of 'n skoot te skiet.

- Die gewone dryfjag, waar 'n aantal helpers (drywers) die wild in die rigting van die verskuilde jagter jaag.

- Die valkejag, waar roofvoëls soos valke, hawike en arende wat spesiaal afgerig is, gebruik word om hase, konyne en voëls te vang. Die voël (met 'n mus oor die kop) word op die arm van die valkenier (sy afrigter) saamgedra. Sodra die honde die voëls opgejaag het, word die mus afgehaal. Die voël vang die prooi en word daarna met 'n bondel vere na die valkenier teruggelok.

Etiese jagkodes

[wysig | wysig bron]

Die etiese jagkodes of vorms van jag verskil van jagkultuur tot jagkultuur. Wat in Italië byvoorbeeld as beskaafde jagmetodes beskou word, sal in ander lande glad nie aanvaar word nie. Dit is nie net jagters wat die etiese kodes neerlê nie, maar ook die nie-jagters. Die basiese en algemeen aanvaarde beginsels van etiese jag is met verloop van tyd in alle lande wetlik neergelê. Ook in jagliteratuur word baie aandag aan etiese jaggedrag bestee.

Etiese jagkodes behels onder meer die volgende:

- 'n Vinnige dood. 'n Goed gemikte skoot is aanvaarbaarder as die langdurige pyn en lyding wat 'n dier byvoorbeeld in 'n valstrik deurmaak. 'n Etiese jagter sal moreel verplig voel om altyd 'n swaar haelkorrelsoort te kies. Ligte hael (‘n groot aantal klein korrels wat met 'n groter hoek versprei word) bied natuurlik 'n groter trefkans, maar ook 'n groter moontlikheid dat die dier net verwond sal word.) Om hierdie rede word grootwild slegs met koeëls geskiet. In Amerika word daar nog baie met 'n pyl en boog gejag. Die beperkings wat die jagter homself daarmee oplê, kan as 'n sportiewe element beskou word omdat hierdie wapen die dier 'n baie groter wegkomkans bied. Die nadeel- dat die dier dikwels net verwond word – het daartoe gelei dat jag met 'n pyl en boog in baie lande verbied is.

- 'n Onverwagte dood. 'n Dier wat met 'n skoot uit 'n hinderlaag getref word, vrek dikwels sonder dat hy enige angs ondervind. Dit is nie die geval by jagtogte waar daar van honde of drywers gebruik gemaak word nie. In lande waar dryfjagte nog toegelaat word, maak plaaslike dierebeskermingsverenigings dan ook meestal daarteen beswaar. In Engeland word voortdurend beswaar gemaak teen vosjag met behulp van honde.

- 'n Sportiewe element. Die sportiewe element van jag behels dat net die kundige jagter geleentheid moet kry om 'n prooi dood te maak. Die neerskiet van vinnig vlieënde voëls beteken dat die jagter baie vernuftig moet wees, en daarom word dit eties aanvaar. Wanneer dieselfde voëls egter geskiet word wanneer hulle stil in 'n boom sit, is dit onsportief omdat dit min vaardigheid verg. Wetlike bepalings kan in hierdie geval vanselfsprekend min uitrig, en slegs die gewete van die jagter sal sy optrede bepaal.

Vorme van jag wat baie teenstand van diereliefhebbers kry, is dié waar wild as't ware op 'n skinkbord aangebied word. Voorbeelde hiervan is die opjaag van fisante langs 'n jaggeselskap wat rustig op stoele sit en wag, die jag op sekere gaselle vanuit vierwielaangedrewe voertuie, of die jag op ysbere vanuit vliegtuie. Laasgenoemde twee vorme kan trouens nouliks as jag beskou word, maar eerder as slagtings.

- Behoud van die wildstapel. Wanneer 'n jagter in sy eie gebied jag, byvoorbeeld op sy eie plaas, is dit in sy eie belang om toe te sien dat die wildstapel min of meer bestendig bly. Dit is egter nie die geval wanneer hy op openbare grond jag of op rondtrekkende diere soos trekvoëls jag maak nie. In sulke gevalle word die wildstapels beheer deur, met die toestemming van die owerhede, 'n beperkte aantal diere van 'n bepaalde soort per seisoen te jag. Veral trekvoëls lewer probleme op. In wildarm lande is hulle feitlik die enigste diere wat in groot getalle gejag mag word.

Die jagters het geen regstreekse betrokkenheid by die voëls nie omdat hulle ver daarvandaan broei. Dikwels word ook geredeneer dat as hulle die voëls nie skiet nie, die buurman dit wel sal doen. Die gevolg is dat grootskaalse slagtings onder trekvoëls plaasvind. Dit wek groot weerstand in die lande waar die voëls broei en beskerm word. 'n Ander belangrike aspek by die behoud van die wildstapel is dat dit teen die meeste jagters se kodes indruis om 'n dragtige wyfie te skiet. Hierdeur word verseker dat die wildstapel natuurlik aangevul kan word.

Jag en natuurbeskerming

[wysig | wysig bron]

Afgesien van alle etiese probleme met betrekking tot jag is daar 'n duidelike verband tussen jag en natuurbeskerming. Soms wil dit voorkom of die jagter die vrugte van die natuurbeskermer se werk pluk. Daar was al gevalle waar jagters 'n kordon rondom 'n beskermde gebied gevorm en elke dier wat hom buite die grens gewaag het, doodgeskiet het. 'n Ander negatiewe aspek in die verhouding tussen jagter en natuurbeskermer is die skiet van te groot getalle diere. Tog hoef jag as sodanig geen gevaar vir wildstapels in te hou nie. Die natuur produseer immers 'n oorvloed jong diere en in normale omstandighede is daar nie voldoende lewensmoontlikhede vir alle diere wat gebore word nie.

Deur natuurlike vrekte moet 'n deel van die wildstapel in elk geval verdwyn sodat die oorblywendes genoeg kans op oorlewing het. In die natuur vind hierdie kontrole plaas deur vrektes weens siektes en deur roofdiere. Die mens kan nou as beherende faktor van die wildstapel optree deur die surplusdiere uit te skiet. Deur die wildstapel gereeld na te gaan, kan hy presies bepaal hoeveel diere geskiet kan word.

Dit is nie net in die belang van die jagter dat hierby gehou word nie maar ook in die belang van natuurbeskerming, omdat daar andersins in byvoorbeeld 'n wildpark 'n oorbevolking van beskermde wildsoorte kan ontstaan, wat die ekologiese stelsel kan versteur. Dit is reeds in talle lande die gebruik om die grootwildgetalle noukeurig dop te hou en slegs siek en swak diere te skiet. Ook die wat vir voortplanting oorbodig is, soos ramme en bulle van sekere soorte waarby slegs een mannetjie die wyfies dek, word doodgeskiet.

Deur hierdie maatreël word die wildstapel ook gesond gehou. Roofdiere word ook nie meer voor die voet geskiet nie, aangesien selfs die gehardste jagters begin beset dat roofdiere nie slegs skadelik is vir die wildstapel nie. Roofdiere sorg byvoorbeeld vir 'n gesonde wildstapel omdat hulle meestal net swak of siek diere vang. Die werklik positiewe invloed van jag op natuurbeskerming lê daarin dat die meeste jagters hul jagterreine goed versorg en in stand hou.

Daarmee verrig hulle werk wat andersins net met finansiële steun gedoen sou kon word. Sonder jagters sou meer natuurlike terreine waarskynlik aan ander ontspanningsgeriewe afgestaan gewees het. Daarby is die jagter, wat tog in die meeste gevalle ook 'n natuurliefhebber is, ook 'n aktiewe bestryder van omgewingsbesoedeling. Elke verbetering aan die omgewing is vir hom regstreeks tot voordeel.

Jag in Suid-Afrika

[wysig | wysig bron]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die eerste mense wat in Suider-Afrika gejag het, was inboorlinge wat reeds in die Steentydperk jagters was. Hul wapens was aanvanklik groot klippe, later knuppels van been en nog later spiese, assegaaie en 'n pyl en boog met 'n verskeidenheid van punte. Hierdie mense het ter wille van hul voortbestaan gejag, naamlik om vleis en velle te bekom en om gevaarlike diere af te weer.

Die australopithesene ("suidelike ape") was pre-menslike ape wat tussen 4,5 miljoen jaar en 1,5 miljoen jaar gelede op die grasvlaktes en in savanne-gebiede van Oos- en Suider-Afrika geleef het. Hulle het regop geloop omdat hul dye langer was as die van ape, terwyl hul arms korter was en hul bekken-skelet geskik was vir 'n regop liggaaamsposisie. Verskillende variasies van die Australopithecus-genus was Australopithecus robustus en Australopithecus africanus. Die vroegste australopithesene het waarskynlik nog gedeeltelik in bome gewoon. Hulle het op eenvoudige wyse in die veld rondgeswerf op soek na plantaardige voedsel.

Die vroegste ware mense was jagters en versamelaars wat die vermoë gehad het om klipwerktuie te vervaardig. Die eerste mense waarvan fossieloorblyfsels gevind is, staan bekend as Homo habilis, of "nutsman", wat in die Vroeë Steentydperk tussen sowat 2,2 miljoen en 1,8 miljoen jaar gelede in Oos- en Suider-Afrika geleef het. Hulle was eenvoudige jagters en versamelaars van veldkos, maar was fisiek en intellektueel in staat om 'n eenvoudige klipwerktuigtegnologie aan te wend vir die vervaardiging van klipwerktuie. Die klipgereedskap van Homo habilis was ruwe, kapper-agtige klipwerktuie en klipskilfers, bekend as die Oldupai-industrie omdat van hierdie werktuie eerste by Oldupai (voorheen bekend as Olduvai) in Tanzanië gevind is.

Belangrike fossieloorblyfsels van die australopithesene en die eerste mense, asook van hul handgemaakte werktuie, is in Suid-Afrika gevind. Wetenskaplikes het afgekom op gefossileerde skeletgedeeltes van die australopithesene en klipwerktuie van 4,5 miljoen tot 1 miljoen jaar gelede by die wêrelderfenisterreine van Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai, ook bekend as die Wieg van die Mensdom (dit sluit die Taungskedel-fossielterrein en Makapanvallei in). Die skeletgedeeltes is onder meer van Homo habilis en Australopithecus sediba, wat beskik het oor menslike fisieke kenmerke soos hand-, bekken- en voetbene en 1,9 miljoen jaar gelede by Sterkfontein geleef het.

Homo erectus, of "regop mens", was jagters en versamelaars wat gedurende die Vroë Steentydperk tussen 2,2 miljoen en 1,9 miljoen jaar gelede in groot dele van Afrika voorgekom het en mettertyd na Suid-Europa, die Nabye-Ooste en Asië versprei het. Baie van hul werktuie is in Suid-Afrika gevind, bv. aan die Kaapse suidkus en in gruislae van oerrivieroewers en waterpanne in die omgewing van die Oranje- en Vaalrivier. Hulle het klipwerktuie vervaardig wat bekend is as die Acheul-industrie. Die werktuie is tydens vervaardiging en gebruik met die hand vasgehou. Verskillende soorte klipgereedskap wat in hierdie tyd begin ontwikkel het, was handbyle of vuisklippe en rywe klipskilfers wat as messe en skrapers gebruik is.

Homo sapiens, of "wyse mense", het tussen sowat 500 000 jaar en 100 000 jaar gelede verspreid in Afrika, Suid-Europa en Asië geleef. Hulle was fisiek en intellektueel in 'n groot mate soortgelyk aan die moderne mens. Hulle het gespesialiseerde klipwerktuigtipes soos meslemme, skrapers en spiespunte vervaardig. 'n Voorbeeld van die argaiese Homo sapiens is die fossielskedelgedeeltes van so 'n mens wat sowat 260 000 jaar gelede in die omgewing van die hedendaagse Florisbad naby Bloemfontein geleef het.

Homo sapiens sapiens het tussen ongeveer 150 000 en 100 000 jaar gelede uit die argaiese Homo sapiens ontwikkel en was reeds fisiek en intellektueel soortgelyk aan die moderne mens. Hulle was Steentydjagters en -versamelaars in Afrika, Europa en Asië. Van daar het hul afstammelinge geleidelik ook na die Amerikas, Australië en Tasmanië versprei.

Gedurende die Laat Steentydperk in Suid-Afrika, wat van sowat 20 000 jaar gelede tot so onlangs as ongeveer 200 jaar gelede geduur het, het nomadiese, gespesialiseerde jagters en versamelaars oral in Suider-Afrika voorgekom en 'n verskeidenheid gespesialiseerde klipwerktuie vir verskillende doeleindes gebruik. Hulle was die voorouers van die Khoisan van Suider-Afrika.

Vuurwapens het saam met Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gekom. Ook hierdie eerste blankes het vir hul eie voortbestaan gejag. Een van die heel oudste jagbepalings van die land is reeds in 1656 deur Van Riebeeck uitgevaardig. Daarvolgens sou die VOC belonings betaal vir elke leeu, hiëna en luiperd wat geskiet word. Die eerste gewere wat gebruik is, was die sogenaamde snaphane (pangewere) met musketkoeëls. Die wapen van die grensboere, wat ook die simbool van die "boer met sy roer" geskep het, het 'n groot, lang loop en swaar laaistok gehad. Die Voortrekkers het veral vuursteengewere gebruik. Die vernaamste doel van jag was steeds voedselverkryging en selfbeskerming.

Die nuus van Suid-Afrika se wildrykdom, veral die getalle en die verskeidenheid van grootwild, het die land vinnig die mekka van sportjagters laat word. Die eerste bekende oorsese jagter was kaptein Cornwallis Harris, wat in 1836 na Suid-Afrika gekom het. Saam met hom het hy die beroemde sterloopvuursteengeweer gebring wat die Voortrekkers verbaas het met sy groot trefafstand. Hierdie geweer het groot verwoesting onder wildstapels aangerig. Al hoe meer buitelandse jagters het na Suid-Afrika gekom, en die Boere, wat feitlik almal goeie skuts was, het ook meer diere begin skiet as wat nodig was. Wildverliese was so hoog dat dit reeds in 1846 vir die Ohrigstadse Republiek nodig geword het om die "moedswillige of onverskillige vernieling van bruikbare wild" wetlik te verbied. Oortredings was met tussen 10 en 500 riksdaalders strafbaar. Die eerste wildwet van die Zuid-Afrikaansche Republiek is in 1858 goedgekeur as 'n maatreël teen die wildskaarste wat toe al weens roekelose jag ontstaan het.

Gewere met al hoe groter kalibers het egter in gebruik geraak. Die heel grootste kaliber het as die Boere-olifantgeweer bekend gestaan. Dit was ʼn besonder kragtige geweer waarmee jagters olifante redelik maklik kon plattrek. Een van die beroemdste jagters van Afrika, F.C. Selous, het byvoorbeeld binne 3 seisoene 78 olifante met so 'n geweer van kant gemaak.

Suid-Afrika se grootste jag

[wysig | wysig bron]

Wat as die grootste jag in die geskiedenis van Suid-Afrika beskryf word, het in 1860 op die plaas van 'n Vrystaatse boer ter ere van prins Alfred, tweede oudste seun van koningin Victoria, plaasgevind. Hy het die Vrystaat in daardie tyd besoek. Sowat ʼn duisend Barolong-jagters moes as drywers optree en tussen 20 000 en 30 000 stuks wild, soos blouwildebeeste, Burchell-sebras, kwaggas, volstruise, blesbokke, hartbeeste en springbokke, na die skuts aanjaag.

Presies hoeveel diere daardie dag doodgeskiet is, is nie seker nie, maar na raming was die getal tussen 4 000 en 6000. Verskeie van die drywers is deur die malende wild doodgeskop of doodgetrap. Volgens ooggetuies was die jagters so bloedbesmeer dat hulle meer na slagters as na sportmanne gelyk het.

Hedendaagse jag

[wysig | wysig bron]

Suider-Afrika is ʼn baie gewilde jaggebied, en wat grootwildjag betref, waarskynlik die gewildste ter wêreld. Die verskeidenheid van skaars diere soos die witrenoster, swartwildebees, njala, eland en buffel is 'n groot aantrekkingskrag vir sowel buitelandse as binnelandse jagters. Die omstandighede waarin daar tans gejag word, verskil drasties van die van die 19e eeu. Daar is bykans geen oop vlaktes meer wat 'n jagter op die ingewing van die oomblik kan invaar nie. Hy kan ook nie meer skiet wat hy wil of soveel as wat hy wil nie, aangesien Suid-Afrika se wild baie streng beskerm word.

Die verskeidenheid van jagterreine is tot gewone plase, private wildplase, safariplase en private natuurreservate beperk. In ieder geval het die jagter 'n lisensie nodig, hetsy hy die eienaar of 'n besoeker is. Die hoeveelheid wild wat per seisoen geskiet mag word, word streng beheer. Die getal wissel van wildsoort tot wildsoort en van seisoen tot seisoen, en word onder meer deur die grootte van die bestaande troppe bepaal. Diere soos leeus, luiperds, buffels en olifante kom net in wildreservate voor.

Jagters word nie in staatsbeheerde wildparke soos die Nasionale Krugerwildtuin toegelaat nie, maar wanneer oorbevolking in private natuurreservate voorkom, word spesiale vergunnings aan jagters gegee om 'n beperkte aantal diere onder toesig van wildbewaarders te skiet. In staatsbeheerde wild parke mag net wildbewaarders die wildstapel uitdun. Elke provinsie het sy eie jagregulasies. Die jagseisoene strek normaalweg van 1 Mei tot 31 Julie. In Gauteng mag voëls gewoonlik nog tot 31 Augustus gejag word. Die mate waarin jag op diere gemaak mag word, verskil ook van provinsie tot provinsie. In sommige provinsies mag sekere diere in groter getalle geskiet word, terwyl dieselfde diere in ander provinsies net in 'n baie beperkte getal of glad nie geskiet mag word nie.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]