Hermann Scherchen
Hermann Scherchen (21 Junie 1891 – 12 Junie 1966) was 'n Duitse dirigent.
Lewe
[wysig | wysig bron]Scherchen is in Berlyn gebore. Hy was oorspronklik 'n altviolis, en het vir die Bluthner-orkes van Berlyn gespeel terwyl hy nog in sy tienerjare was. Van 1914 tot 1916 dirigeer hy in Riga, en van 1928 tot 1933 in Königsberg, waarna hy Duitsland verlaat uit protes teen die nuwe NSDAP, en in Switserland gaan werk. Saam met die filantroop Werner Reinhart het Scherchen vir baie jare 'n leidende rol gespeel in die vorming van die musieklewe van Winterthur, met talle première-uitvoerings, met die klem op kontemporêre musiek. Van 1922 tot 1950 was hy die hoofdirigent van die stadsorkes van Winterthur (vandag bekend as die Orchester Musikkollegium Winterthur).[1]
Hy het sy debuut gemaak met Arnold Schoenberg se Pierrot Lunaire. Hy was 'n groot voorstander van komponiste soos Richard Strauss, Anton Webern, Alban Berg en Edgard Varèse, en het aktief deelgeneem aan die bevordering van jonger kontemporêre komponiste soos Iannis Xenakis, Luigi Nono en Leon Schidlowsky.[2]
Hy het musiekonderrig gegee aan Karel Ančerl, Egisto Macchi, Marc Bélanger, Françoys Bernier, Anna Renfer, Frieda Belinfante en Karl Amadeus Hartmann, en het 'n byrae gemaak tot die libretto van Hartmann se opera Simplicius Simplicissimus. Hy het ook die eerste opvoering gegee van Hartmann se vroeëre werk, Miserae. Die dirigent Francis Travis was een van sy studente, en daarna vir vyf jaar Scherchen se assistentdirigent.
Scherchen is veral bekend vir sy orkestrale verwerking (en opname) van Bach se Die Kuns van die Fuga. Sy verhandeling van 1953, getiteld "Lehrbuch des Dirigierens", (Verhandeling oor Dirigeer, ISBN 3-7957-2780-4) is 'n standaardwerk. Sy opgeneemde repertorium was baie wyd, en het van Vivaldi tot Reinhold Glière gestrek.
Soos Vasily Safonov en (in sy latere jare) Leopold Stokowski, het Scherchen gewoonlik nie gebruik gemaak van 'n dirigeerstok nie.[3] Sy tegniek het dan soms probleme vir spelers veroorsaak; 'n ongeïdentifiseerde BBC Simfonieorkes fagotspeler het aan die sanger Ian Wallace vermeld dat die interpretasie van Scherchen se minuskule handbewegings is soos om 'n vlieënde muggie te probeer melk.[4] Volgens Fritz Spiegl,[5] het Scherchen hoofsaaklik by wyse van verbale instruksies gedirigeer, en sy partiture was gevul met herinnerings van wat hy op elke kritieke punt in die musiek moes sê.
Scherchen het egter nie altyd sonder die dirigeerstok gedirigeer nie. In die rolprent van sy repetisie van Bach se Die Kuns van die Fuga saam met die CBC Toronto Kamerorkes, maak hy deurgaans gebruik van 'n dirigeerstok.
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ "koelnkonzert.de". www.koelnkonzert.de. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2007.
- ↑ "Leon Schidlowsky". schidlowsky.com.
- ↑ Boulez, Pierre; John Cage (1995). Jean-Jacques Nattiez (red.). The Boulez-Cage Correspondence. Vertaal deur Robert Samuels. Cambridge University Press. p. 162. ISBN 0-521-48558-4.
- ↑ Verhaal vertel deur Wallace tydens die BBC-radiopaneelspeletjie My Music, 1993
- ↑ Spiegl, Fritz: Music Through the Looking Glass (Londen, 1984)
Bronnelys
[wysig | wysig bron]- J.S. Bach – Kuns van die Fuga. Orchestre de Radio Beromunster. Hermann Scherchen, 1949. (History-plaatetiket – Soli Deo Gloria, 204583-308. Twee CD's, 2000.)
- Beethoven – Simfonie No. 5, Opus 67. Orchestra della Radio Televisione della Svizzera Italiana (RTSI), Februarie 1965. (CD1 bevat die volledige repetisieweergawe en CD 2 die volledige konsertweergawe.) Ermitage ERM 126–2 ADD.
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]- [1] Verhandeling – Uitvoering, Tegnologie en Politiek: Hermann Scherchen se Estetika van Moderne Musiek deur Dennis Hutchison
- Aanlyn biografie by bach-cantatas.com
- Nationalphonothek, Schweizerische. "Katalog, Liste". FN (in Duits). Besoek op 21 Mei 2021.