Gaan na inhoud

Heber Curtis

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Heber Doust Curtis
Gebore 27 Junie 1872
Muskegon, Michigan
Oorlede 9 Januarie 1942 (op 69)
Ann Arbor, Michigan
Nasionaliteit Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
Vakgebied Sterrekunde
Alma mater Universiteit van Michigan

Heber Doust Curtis (Muskegon, 27 Junie 1872 – Ann Arbor, 9 Januarie 1942) was ’n Amerikaanse sterrekundige uit Michigan. Hy is veral bekend as teenstander van Harlow Shapley in die Groot Debat van 1920. Daarin het hy die standpunt teengestaan dat alle sterre en newels van die sigbare heelal deel uitmaak van die Melkweg. Soos later bewys is, is die Melkweg net een van baie miljarde sterrestelsels.

Curtis het in Detroit, Michigan, en aan die Universiteit van Michigan studeer, met veral ’n belangstelling in klassieke tale. Hy het as onderwyser in Latyn en Grieks geïnteresseerd geraak in die sterrekunde danksy ’n ou teleskoop by een van sy skole. In 1896 het hy ’n professor in wiskunde en sterrekunde geword. Hy het in 1900 as vrywilliger op ’n verduisteringsekspedisie van die Lick-sterrewag gegaan en is daarna by die Universiteit van Virginië aangestel waar hy in 1902 sy doktorsgraad behaal het.

Van 1902 af was hy by die Lick-sterrewag werksaam. As ’n waarnemer van die ruimte het hy die radiale snelheid van sterre en komete bestudeer en aan elf sonsverduisteringsekspedisies deelgeneem. Hierna het hy sy studie van newels voortgesit en al hoe meer daarvan oortuig geraak dat spiraalnewels afsonderlike sterrestelsels is.

In 1920 het hy die direkteur van die Allegheny-sterrewag van die Universiteit van Pittsburgh geword. Hier het hy aan die verbetering van instrumente gewerk en ander ontwerp en gebou. In 1930 is hy aangestel as direkteur aan die sterrewag van die Universiteit van Michigan.

Die uitbreiding van die heelal

[wysig | wysig bron]

In 1917 het Curtis en George Ritchey bekend gemaak dat hulle ’n paar supernovas ontdek het op fotografiese opnames van spiraalnewels. Omdat dit in die spiraalarms voorgekom het en nie in die sentrum van die newels nie, het hulle die opvatting dat die newels hoofsaaklik uit gas bestaan, die nek ingeslaan. Die feit dat die ontploffende sterre in die spiraalarms voorgekom het, het beteken dat dit hier om sterrestelsels gaan, en dit het nie ooreengestem met die teorie van Pierre-Simon Laplace en ander dat newels skywe gas is nie.

Curtis was ook oortuig daarvan dat die heel helder novas geen gewone novas was nie en dus nie op dieselfde manier gebruik kon word om afstande in die heelal te meet nie. Hy het die afstand van die Andromeda-newel geraam op 500 000 ligjare. Dit het nie gepas in die heelal-model van Shapley nie en die debat van 1920 kon geen uitsluitsel oor die saak gee nie. Eers in 1924 het Edwin Hubble daarin geslaag om Andromeda se afstand vas te stel en te bewys dit is wel ’n afsonderlike sterrestelsel.

Bronne

[wysig | wysig bron]