Gaan na inhoud

Wortel

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Wortelstels van die Rhizophora mangle.

Wortels is net soos stingels en blare die hooforgane van die hoër plante. In teenstelling met die stingel het die wortel nie groen blare nie en is meestal wit of geel tot bruin. Naas die opneem van water en opgeloste voedingsoute uit die grond, moet die wortel die plant in die grond anker en soms reserwevoedsel berg. Beet en geelwortels word juis vanweë hierdie laasgenoemde eienskap deur die mens gekweek. Die voedsel wat in die geelwortel geberg word, voorsien in 'n groot deel van die mens en dier se behoeftes aan vitamiene en kalorieë.

Die grootte van die wortelstelsel hang af van die behoefte van die plant en die mate waarin die omgewing hierin voorsien. Die wortelpunt bestaan net soos die punt van die stingel uit 'n weefsel (primêre meristeem), waarvan die selle voortdurend verdeel. Op die manier vind vinnige lengtegroei van die wortel plaas. Die wortelpunt word beskerm deur die wortelmussie (kaliptra), waarvan die buitenste selle slymerig is. Die groeiende wortel kan gevolglik maklik die grond binnedring. Die selle wat in die punt gevorm is, differensieer baie vinnig.

Die buitenste selle vorm die epidermis (ook risodermis), wat sy bou betref baie met dié van die stingel ooreenstem. Die selle van die epidermis beskik egter nie oor die stewige selwand van die stingelselle nie. Die epidermisselle direk agter die groeipunt het uitstulpings wat as wortelhare bekend is. Hierdie wortelhare vergroot die oppervlakte aansienlik, waardeur water en sout vinniger opgeneem word. Epidermisselle en hul wortelhare is baie dun en gevolglik kwesbaar.

Hulle lewe net 'n paar dae en moet dan deur nuwe selle vervang word, Ouer dele van die wortel beskik glad nie oor wortelhare nie, en die epidermis word hier deur 'n seltipe met stewige, verkurkte wande vervang, naamlik die eksodermis. Hierdie sellaag het veral 'n beskermende funksie. Onder die eksodermis lê 'n dik laag parenchiemselle, naamlik die sentrale korteks. Hierin word die reserwevoedsel geberg, meestal in die vorm van setmeel. Onder die sentrale korteks lê die endodermis (saam met die eksodermis deel van die korteks), wat uit een laag selle bestaan en die grens tussen die korteks en die sentrale silinder (stele) is.

Die selwande van die endodermis is sodanig verkurk dat voedingstowwe net in 'n sentripetale rigting (van buite na binne) invloei. Derhalwe kan die selle deur die lewende selinhoud beweeg. Op die manier kan die plasma 'n selekterende werking op die opgeneemde minerale en soute uitoefen. Die endodermis en sentrale silinder word weer van mekaar geskei deur die perisikel, 'n weefsel met ʼn enkele sellaag, waaruit die kurkweefsel en sywortels kan ontwikkel.

Die vervoer van water en soute word deur die houtvate van die xileem en sifvate van die floëem in die sentrale silinder behartig. Tussen die xileem en die floëem lê 'n strook kambiumselle, wat na buite xileem en na binne floëem vorm. Op hierdie manier vind sekondêre diktegroei plaas.

Wortelvorms

[wysig | wysig bron]

By die meeste plante kan daar tussen een hoofwortel en verskillende sywortels onderskei word. Die hoofwortel of penwortel groei meestal reg na onder, terwyl die sywortels hulle dikwels in ʼn horisontale rigting uitstrek. Hulle ontstaan uit die perisikel van die hoofwortel. By eensaadlobbige plante en varings sterf die hoofwortel af kort nadat die plant ontkiem en word dit vervang deur 'n aantal bywortels, wat direk uit die stingel ontstaan.

By sommige spesies kom wortelvorming ook aan blare en stingels voor. Hierdie adventiewe wortels word ook by die uitlopers van plante soos aarbeie en steggies aangetref. Naas hierdie wortelvorming kom daar ook baie vormveranderings voor as aanpassing by 'n nuwe funksie of 'n bepaalde groeiwyse. 'n Duidelike voorbeeld van 'n dergelik aangepaste wortelvorm is die beet (genus Beta) en in dieselfde mate die wortel (Daucus carota). Die wortel is baie verdik deur die berging van reserwevoedsel, en net die onderste wortels en die sywortels behou hul oorspronklike funksies. Baie plante (byvoorbeeld die dahlia) het wortelknolle, wat ook vertak kan wees en as vegetatiewe voortplantingsorgane by dergelike plante gebruik word.

In teenstelling met stingelknolle (aartappels) het die wortelknolle nooit knope (oë van ʼn aartappel) nie. Sommige bome wat in moerasagtige streke groei, is met asemhalingswortels (pneumatofore) toegerus. Die suurstofvoorsiening van die wortels is in die dieper grondlae onvoldoende, en om in die behoefte aan suurstof te voorsien, ontwikkel stewige sywortels wat na die hoërliggende suurstofryke grondlae groei of selfs heeltemal bo die grond uitsteek.

Hierdie verskynsel is in die tropiese wortelboommoerasse baie bekend. Die gewilde potplant, die brood of geraamteplant (Monstera deliciosa), vorm lugwortels aan die stingels. Die aanwesige wortelmussie en die afwesigheid van blare, knope en litte asook die bruin kleur onderskei dit duidelik van die stingel. Regte stutwortels is 'n spesiale soort lugwortel wat uit die stam van die plant boogvormig na onder groei en daar vertak. Gevolglik word die plante stewig in die grond geanker.

Sommige rankplante het wortelranke wat om ‘n steunpunt kan rank en die plant so anker. Klimplante kan hulle met behulp van hegwortels aan mure of boomtakke vasheg (klimop). Hierdie wortels het hul oorspronklike funksie, naamlik die van voedselopname, verloor. Hierdie funksie word vervul deur die wortels wat in die grond groei.

Bronnelys

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]