Gaan na inhoud

Wicca

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Die Pentagram, 'n simbool van Wicca

Wicca [ˈwɪkə] is die moderne manifestasie van die ou paganisme of heksebeweging wat veral in Anglo-Amerikaanse lande uitgebrei het. Die term Wicca is afgelei uit die ou Angel-Saksiese taal en beteken letterlik "waarsegger" (die vroulike term is wicce, en ook die Engelse woord vir heks, witch, is afgelei van wicca. Algemene kennis wil dit hê dat die woord Wicca moontlik ook uit die Indo-Europese "wic" (wiek), wat beteken om te buig of vleg, afgelei is.

Wicca het sy oorsprong in die ou heidense of natuurgelowe, wat die aanbidding van die natuurgeeste praktiseer en sterk klem lê op die eerbiediging van die "groot sabatte" wat met die wisseling van die jaargetye saamgaan. Die belangrikste hiervan is "Samhain" en "Beltane", onderskeidelik op midsomer en midwinter.

Wicca is 'n Nieu-Heidense (Engels: Neo-Pagan) geloof en beweging, wat in verskillende lande dwarsoor die wêreld bestaan. Dit het vir die eerste keer in 1954 gewildheid verwerf danksy Gerald Gardner, 'n Britse amptenaar, nadat die Britse Witchcraft Act ("Wet aangaande heksery") afgeskaf is. Gardner het beweer dat hierdie beweging, waarvan hy 'n ingewyde was, al eeue lank in die geheim bestaan het en sy oorspronge teruggaan op die voor-Christelike Europese heidendom. Gardner, wat onder meer 'n rubberplanter in Borneo en wapeninspekteur in Maleisië was, asook 'n ingelyfte Rosekruiser, is, soos hy bewer het, deur ene Dorothy Clutterbuck in hierdie matriargale gelowe van die prehistoriese Europa ingewy.

Na Wicca word dus dikwels verwys as die Ou Geloof. Die waaragtigheid van Gardner se bewerings kan nie deur onafhanklike navorsing ondersoek word nie, en daar word aangeneem dat die beginsels van Wicca se teologie eers in die twintigerjare van die 20ste eeu neergeskryf is. Sedertdien is verskillende verwante Wicca-tradisies ontwikkel, terwyl Gardner se oorspronklike versie as die Gardneriaanse Wicca bekend staan. Die ander Wicca-tradisies het almal hul eie geloofsoortuigings, rituele en praktyke. Baie van hierdie tradisies bly steeds geheimsinnig, en lede hoef ingewy te word. Daar is selfs 'n beweging, wat as Eklektiese of Enigste Wicca bekend staan. Sy lede glo nie dat 'n mens enige leerstelling of inisiasie moet volg om Wicca te kan praktiseer. Sommige peilings wys dat daar meer as 200 000 aanhangers van Wicca, Nieu-Heidense bewegings en ou Hekse-tradisies net in die VSA is. Die Amerikaanse owerhede het Wicca in 1994 amptelik as 'n godsdiens erken.

Etimologie

[wysig | wysig bron]
Die grafsteen van 'n Wicca-aanhanger op die Nasionale Arlington-begraafplaas te Washington, D.C.. Die Amerikaanse Departement van Veteranesake het die Wicca-pentagram in 2007 amptelik erken as een van die religieuse embleme wat gebruik mag word om oorlede veterane te herdenk

Die term Wicca is aan die Angel-Saksiese (Oud-Engelse) taal ontleen waar die woord wicca as [ˈwitʧa] uitgespreek is en na 'n "towenaar" of "heksemeester" verwys het. Die vroulike vorm was wicce [ˈwitʧe], en ook die huidige Engelse term witch ("heks") is van wicca en wicce afgelei.[1]

Die moderne term het oorspronklik as Wica in Gardner se werk Witchcraft Today (1954) verskyn en na verteenwoordigers van die "Ou Religie" verwys wat hy uitvoerig beskryf het - maar nie na die religie self nie. Gardner se skryfwyse Wicca is vir die eerste keer in 1969 gedokumenteer.[2]

Onafhanklik van Gardner het ook J.R.R. Tolkien die term wicca reeds in 1942 in sy manuskrip vir die boekdeel The Two Towers van sy werk The Lord of the Rings gebruik om na die towenaars Gandalf en Saruman te verwys. Hierdie feit is deur Tolkien se seun Christopher in 'n voetnota in hoofstuk 20 (The Riders of Rohan) in die sewende boekdeel van 'n dokumentasie van J.R.R. Tolkien se literêre werk in twaalf boekdele opgemerk.[3] In die 1969-uitgawe van The Lord of the Rings het Tolkien die term wicca egter met wizard vervang.

Daar is verskillende teorieë oor die herkoms van die Oud-Engelse wicca en wicce. Die gepalataliseerde /ʧ/ staaf moontlik 'n afleiding van die manlike naamwoord van sy vroulike eweknie, of albei naamwoorde is van die werkwoord wiccian ("beheks") afgelei. Moontlik is ook wigle ("waarsêery") verwant aan hierdie term - wigle berus immers op die gerekonstrueerde Indo-Europese woordstam *weg wat vermoedelik "waaksaamheid" en "lewendigheid" beteken het. Grimm het die term egter as verwant aan die Gotiese weihs "heilig" beskou.

Gerald Gardner en ander Wicca-skrywers het nogtans voorgestel dat die term van die Oud-Engelse woorde wita ("wyse man") of witan ("weet") afgelei moet wees - 'n verwysing na die bewering dat hekse vroeër as wyses beskou is. Volgens hierdie etimologiese afleiding word na Wicca deesdae ook as Craft of the Wise verwys. Hierdie etimologie is reeds in die 19de eeu deur Walter William Skeat voorgestel en sou wicca as 'n variasie van die vroeëre witga verklaar. Daar is egter geen bewyse vir 'n Oud-Engelse skryfwyse met t sodat dié afleiding minder waarskynlik is. Graves (1948) het daarnaas 'n verbinding met die wortel *wei ("buig") voorgestel en beskou die term sodoende as verwant met willow ("wilgerboom") en wicker ("gevlegte mandjies") beskou. Die betrekking tot heksery word afgelei van die gebruik van towerkuns om die natuurkragte te "buig" of - in abstrakte betekenis - deur die verwysing na die "wewers van die noodlot". Ook Graves se teorie word as minder oortuigend beskou.

Aanhangers

[wysig | wysig bron]

Wicca spog met die grootste aantal lede binne die spektrum van Nieu-heidense groeperings en het veral in Anglo-Amerikaanse lande sterk uitgebrei.[4] In die Verenigde State - die enigste land wat voorsiening maak vir die erkenning van gelowe en religies deur die staatsowerhede - is Wicca in 1994 amptelik as religie erken. Vandag is daar in die VSA sowat twee miljoen mense wat volgens Wicca se beginsels Nieu-heidense religie uitoefen.[5]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Grübel, Nils en Stefan Rademacher: Religion in Berlin. Ein Handbuch. Berlyn: Weissensee Verlag 2003, bl. 525
  2. Johns, June: King of the Witches: The World of Alex Sanders. Londen 1969
  3. Tolkien, Christopher: The History of Middle-earth. Volume VII - The Treason of Isengard, 1989
  4. Grübel/Rademacher (2003), bl. 525
  5. Grübel/Rademacher (2003), bl. 526

Verdere leesstof

[wysig | wysig bron]

Paganisme en Wicca in Suid-Afrika

  • Vos, Donna Darkwolf: Dancing Under an African Moon: Paganism and Wicca in South Africa. Kaapstad: Struik 2003