Gaan na inhoud

Samnium

Koördinate: 41°10′10″N 14°14′10″O / 41.16944°N 14.23611°O / 41.16944; 14.23611
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Samnium (Italiaans: Sannio) is 'n Latynse eksoniem vir 'n streek van Suid-Italië wat vroeër deur die Samniete bewoon is. Hulle eie endonieme was Safinim vir die land (soos blyk uit 'n inskripsie en 'n muntsleutel) en Safineis vir die mense.[1] Die taal van hierdie endonieme en van die bevolking was Oskies. Maar nie al die Samniete het Oskies gepraat nie, en nie al die Oskiessprekendes het in Samnium gewoon nie.

Antieke geograwe was nie in staat daartoe om 'n presiese definisie van Samnium se grense te gee nie. Verder het die gebiede wat ingesluit was gewissel na gelang van die tydperk onder oorweging.[2] Die hoofkonfigurasies is die grense wat dit gehad het tydens die floruit van die Oskiese sprekers, van ongeveer 600 v.C. tot ongeveer 290 v.C., toe dit uiteindelik deur die Romeinse Republiek geabsorbeer is.

Die oorspronklike gebied van Samnium moet nie met die latere gelyknamige gebied verwar word nie. Rome se eerste Keiser, Augustus, het Italië in 11 streke verdeel.[3] Alhoewel hierdie entiteite slegs administratiewe doeleindes gedien het en met slegs 'n syfer geïdentifiseer is, is die Regio IV volgens wetenskaplike konvensie "Samnium" gedoop. Antieke Samnium is eintlik in drie van die Augustaanse streke verdeel.[4]

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Etimologies gesien word die naam Samnium algemeen erken as 'n vorm van die naam van die Sabyne, wat Umbriërs was.[5] In die woorde Safinim, Sabinus, Sabellus en Samnis is 'n Indo-Europese wortel, *sabh-, wat Sab- word in Latyns-Faliskies en Saf- in Oskies-Umbries: Sabini en *Safineis. Die gelyknamige god van die Sabyne, Sabus, blyk hierdie siening te ondersteun. Die Griekse terme, Saunitai en Saunitis, bly buite die groep. Niks is bekend oor hul oorsprong nie.

Op 'n stadium in die voorgeskiedenis het 'n bevolking wat 'n gemeenskaplike taal gepraat het oor beide Samnium en Umbrië uitgebrei. Salmon vermoed dat dit gewone Italies was, en stel 600 v.C. voor as datum, waarna die algemene taal in dialekte opgebreek het. Hierdie datum stem nie noodwendig ooreen met enige historiese of argeologiese bewyse nie; die ontwikkeling van 'n sintetiese siening van die etnologie van proto-historiese Italië is 'n onvolledige en deurlopende taak.

Die taalkundige Julius Pokorny neem die etimologiese diepdenkery ietwat verder terug. Met die vermoede dat die -a- van 'n -o- verander is tydens een of ander prehistoriese tyd in Illirië, lei hy die name af van die o-graad uitbreiding *swo-bho- van 'n uitgebreide e-graad *swe-bho-, van die besitlike byvoeglike naamwoord *s(e)we-, van die refleksiewe voornaamwoord *se-, "ekself". Die resultaat is 'n stel Indo-Europese stamname (indien dit nie self die endoniem van die Indo-Europeërs is nie): Germaanse Suewe en Semnone, Suiones; Keltiese Senone; Slawiese Serwiërs en Sorbe; Italiese Sabelli, Sabini, ens., asook 'n groot aantal verwantskapsterme. Die algemene konsep is "onse eie verwante", Pokorny se "von eigener Art," "Gesamtheit der eigenen Leute," "Liebe," "Sippegenossen," "Sippenangehörigen," en dies meer.[6]

Historiese geografie

[wysig | wysig bron]
Samnitiese soldate uit 'n graffries in Nola, Kampanië, 4de eeu v.C.

Samnium het meestal die gebied van die Apennyne uitgemaak; dit is afgebaken deur Latium na die noorde, deur Lukanië na die suide, deur Kampanië na die weste, en deur Apulië na die ooste. Die vernaamste stede van die streek was Bovaiamom, herdoop na Bovianum deur die Latyne (vandag: Bojano of Boiano) en Maleventum (Maloenton in Oskies), wat later herdoop is na Beneventum deur die Romeine ( vandag: Benevento). Die Samniete was vir die grootste deel van hul geskiedenis 'n landingeslote volk, maar gedurende 'n kort tydperk het hulle dele van beide kuste van die Italiaanse skiereiland beheer.

Die Samniete was saamgestel uit ten minste vier stamme: die Pentri (hoofstad: Bovianum), die Caraceni (hoofstede: Cluviae, die moderne Casoli, en Juvanum, waarvan die ruïnes versprei is tussen Torricella Peligna en Montenerodomo), die Caudini (hoofstad: Caudium, vandag Montesarchio) en die Hirpini (hoofstede: Beneventum, Abellinum, Aquilonia). Die Frentani het moontlik later by hul aangesluit (hoofstad Larinum, die moderne Larino).

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die vroegste geskrewe rekord van die stam kom voor in 'n verdrag met die Romeine uit 354 v.C., wat hul grens as die Liris-rivier aandui. Kort daarna het die Samnitiese Oorloë uitgebreek; hulle het 'n belangrike geveg teen die Romeinse leër in 321 v.C. gewen, en hul imperium het sy hoogtepunt in 316 v.C. bereik nadat verdere gebiede by die Romeine afgeneem is. Teen 290 v.C. het die Romeine die Samniete se mag gebreek na 'n paar hewige gevegte. Die Samniete was een van die Italiaanse volke wat met koning Pyrrhus van Epirus verbonde was tydens die Pyrrhiese Oorlog. Nadat Pyrrhus na Sisilië vertrek het, het die Romeine Samnium binnegeval waar hulle verpletter is tydens die Slag van die Cranita-heuwels. Na die nederlaag van Pyrrhus kon die Samniete egter nie op hul eie weerstand bied nie, en het hulle aan Rome oorgegee. Sommige van die Samniete het tydens die Tweede Puniese Oorlog aangesluit by Hannibal, maar die meeste het lojaal gebly. Die Samniete en verskeie ander Italiese stamme het teen Rome in opstand gekom en die Bellum soci(or)um of Marsicum bellum (Bondgenoteoorlog) op loop gesit, nadat die Romeine geweier het om aan hulle Romeinse burgerskap te gee. Die oorlog het byna drie jaar geduur en het gelei tot 'n Romeinse oorwinning. Die Samniete en ander Italiese stamme het egter Romeinse burgerskap gekry ten einde 'n verdere oorlog te vermy. Die Samniete het die Populares (Latyns: populus = volk) ondersteun in die burgeroorlog teen Sulla, maar Sulla het uiteindelik die oorlog gewen en is tot die diktator van Rome verklaar. Sulla het beveel dat almal wat teen hom was gestraf moet word. Duisende mense in Rome en oral in Italië is wreed vermoor. Samniete, wat een van die mees prominente ondersteuners van die Populares was, is so swaar gestraf dat dit opgeteken is dat "sommige van hul stede nou tot dorpe verval het, sommige is inderdaad heeltemal verlate." Die Samniete het hierna geen prominente rol in die verdere geskiedenis van die Italiaanse skiereiland gespeel nie, en hulle is uitindelik geassimileer in die Romeinse wêreld.[7][8]

Italië in 400 v.C. Die Samnitiese liga (donkergroen) tydens sy hoogtepunt, insluitende die Frentani-stam aan die Adriatiese See as volle lid, en met beheer van albei kusstroke van die Italiaanse skiereiland.

Prominente Samniete

[wysig | wysig bron]

Heersers van die Samniete

[wysig | wysig bron]
  • Gaius Pontius omstreeks 320's v.C.
  • Gellius Egnatius omstreeks 296 v.C.

Opstande teen Sulla

[wysig | wysig bron]
  • Gaius Papius Mutilus 90–89 met:
  • Pontius Telesinus – Samnitiese bevelvoerder onder Papius

Romeinse burgers

[wysig | wysig bron]

Katolieke pouse

[wysig | wysig bron]

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. Salmon 1967, p. 28.
  2. Salmon 1967, p. 23. "Die grense van Samnium, soos van enige ander land, het tydens verskillende tye in sy geskiedenis gewissel. Geen antieke skrywer het 'n presiese en akkurate beskrywing daarvan gelaat nie."
  3. Gelys in die Descriptio Italiae. Dit is verlore vir moderne navorsers, maar het gedien as die basis vir Plinius die ouere se beskrywing van Italië.
  4. IV, II ("Apulia et Calabria"), en I ("Latium et Campania").
  5. Salmon 1967, p. 29.
  6. Pokorny 1959, pp. 882–884 onder se.
  7. Strabo, Geographia, Boek V, afdeling 4.11.
  8. Edward Togo Salmon (1967). Samnium and the Samnites. Cambridge University Press. p. 30. ISBN 978-0-521-06185-8.
  9. https://www.newadvent.org/cathen/06031a.htm Pope St. Felix IV

Bronnelys

[wysig | wysig bron]
  • Pokorny, Julius (2005) [1959]. Indogermanisches etymologisches Woerterbuch. Leiden: Universiteit van Leiden se Indo-Europese etimologiese woordeboek-projek. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2006.
  • Salmon, ET (1967). Samnium and the Samnites. London: Drukpers van die Universiteit van Cambridge.
  • Grossmann, Lukas, Roms Samnitenkriege: historische und historiographische Untersuchungen zu den Jahren 327–290 v. Chr. (Düsseldorf, Wellem Verlag, 2009) (Reihe Geschichte, 1).
  • Ross Cowan, Roman Conquests: Italy (Barnsley, 2009).

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]

41°10′10″N 14°14′10″O / 41.16944°N 14.23611°O / 41.16944; 14.23611