Gaan na inhoud

Nomade

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Nomade in Tibet.
Die Masaï trek saam met hulle beeste.

'n Nomade is iemand wat 'n swerwende bestaan voer. Sulke mense het nie 'n vaste woon- of verblyfplek nie en trek deurgaans van plek tot plek. Die term is aanvanklik vir mense of bevolkingsgroepe gebruik wat saam met hul vee rondtrek. Die woord "nomade" is van die Oudgriekse woord νομάδες, nomades afgelei, wat "herdersvolk" of "die wat die kudde laat wei" beteken.

In 'n breër sin kan dit op die volgende leefwyses toegepas word:

  1. pastorale nomade in die oorspronklike sin van die woord, wat met hul vee tussen weigebiede reis.
  2. jagter-versamelaars wat tussen jaggebiede reis.
  3. nomade wat tussen die verblyfplekke van hul klante reis, soos sommige trekarbeiders.
  4. wetenskaplikes wat in ander lande werk moet gaan soek.

Mense voer gewoonlik 'n nomadiese bestaan omdat hulle nie op 'n vaste plek kan oorleef nie. Die Boesmans was oorspronklik jagter-versamelaars wat soos die seisoene verander het agter die wild aangetrek het en van die veld af geleef het. Die Khoikhoi, daarteenoor, was nomadiese veeboere wat agter goeie weiding aangetrek het.

Handelaars en vakmanne voer ook soms 'n nomadiese bestaan. Handelaars reis van plek tot plek om goedere te ruil terwyl vakmanne (soos skaapskeerders) reis na waar daar ook al vir hulle werk is. Nomades is byvoorbeeld mense wat in die Sahara-woestyn woon. Hulle trek van plek tot plek. Nomades dra ook lospassende klere sodat hulle nie so maklik sal sweet nie.

Nomadiese jagters en versamelaars

[wysig | wysig bron]

Volke wat van jag en die versameling van plantaardige voedsel 'n bestaan maak, se nomadiese bestaan word deur die beskikbaarheid van voedsel in hul onmiddellike, natuurlike omgewing bepaal.

Na gelang van die aard van die omgewing, verskil die tyd wat die nomadiese jagters en versamelaars op een plek deurbring, merklik. Wanneer nomades slegs vir kort tydperke op een plek bly, is die sogenaamde materiële kultuur (wonings, gebruiksvoorwerpe, ensovoorts) dikwels onderontwikkel. Nomades wat daagliks verder trek, byvoorbeeld die pigmeë, kan immers nie te veel vrag met hulle saamdra nie.

Die grootte van 'n rondtrekkende groep wissel ook baie ten opsigte van die aard van die natuurlike voedselvoorraad. Die gesin is meestal die belangrikste sosio-ekonomiese groep, maar verwante gesinne sal dikwels om ekonomiese redes saamwerk en saam trek – so ’n groep word 'n bende genoem. Die bendes trek meestal rond in 'n min of meer eie gebied wat deur natuurlike grense en die trekgewoontes van wild afgebaken word. Binne hierdie gebied ken hulle die plekke waar eetbare plante en wild gevind kan word.

Wanneer voedsel oorvloedig is en die gebied die oprigting van 'n kamp moontlik maak, bly die samestelling van die bendes bestendig; origens wissel dit voortdurend na gelang van die behoefte van die oomblik. Die voortdurende wisseling word beheer deur 'n netwerk van onderlinge regte en pligte wat in krisistye toegepas word. Onder normale omstandighede heers daar boonop 'n groot samehorigheid onder die nomades – byna alle jagters en versamelaars verdeel byvoorbeeld die kos eweredig binne die groep.

Die nomade-samelewing het ook geen sosiale diskriminasies of formele leierskap nie. Teenswoordig bestaan hierdie soort gemeenskappe onder meer nog in Australië, by sommige primitiewe stamme in Indië, hier en daar in Suider-Afrika, onder die Eskimo's en die Rooihuide en Indiane van onderskeidelik Noord- en Suid-Amerika.

Veenomades

[wysig | wysig bron]

Die veenomades of pastorale nomades trek gewoonlik rond binne 'n enkele afgebakende gebied wat dikwels woestynagtig is. Hulle trekgewoontes, asook die soort vee wat aangehou word, word deur die meestal wyd verspreide weiveld en voedselbronne bepaal.

Vir kamele is dit byvoorbeeld voldoende as daar 'n waterput binne 'n omtrek van 50 km is, terwyl skaap- en boknomades baie nader aan waterbronne moet bly. Pastorale nomades maak optimale gebruik van hul kuddes – hulle voedsel is daarvan afkomstig, asook hul klere, materiaal vir behuising (gewoonlik tente) en brandstof (in die vorm van mis). Ruilhandel met die produkte word ook met naburige boere gedryf.

Omdat hulle self geen vorm van landbou beoefen nie, is die veenomades heeltemal van die natuur afhanklik en word die grootte van sowel die groep as die kudde dus daardeur beperk. Indien 'n eenheid te groot word, breek party van die lede weg. Aangesien die groepe egter deurgaans op dieselfde weiveld en waterbronne aanspraak maak, veroorsaak hierdie soort verdelings telkens konflikte tussen die stamme. Die grense van elke gebied word derhalwe meestal deur 'n wapenstryd bepaal.

Vanweë onder meer die skaarste aan natuurlike voedselbronne, is die veenomadesamelewing baie strenger as dié van die jagters en versamelaars georganiseer, en eiendomsreg word streng toegepas. Nomadiese pastoralisme is in die verlede veral in die woestynagtige gebiede van Sentraal-Asië, die Midde-Ooste en Noord-Afrika beoefen deur onder andere die Mongole, die Turke en die Arabiere (veral Bedoeïene). Die sogenaamde halfnomades wat uit nomadiese veeteelt en meestal uiters primitiewe landbou 'n bestaan maak, word soms aan die rand van woestyngebiede aangetref.

Binne hierdie groepe is daar weinig spesialisasie en individue of families verander van tyd tot tyd van beroep. Baie halfnomades leef in onder meer die Midde-Ooste – ongeveer 2 miljoen teenoor die 0,75 miljoen "ware" nomades.

Handelsnomades

[wysig | wysig bron]

In die Midde-Ooste en in Noord-Afrika woon baie handelsnomades wie se lewenswyse baie met die nomadiese pastoralisme ooreenstem. Pastorale nomades wat water, tente en oaseprodukte vir eie gebruik vervoer, het dit naamlik mettertyd ook vir ander nomadestamme begin doen. Die produkte word hoofsaaklik met kamele vervoer, maar osse, perde, esels en muile word ook vir hierdie doel gebruik. Die Trans-Sahara-roete is veral in hierdie verband bekend en handelsnomades het ook 'n groot rol in die kruie- en syhandel met die Verre Ooste en die Europa van die Middeleeue gespeel. Sigeuners kan ook as handelsnomades beskou word.

Die verval van nomadedom

[wysig | wysig bron]

Tot ongeveer 8 000 jaar gelede het alle mense op aarde van jag en voedselversameling geleef, maar vanweë die ontwikkeling van landbougemeenskappe is die mense wat met so 'n bestaan volgehou het, uitgeroei, uit hul gebiede verdryf of gedwing om hulle by die nuwe samelewings aan te pas.

Teenswoordig kom jagters en versamelaars net in uiters onherbergsame en ontoeganklike gebiede voor. Veenomades kon hulle langer handhaaf maar hulle getalle het ook sedert die begin van die 20ste eeu skerp gedaal. Die neiging tot ’n sedentêre leefwyse ('n permanente vestiging op een plek) kom byna oral voor en het verskeie oorsake. Wanneer nomadiese groepe te groot word, word die swakstes onder hulle daartoe gedwing om hulle op een plek te vestig en deur middel van landbou 'n bestaan te maak.

In die gevestigde samelewings word die landbougrond ook dikwels ten koste van veenomades se weiveld uitgebrei, 'n lot wat die prêrie-Rooihuide van Noord-Amerika byvoorbeeld in die 19de eeu getref het. In die moderne state, ook die in die Derde Wêreld, is dit dikwels die amptelike beleid om die nomadedom so veel as moontlik te bekamp – nomades is uit die aard van hulle lewenswyse moeilik beheerbaar onder 'n normale politieke struktuur. Baie pastorale nomades handhaaf 'n militante tradisie van politieke onafhanklikheid en skep sodoende 'n situasie waarin bestuursaspekte soos moderne onderwys beswaarlik toegepas kan word.

In Europa word regeringspogings aangewend om sigeuners en woonwabewoners van hul leefwyse te laat afsien, terwyl streng ekonomiese meganismes die voortbestaan van die nomadedom oor die algemeen ook verhinder. Die Arabiese handelsnomades het byvoorbeeld opsigtelik gekwyn vanweë die beskikbaarheid van moderner en vinniger vervoermiddels. Werkgeleenthede in die aardolie-nywerheid het ook baie nomades van hulle trekkende bestaan laat afsien. Desondanks is daar in die Nabye en Midde-Ooste en in Noord-Afrika nog miljoene nomades wat in die soektog na weiveld en water vir hul skape, bokke en kamele in groot mate van die seisoene afhanklik is.

Nomades in Afrika

[wysig | wysig bron]

Bedoeïene

[wysig | wysig bron]

Bedoeïene is Arabiese nomades wat uit die 1ste millennium v.C. dateer en bekend is vanweë die kamele waarmee hulle deur die woestyn trek. Die woord Bedoeïen is waarskynlik afkomstig van die Arabiese woorde badawa ("woestyn- of steppebewoner") of badiya ("iemand wat buite die kultuurgebied leef"), en die begrip word soms verkeerdelik gebruik om alle nomades van die Arabiese wêreld aan te dui. Bedoeïene het soms sterk Negroïde-gelaatstrekke vanweë die vermenging met Negerslawe.

Hulle hang Islam aan en is 'n dapper, trotse en gasvrye volk, maar ook een van die veglustigste groepe op aarde. Vanweë hulle krygslustigheid dra hulle graag wapens, veral gewere en dolke, en hulle vorm ook die kern van die Jordaniese leer. Dit is teenswoordig 'n algemene gesig om Bedoeïene met hul kamele langs groot olie- en elektriese installasies in die woestyn te sien verbytrek. Die kameel of "skip van die woestyn" word as 'n las- en rydier gebruik, maar 'n goeie kudde kamele bring ook mag en aansien.

In Noord-Afrika word die eenbultige kameel of dromedaris gebruik – die tweebultige "ware" kameel kom nog net in Asië voor. Van die kameel se vel word leerprodukte soos sandale en sakke vervaardig, terwyl klere, toue en tentdoeke van sy pels gemaak word. Kameelmelk word ook gedrink en die mis word vir brandstof gebruik. Kameelvleis word egter selde geëet. Die Bedoeïene-vroue gebruik selfs die urien van die kameel as haarspoelmiddel teen luise.

Die diere word verder as bruidskat en belonings geskenk en word in gevegsituasies vir lang woestynpatrollies gebruik (gevegte vind meestal te perd plaas). Die stam is die vernaamste politieke, sosiale en ekonomiese eenheid en word op arbitrêre wyse deur 'n sjeik beheer. Bedoeïene trek gewoonlik in groepe van 'n aantal families (hamoelah) deur die woestyn en hulle kampe word uitgeken aan die swart of swartwit tente. Sowel mans as vroue dra hoofsaaklik swart klere, terwyl die vroue dikwels sluiers dra en in die openbaar van die mans geskei is. Stamme word dikwels deur tradisionele versierings soos tatoeëermerke op die gesig of neusringe van mekaar onderskei.

Toearegs

[wysig | wysig bron]

Die hele Noord-Afrika was aanvanklik deur Berbers bevolk, maar die mense is eeue gelede deur die Arabiere verdring. Hulle het toe na die bergagtige dele en die Sahara gevlug. Een van die belangrikste Berbervolke wat nog in groot mate 'n nomadiese bestaan voer, is die Toearegs.

Die "volk van die sluier", soos hulle ook genoem word, woon in die Sahelgebied in Wes-Afrika, onder meer in Niger en in Mali. Daar is vandag nag ongeveer 300 000 Toearegs in Noord-Afrika en hoewel baie van hulle vanweë onder meer die aanleg van paaie en spoorweë en langdurige droogtes gedwing is om in stede en dorpe werk te soek, trek duisende nomadestamme nog met hul vee en kamele deur die woestyn. Die Toeareg-stamme is in kleiner groeperings verdeel met die familie as die kleinste sosiale eenheid, en hulle gemeenskap het 'n feodale struktuur.

Net die mans dra sluiers en die vroue geniet 'n redelike mate van vryheid – hulle kan byvoorbeeld sonder moeite van hul mans skei. Die edellui het tradisioneel blou klere gedra en is onderskeidelik die Blou Manne en die Blou Vroue genoem. Die indigo van die mans se sluiers het aan die gesig afgegee en het gedeeltelik as beskerming teen die son gedien. Die groep is dikwels baie lig van kleur (die vrouens is bekend vir hul skoonheid), terwyl ander Toearegs soms sterk Negroïde-gelaatstrekke het.

Die tradisionele wapens is 'n groot skild, 'n swaard, 'n armdolk, 'n lans, spiese en 'n geweer. Hoewel die Toearegs Islam aanhang, het hulle ook talle bygelowe. Van die stamme wat die tradisionele lewenswyse die strengste navolg, is die Ahaggar die belangrikste.

Ander groepe

[wysig | wysig bron]

Ander nomadegroepe in Noord-Afrika is onder meer die Bisharin en die Baggara. Eersgenoemde is 'n stam van die Bejavolk en kom veral in Noord-Soedan langs die Rooi See voor. Hulle was vroeër baie beroemde kameeltelers en -ruiters en hulle word deur hulle kroes haardos gekenmerk. Die Baggara woon in die Kordofan-provinsie in die Soedan en is veenomades van Arabiese afkoms. Die kameel speel geen rol in hul nomadiese bestaan nie – hulle swerf met groot kuddes vee deur die savannegordel tussen die Wit Nyl en die grens met Tsjaad. Die mans dra tulbande om hulle meestal kaal geskeerde koppe en die vroue loop sluierloos en met kaal bolywe rond. Juwele van goud en silwer is die vernaamste statussimbool.

Die San is nomades van die Kalahari-woestyn in Suider-Afrika. Hulle leef van wild en van veldkos en hulle trekbewegings word hoofsaaklik deur klimaatsfaktore, veral reënval, bepaal. In die somer bly hulle in die sandvlaktes, waar hulle tsammas en ander wilde woestynvrugte en wortels bymekaarmaak en die waterbronne opsoek wat deur die somerreëns gevul word. In die winter verdeel hulle in kleiner gesinseenhede en swerf hulle rond op soek na wild. Terwyl die mans jag, brei die vroue velle, maak wapens en ander artikels en soek veldkos. Voëls, hase, wildsvleis, heuning, reptiele, insekte, bessies en allerlei diere-eiers word geëet, en sommige San in die Okavangogebied en naby die groot riviere noord van die Kalahari eet ook vis as stapelvoedsel.

Nomades in Australië

[wysig | wysig bron]

Nomades het reeds in die Steentyd in Australië voorgekom. Die mense was jagters wat met enkele primitiewe wapens soos boemerangs, spiese en spiesslingers op diere soos die goanna ('n groot en blitsige akkedis) en die doegong jag gemaak het. Laasgenoemde word op 'n uiters vernuftige manier gevang deur op die kante van die kano te slaan sodat die dier vanweë die watertrillings na die oppervlak kom.

Die dier se lugklep word daarna blitsvinnig toegedruk sodat hy in ’n half bewustelose toestand na die strand gesleep kan word. Die Australiese nomades trek in klein familiegroepe, wat uit 7 of 10 gesinne bestaan, rond. Elke stam bestaan uit so 'n aantal eenhede en elke groep se jaggebied word deur opvallende reliëfkenmerke of plantegroei afgebaken. Terwyl die vroue plantkosse, klein reptiele en insekte vang, jag die mans met wildehonde of dingo's op koalas, kangaroes en emoes (verwant aan die Suid-Afrikaanse volstruis).

Hulle vang ook vis en maak op die gevaarlike soutwaterkrokodil en die doegong jag. Die wapens is meestal van hout, byvoorbeeld die boemerang, wat tot ongeveer 200 m ver gegooi kan word. Die punte van spiesslingers en steek- en werpspiese is van klip. Die Australiese nomades word vandag deur die regering beskerm en hulle leef in groot reservate volgens tradisionele gewoontes.

Nomades in Suid-Amerika

[wysig | wysig bron]

Nomades het in die vroeë tye algemeen in groot dele van Suid-Amerika voorgekom. Van die belangrikste groepe was die in die Gran Chaco-gebied, een van die warmste dele in Suid-Amerika. Die mense het hoofsaaklik geleef van plantkosse wat soms deur vis aangevul is, en in die suideliker dele is daar op guanaco, nandoe en ander kleiner diere jag gemaak. Hulle het te voet en soms met kano's rondgetrek, maar na die Spaanse verowering van Suid-Amerika het baie hul jagtogte te perd uitgevoer.

Die Gran Chaco-stamme het in die tyd of te voet, of te perd rondgetrek, en veral die Mbayarowers het magtige ruiterbendes geword wat in groepe van 500 tot 1000 mense rondgetrek het. Oorloë het dikwels tussen verskillende bendes uitgebreek. Van al die nomadegroepe het die Mbayá's die duidelikste klasseverskille in hul gemeenskap gehandhaaf, naamlik die edellui, krygers, lyfeienes en slawe. Hoewel hulle oor groot afstande getrek het, het hulle altyd teruggekeer na hul basisse, waar hulle slawe en lewende hawe aangehou het.

Kleiner nomadegroepe het uit ’n aantal families van 40 tot 100 mense bestaan, byvoorbeeld die Charrúa en die Ona-groepe wat in die steppes noord van Tierra del Fuego voorgekom het. Hulle het afgebakende jagterreine gehad en hoofde is vanweë hul vermoëns en nie hul afkoms nie, gekies. Nomadegroepe wat in kleiner gesins- of familie-eenhede rondgeswerf het, was onder andere die Alacaluf en die Chono Yaghan van die Chileense Argipel. Die mense het in digte woude rondgeswerf en het hoofsaaklik van seekosse soos skulpvis, walvisse en robbe wat op die strand uitgespoel het, geleef.

Hulle het ook van kano's gebruik gemaak. Buiten die jagters en vissers was daar vroeër ook waternomades, wat die grootste deel van hulle bestaan in kano's deurgebring en net tydelike beskuttings op eilandjies opgerig het. Voorbeelde uit die groep was die Guato-Indiane van die moerasgebiede van die Bo-Paraguayrivier in Brasilië, asook nomades aan die Karibiese See. Sommige nomades het in grotte gebly, maar in die kouer suidelike dele het hulle in ronde hutte wat met 'n struktuur van pale aanmekaargesit is, gewoon – veral die Chaco-nomades en die van die Chileense Argipel.

Wanneer hulle weggetrek het, het hulle die strukture vir ander bendes agtergelaat en net die materiaal (meestal vel) waarmee dit oorgetrek was. saamgeneem. Wanneer daar 'n oorvloed van voedsel was, het verskillende bendes vir seremonies of feeste byeengekom. Die pyl en boog en die spies was algemene wapens, maar nadat perde as 'n vervoermiddel begin gebruik is, is vangtoue gebruik om te perd op diere jag te maak.

Gebruiksartikels is uit klei, palmblare of onverwerkte katoen gemaak en klere het hoofsaaklik uit diervelle bestaan. Oorproppe, neusproppe en lipproppe, asook vere en juwele, is as versiering gedra (soms om een stam van ’n ander te onderskei), en die Indiane het ook hul liggame en gesigte geverf. Nomadiese lewenswyses in Suid-Amerika is in die 20e eeu in groot mate deur ekonomiese en politieke strukture geabsorbeer, onder meer vanweë industrialisasie en georganiseerde landbou, maar daar bestaan nog nomades (veral die bosbewoners) wat die meeste van hulle oorspronklike tradisies behou het.

Nomades in Asië

[wysig | wysig bron]

Nomades het reeds tydens die Tang-dinastie (618-906 v.C.) in Asië bestaan. Die veenomades was volgens taal verdeel in die Turke in die Weste en die Mongole in die Ooste. Die taal van die Hsiungnu, die eerste nomades in die omgewing van China, is nie bekend nie. Die Han-dinastie en die Hsiungnu was mekaar eeue lank vyandiggesind en ten einde die nomades se samewerking te verkry, is 'n Han-prinses selfs aan een van die nomadehoofde geskenk.

Die stap het daartoe gelei dat steppehoofde aanspraak begin maak het op die Chinese troon. Baie nomades, byvoorbeeld die Mongole, was bereid om met die Chinese handel te dryf, maar dit is geweier en die nomades was dus uitsluitlik op hul beperkte lewensbronne aangewys. Djengis Khan (1162–1227) het in die 12e en 13e eeu die grootste ryk op aarde opgebou deur die Mongoolse en later ook die Turkse veenomades te verenig en uiteindelik groot dele van China te verower.

Groot stede soos Merv en Herat se totale bevolkings is uitgewis en altesaam 40 miljoen mense is uiteindelik deur die nomades om die lewe gebring. Teen 1279 het Djengis Khan se kleinseun Koeblai die hele China van die Soeng-dinastie verower en ’n Mongoolse ryk tot stand gebring. Die ryk het egter spoedig verbrokkel vanweë die nomades se swerwersbestaan en is deur die Mandarynse Chinese herwin. Die Mongole is uiteindelik in die 18e eeu deur die Tsjing-dinastie onderwerp toe hulle gedwing is om 'n meer gevestigde bestaan te voer.

Die Tibettaanse kloosterstelsel is na Mongolië ingevoer en veenomades het slawe of monnike geword, sodat die nomadiese patroon uiteindelik verbreek is. In die 1e en 2e millennia v.C. was daar in sekere dele van Asië, byvoorbeeld in Benede-Irak, ook nomadestamme wat oor hele kontinente getrek het. Hierdie wilde nomades van die steppes was heeltemal van die beskawing afgesny. Tussen 1000 en 900v.C. het die eerste groepe perderuiters, waarskynlik die Skithiërs, hul verskyning tussen die Volga- en Irtisj-rivier gemaak. Hulle soort lewenswyse het oor die hele Sentraal-Asië versprei en hoewel hulle, wat getalle betref, baie minder was as die gevestigde samelewings, het hulle vanweë hul uiters destruktiewe leefwyse groot beskawings vernietig.

Bronne

[wysig | wysig bron]

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]