Benben
In Egiptiese mitologie, spesifiek die Heliopolitaanse tradisie, was Benben die heuwel wat uit die oerwaters, Noe, verrys het en waarop die skeppergod, Atoem, gerus het. Die Benben-steen is die boonste steen van ’n Egiptiese piramide. Dit hou ook verband met die obelisk.
Oerheuwel
[wysig | wysig bron]In die Piramidetekste word Atoem self soms "heuwel" genoem. Daar word gesê die heuwel het in ’n klein piramide verander wat geleë is in Annoe, waar Atoem hom ook bevind. Ander stede het hul eie mites oor die oerheuwel ontwikkel. In Memphis was die god Tatenen, ’n aardgod, die verpersoonliking van die oerheuwel.
Benben-steen
[wysig | wysig bron]Die Benben-steen, wat na die heuwel genoem is, was ’n heilige steen in die Antieke Egiptiese tempel van Ra by Heliopolis. Dit was die plek waar die eerste strale van die son geval het. Dit was vermoedelik die prototipe van latere obeliske en die ontwerp van die boonste steen van piramides, die piramidion, is waarskynlik daarop gebaseer. Dit was waarskynlik verguld, sodat dit in die sonlig geblink het. Die piramidion is ook die Benben-steen genoem. Baie sulke stene word oral in die wêreld in museums aangetref en bevat dikwels beelde of inskripsies.
Die mitologiese feniks is as die bennoe-voël aanbid in Heliopolis, waar hulle geglo het dit bly op die benben. Volgens die Egiptoloog Barry Kemp berus die verband tussen die benben, die feniks en die son dalk op alliterasie: die opkoms, of weben, van die son stuur strale na die benben, waarop die bennoe-voël bly. In die Piramidestekste word van Atoem gepraat wanneer gesê word: "Jy kom op, as die benben, in die huis van die bennoe in Heliopolis".[1]
Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Hart, p.16
Bibliografie
[wysig | wysig bron]- (de) Manfred Lurker Lexikon der Götter und Symbole der alten Ägypter, Scherz 1998
- Barry John Kemp Ancient Egypt: Anatomy of a Civilization, Routledge 1991, p. 88
- Katheryn A. Bard Encyclopedia of the Archaeology of Ancient Egypt, Routledge 1999, p. 205
- George Hart Egyptian Myths, University of Texas Press 1990, pp. 11, 12, 16