Gaan na inhoud

Alpe

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Mont Blanc, die hoogste bergpiek in die Alpe
Satellietfoto van die Alpe
Topografiese kaart van die Alpe

Die Alpe (Duits: Alpen; Frans: Alpes; Italiaans: Alpi; Romansch: Alps; Sloweens: Alpe) is 'n magtige bergreeks in Europa met 'n oppervlakte van meer as 200 000 vierkante kilometer, wat oor 'n afstand van 1 200 kilometer van Frankryk in die weste tot Oostenryk en Slowenië in die ooste en van Suid-Duitsland in die noorde tot Italië in die suide strek. In die suidooste gaan die Alpe oor na die Dinariese Alpe, in die noordooste na die Karpate. Die hoogste bergpiek, Mont Blanc aan die Frans-Italiaanse grens, is 4 808 meter bo seevlak. Naas die genoemde lande strek die Alpe ook oor die staatsgebied van Monaco in die suidweste en Switserland en Liechtenstein in die noordweste.

Die Alpe word volgens geografiese kenmerke onderverdeel in die Wes-Alpe en Oos-Alpe, en ten opsigte van die hoogte bo seevlak in die Alpynse voetheuwels (Duits: Voralpen, tot by 1 500 meter), Middelalpe (tot by die sneeugrens) en die Hoogalpe (op 'n hoogte van meer as 3 000 meter).

Die Alpe het gedurende die tersiêre geologiese tydperk ontstaan, toe die oorspronklike vasteland van Afrika noordwaarts beweeg en die sedimentafsettings van die Middellandse See sodoende eers saamgepers en daarna geplooi het. Hierdie geologiese aktiwiteite is nog steeds aan die gang en lei tot 'n klein, jaarlikse styging van die gebergte se hoogte.

Die oppervlakte is behalwe deur geologiese aktiwiteite ook deur klimaatsomstandighede gevorm. Veral gedurende die Ystydperk het gletsers die voorkoms van die gebergte verander en begin om groot valleie in te sny, terwyl die smeltwater in die randgebiede van die Alpe groot mere soos die Bodenmeer tussen Duitsland, Switserland en Oostenryk en die Gardameer in Noord-Italië laat ontstaan het.

As 'n waterskeiding en klimatologiese grensgebied skei die Alpe die stroomgebiede van die Noordsee, die Middellandse See en die Swartsee en die klimaatsones van die maritieme gebied in die weste, die kontinentale in die noorde en ooste en die gematigde Mediterreense gebied in die suide van mekaar. Die bergreeks is die brongebied van groot Europese riviere soos die Adige, Drava, Inn, Po, Rhône, Ryn en Sava.

Etimologie

[wysig | wysig bron]

Eers nadat Hannibal die Alpe in 218 v.C. oorgesteek het, het die bergreeks die aandag van antieke skrywers getrek. So het Polybios noukeurige beskrywings van bergpasse gelewer.[1] Benamings soos Alpeis (enkelvoud) en Alpes (meervoudsvorm) kom in Ptolemaeus se geografiese werk voor wat omstreeks 150 n.C. in Grieks geskryf is.

Volgens Isidorus van Sevilla se Etymologiarum sive originum libri XX het die Romeine die term Alp uit die taal van die Liguries-Keltiese bergbevolking as 'n topografiese term met die betekenis hoog, berg en bergweiveld ontleen. In die Middeleeue is dié term, net soos die Latynse mons ("berg"), gebruik om onder meer na bergpasse en enkele bergpieke te verwys. Dit is in die Duitse taalgebied geleidelik deur berg vervang, maar eers vanaf die 18de eeu het dié term die betekenis van bergpiek gekry, terwyl die woord Alpe na die hele bergreeks begin verwys het.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Berglandskap in die Switserse kanton Uri

Die grootste deel van die Alpe word deur die Middeleuropese klimaat geraak, en die belangrikste invloede is relatief warm en vogtige Atlantiese lugmassas, wat deur die westelike winde na die Alpegebied gelei word; koue lug uit die Noordpoolgebiede; droë kontinentale lugmassas uit die ooste (met warm lug in die somer en koue lug in die winter); en warm Mediterreense lugmassas uit die suide.

Die termiese besonderhede van groot dele van die noordelike Alpegebied stem ooreen met dié van die aangrensende vlaktes, alhoewel die gemiddelde jaarlikse temperatuur sowat 0,50 tot 0,65 °C per 100 meter hoogte bo seevlak afneem. Die meeste reënval kom in die somer voor, en die westelike randgebiede van die Alpebergreeks kry danksy die westelike winde dikwels tussen 2 000 en 3 000 millimeter reën per jaar.

Die suidelike Alpe word deur die Mediterreense klimaat beïnvloed; die somers is hier baie warm en die winters gematig. Die grootste reënval kom hier in die lente en somer voor.

Die valleie en bekkens binne die Alpegebied (waaronder Valais/Wallis, Vinschgau en Karintië) lê in die reënskadu en is gevolglik droë streke met dikwels minder as 800 millimeter reën per jaar. Tydperke van inversie is veral tydens die winter 'n tipiese weersverskynsel in die Alpebekkens soos Lungau en die Klagenfurtse Bekken in Oostenryk. Vanweë die windstilte vorm koue lugmassas in die laer geleë gebiede. 'n Ander bekende meteorologiese fenomeen is die föhn, 'n warm valwind.

Weens die laer digtheid van die atmosfeer word die Alpe deur 'n sterker regstreekse sonstraling gekenmerk, terwyl die diffuse straling swakker is. Die temperatuurverskil tussen die son- en skadusye van berghellings is dus taamlik groot.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Romeinse tydperk

[wysig | wysig bron]
Romeinse amfiteater in Forum Claudii Vallensium (tans Martigny, kanton Valais, Switserland), 'n nedersetting in 'n sterk geromaniseerde streek
Romeinse provinsies en handelsroetes in die Alpegebied omstreeks 150 n.C.
'n Romeinse suil langs die pad oor die Julier-bergpas

Die Romeine het aanvanklik min belang in die Alpegebied gestel. Na hierdie bergwêreld is dikwels as montes horribiles of "verskriklike berge" verwys,[2] veral omdat hulle die Keltiese en Retiese bewoners as vyandig beskou en die roetes oor die bergpasse as baie gevaarlik geag is. Maar die feit dat Keltiese stamme die Alpe oorgesteek en hulle in Noord-Italië (die Romeinse Gallia cisalpina) gevestig het was bewys genoeg dat die bergreeks allesbehalwe onoorkombaar was. Toe die Romeine Noord-Italië in die 2de eeu v.C. verower het, het hulle nuwe versterkte nedersettings naby belangrike bergpasse gestig of bestaande nedersettings teen moontlike aanvalle beskerm. 'n Ander Romeinse strategie was om ooreenkomste met plaaslike heersers te sluit waarvolgens toegang tot die bergpasse gewaarborg is. Die Groot St. Bernardpas het byvoorbeeld deel uitgemaak van die kortste roete tussen Rome en Brittanje en was van groot strategiese belang tydens die regering van keiser Claudius wat 'n poging onderneem het om die eiland te verower.

Die beheer oor bergpasse en handelsroetes was die belangrikste rede vir die Romeinse verowering van die Alpegebied. So was die bergpasse die enigste geografiese punte in die bergreeks waaraan Kelte en Romeine name gegee het. By die passe is Romeinse doeanestasies opgerig waar 'n heffing van 2,5% op alle goedere, wat oor die Alpe vervoer is, betaal moes word – die sogenaamde Quadragesima Galliarum. Met die uitsondering van enkele troepe, wat paaie beskerm het of aan provinsiale administrasies ondergeskik was, is byvoorbeeld op die gebied van die huidige Switserland geen Romeinse magte in die Alpe gestasioneer nie.

Vir die Alpebewoners was die vervoer van persone en goedere, die onderhoud van paaie en militêre diens, graanverbouing, bye- en veeteelt asook die ontginning van natuurlike hulpbronne soos hout, silwer, koper, yster, marmer, kalk- en speksteen en bergkristalle die vernaamste bronne van inkomste. Alpynse hout is so ver as Rome vervoer, en Alpynse kaas het Romeinse fynproewers gaande gehad.[3]

Op kulturele en taalkundige gebied het die Romeine hul invloed veral langs die groot deurgangsroetes, op handelsplekke en by heiligdomme laat geld. Romeinse villas, landgoede, mutationes (plekke waar perde geruil kon word) en mansiones (gashuise) het ontstaan. Ander plekke is minder sterk deur romaniserende invloede geraak, al het Latyn die algemene verkeerstaal in die Alpegebied geword en was Romeinse goedere en muntstukke ook in afgeleë streke gewild. Een van die groot Romeinse paaie, die Via Claudia Augusta wat in 50 n.C. geopen is, het verkeerstrome tussen Italië en die gebied rondom die huidige Augsburg in Beiere oos van Graubünden (Grisons) oor die Reschen- en Fernpas laat loop voordat dit deur 'n nuwe roete oor die Brennerpas vervang is. In verderaf geleë streke soos Graubünden (tans in Oos-Switserland) het bewoners min voordeel uit handel met die Romeinse suide getrek en dikwels in dieselfde eenvoudige hutte gewoon soos hul voorvaders in die Ystertydperk.

Die Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Lauterbrunnenvallei, Switserland
Snelweg oor die Brenner-bergpas in Oostenryk

Die Alpynse bergwêreld is sedert antieke tye as 'n onherbergsame gebied beskou waar slegs minder beskaafde mense 'n uiters primitiewe bestaan kon voer. Hierdie sienswyse het eeue lank onveranderd gebly, maar as gevolg van die groter bevolkingsdigtheid het mense in die Middeleeue langsamerhand ook belang in die Alpe en hul ekonomiese potensiaal begin stel. So het nuwe nedersettings in Alpynse valleie ontstaan, en die bergpasse het as deel van handelsroetes al hoe belangriker geword. Die berge self is egter nog steeds as gevaarlike en selfs angswekkende, mitiese plekke beskou en het die aanleiding gegee tot allerhande bygelowe. Die Middeleeuse berigte oor die sogenaamde "Heksesabbat" het hulle oorsprong in vroeë 15de eeuse oorlewerings uit die gebiede van Valais en Dauphiné in die Wes-Alpe.

As reaksie op die volksgeloof, wat na die bergwêreld as 'n tuiste van demone verwys het, het die kerklike owerhede orals in die Alpe gebedsplekke en heiligebeelde ter ere van die beskermheiliges soos Sint Bernard en Sint Niklaas opgerig.

Eers in die renaissance-tydperk het mense werklik in die bergwêreld begin belangstel, en in 1387 het die monnik Niklaus Bruder († 1417) uit die Switserse stad Luzern met vyf geestelike metgeselle die verbod om die bergwêreld te betree gebreek en vir die eerste keer die bergpiek Pilatus beklim. Hy het sodoende die bewys gelewer dat mense die berge sonder vrees kon aandurf. Nogtans is hy en sy begeleiers deur die owerheid gestraf en in die tronk opgesluit.[4]

Die moderne tydperk

[wysig | wysig bron]
Die kasteel van Sargans, kanton St. Gallen, Switserland

Die Switserse humaniste van die 16de eeu het hierdie proses van ontmitologisering van die bergwêreld op 'n wetenskaplike basis voortgesit. Mense het vir die eerste keer die majestueuse landskap in sy mooiheid ervaar en die berge se geografiese betekenis as 'n natuurlike grens tussen Noord-Europa en Italië, maar ook as 'n oorgangsgebied met bergpasse en 'n landskap met landboupotensiaal danksy sy weivelde besef.

Sedert die laat 17de eeu het geleerdes die Alpe in hul werke vanuit 'n natuurkundige en teologiese standpunt begin behandel, en die ontmitologisering van die berge is nou ook deur die begin van die alpinisme bevorder. Moeilike bergpieke soos die Mont Blanc is deur geleerdes beklim, en hulle berigte het vinnig die eerste welgestelde toeriste, onder meer uit Engeland, gelok. Stede soos Genève het die vertrekpunt van talle reisgroepe op pad na die "yswêreld" van berge en gletsers geword. Mense het die grootsheid van die Alpewêreld bewonder en die lewe van sy bewoners, veral herders, begin idealiseer en romantiseer.

Sedert die dertigerjare van die 19de eeu lok die eerste grootpaaie oor die bergpasse as vernuftige prestasies van die destydse ingenieurskuns die bewondering van mense uit, en ook talle kunstenaars het die wisselwerking tussen natuur en tegniek as 'n nuwe motief ontdek.

Demografie

[wysig | wysig bron]

Antieke tydperk en vroeë Middeleeue

[wysig | wysig bron]
Sedert die hoë Middeleeue het mense die hoër geleë Alpynse streke gekoloniseer wat voorheen as ontoeganklik beskou is. Die foto wys 'n bergweiveld in die Entlebuch-streek van die Switserse kanton Luzern

Vanaf die 4de eeu n.C. was die noordelike Alperandgebied in die huidige Switserland en Oostenryk 'n toevlugsoord vir die Gallo-Romeinse bevolking wat onder die druk van Germaniese Alemanne uit die noorde moes swig. Romaanssprekende gebiede het hier nog eeue lank voortbestaan. Langobardiese setlaars, wat vanaf die laat 6de eeu valleie in die Suid-Alpe binnegedring het, is geleidelik geromaniseer. Die Sentraal-Alpe van Switserland is vanaf die 7de eeu deur Alemanne gekoloniseer, terwyl die Germaanse invloed ander gebiede soos Retië in die ooste eers vanaf die 11de eeu merkbaar toegeneem het.

Alemanniese setlaars het in dié tydperk in die droë streke van die huidige kanton Wallis in berggebiede binnegedring wat sowat 1 500 m bo seevlak geleë was. Van hier is later, in die 12de eeu, ook hoër geleë valleie in die Suid-Alpe en in Graubünden ontsluit.

In die 11de eeu het die Alpegebied 'n bloeitydperk van landbou en kultuur beleef wat deur 'n lang periode van politieke stabiliteit opgevolg is. Die agrariese stelsel, wat in dié periode gevestig is, het tot in die 20ste eeu voortbestaan. Die florerende Middeleeuse landbou kon voordeel trek uit 'n klimaatsverandering wat tot 'n merkbare verwarming gelei het. In die Wes- en later ook Oos-Alpe is uitgestrekte bosgebiede afgekap om nuwe landbougrond te ontsluit. Vooruitgang in die landbousektor het die groei van nie-agrariese ambagte bevorder, terwyl markte ontstaan het waarop boere die oorskot van hul produkte – veral kaas, groente en vleis – kon verkoop.[5]

Huidige tendense

[wysig | wysig bron]

Die Alpe huisves tans 'n bevolking van sowat 13 miljoen. Sterk bevolkingsgroei word byna uitsluitlik in verstedelikte gebiede aangeteken, terwyl nedersettings in meer afgeleë streke deur ontvolking en veroudering bedreig word. Meer as sestig persent van Alpynse munisipaliteite word intussen as verouder beskou. Tradisionele bedrywe soos akkerbou en veeteelt kom hier geleidelik tot stilstand.[6]

Kultuurgeskiedenis

[wysig | wysig bron]

Veranderende persepsies

[wysig | wysig bron]

Voor-industriële waarneming – montes horribiles of vreeswekkende berge

[wysig | wysig bron]
Eers met die opkoms van moderne natuurwetenskappe is die natuur nie meer as 'n bedreiging ervaar nie: die bergpieke Matterhorn en Dent d'Hérens, soos gesien vanaf die bergpiek Dom, kanton Valais/Wallis, Switserland

Die tradisionele voor-industriële persepsie van die Alpynse bergwêreld berus op die beskrywings van Romeinse outeurs wat vir lesers die beeld van vreeswekkende berge of montes horribiles gewek het, 'n ruwe landskap wat as onbewoonbaar beskou moes word of wat net aan barbare 'n uiters primitiewe bestaan kon bied. Dié antieke assosiasies het die Europese kultuurgeskiedenis nog tot in die laat 18de eeu oorheers. Mense het die Alpynse bergwêreld vermy wat – volgens legendes – as die setel van demone beskou is.

Die vereenvoudigde Romeinse sienswyse het voortgespruit uit die denkwêreld van beskaafde stedelinge wat alle gerieflikhede kon geniet en was hoofsaaklik gegrond op die gevare wat aan die oorsteek van die Alpereeks of 'n lewe te midde van die bergpieke verbonde was, die beperkings wat op boerdery-aktiwiteite geplaas is en die gebrek aan kulturele sentra. Maar reeds in die antieke tydperk is die teendeel bewys en het nuwe Romeinse paaie 'n betreklik vinnige en veilige reis deur die Alpe moontlik gemaak, was Alpynse landbouprodukte soos kaas uiters gewild in stedelike nedersettings en kon die vaardighede van mense, wat in die bergwêreld 'n bestaan vir hulself verseker het, wél as 'n kulturele prestasie beskou word.[7]

Ontsluiting van die bergwêreld se estetiese waarde

[wysig | wysig bron]

Die Middeleeuse Italiaanse skrywer, digter en geskiedskrywer Francesco Petrarca (1304–1374) was een van die eerste waarnemers wat die oorgelewerde sienswyse uitgedaag het en onder die indruk van die Alpelandskap se skoonheid en majesteit gekom het. Sy persepsie is gedurende die Renaissance- en Verligtingstydperk toenemend gedeel deur ander beskouers wat, onder die invloed van humanistiese gedagtes, en vry van kerklike bande, die bestyging van berge as liggaamlike oefening en geestelike genot beskryf het.

"Ek het vas besluit om elke jaar enkele bergpieke of ten minste een te beklim (…) om sowel die bergflora te bestudeer asook om vir my liggaam 'n edele oefening en vir my gees 'n genot te verskaf."
Konrad Gessner (1515−1565), geneeskundige en professor in natuurgeskiedenis, in sy werk "De admiratione Montium" ("Oor die bewondering van die berge", 1541)

Die Verligting het belangstelling in natuurwetenskaplike onderwerpe gewek, terwyl die Romantiese beweging met sy intense emosionele natuurervaring vanaf die 18de eeu reise na bergbestemmings aantreklik gemaak het. Die Alpynse bergwêreld se herwaardering word tussen 1760 en 1780 algemeen aanvaar in Europa, onder meer danksy die invloed van Jean Jacques Rousseau (1712–1778) se briefroman Julie, ou la nouvelle Héloïse oor 'n liefdespaar wat in 'n stadjie in die Alpynse voetheuwels afspeel en in 1761 gepubliseer is. Hierdie roman, wat oorspronklik onder die titel Lettres de deux amans, Habitans d'une petite ville au pied des Alpes ("Briewe van twee verliefdes, bewoners van 'n klein dorpie aan die voet van die Alpe") verskyn het en waarin Rousseau die gesofistikeerde Paryse lewe verwerp ten gunste van streng morele waardes en Romeinse burgerdeugde,[8] word tans onder die belangrikste werke van die wêreldliteratuur gereken.

'n Toer deur die Bernse Alpe in Switserland het Engeland se laat-Romantiese meesterdigter Lord Byron geïnspireer tot sy dramatiese gedig Manfred (1817)
Genève met Mont Blanc in die agtergrond, soos gesien vanuit die noordweste
Ets deur Carl Ludwig Hackert (1740–1796)
Switserse Nasionale Biblioteek, GS-GUGE-HACKERT-A-1
Reedmeer teen die agtergrond van die Hohe Tauern-reeks, deelstaat Salzburg, Oostenryk

Die opkoms van moderne natuurwetenskappe en die rasionele wêreldbeskouing, wat daaruit voortgespruit het, het vir mense vir die eerste keer die estetiese waarde van kus- en berggebiede ontsluit en vroeëre waarnemings verdring wat beperk was tot 'n fragmentariese sienswyse van landskapstonele, meestal gegrond op hul ekonomiese waarde en vrugbaarheid as landbougrond, en die gevare, wat die natuur kon inhou, oorbeklemtoon het.

Die nuwe estetiese waarde van Alpynse bergtonele het berus op die teenstelling tussen aantreklike voorgronde – 'n soort idille met boerehuise, persone in tradisionele kleredrag, weivelde en diere wat geborgenheid en veiligheid versinnebeeld het – en agtergronde wat as 'n bedreiging ervaar moes word, met steil bergwande of gletsers wat die ruwe en oorweldigende elemente van die natuur gesimboliseer het.[9] Daardie soort spesifieke landskapstonele kon egter slegs vanuit bepaalde punte af waargeneem word – en dié was dun gesaai. Die baanbrekers van vroeë Alpynse toerisme, wat deur estetiese ontdekkings aangetrokke gevoel het, het hulself ten doel gestel om sodanige punte op te spoor en bekend te maak sodat ander dieselfde genot daaruit kon put.

Die vroegste estetiese waarnemingspunte was nog buite die Alpynse bergwêreld geleë. So het Jean Jacques Rousseau bekendheid verskaf aan die uitsig oor die bergpiek Mont Blanc soos dit vanuit die noordoewer van die Meer van Genève waargeneem kon word.[10] Maar geleidelik is hierdie punte nader aan die Alpereeks en uiteindelik tot sy sentrum en in steeds groter hoogtes verskuif. Nuwe en verhoogde spanning word geskep deur die dreigende bergwêreld en sy pieke van nader te beskou.

Interessant genoeg het hierdie nuwe waarneming van die Alpewêreld gepaard gegaan met die nywerheidsomwenteling en modernisering in Europa, en het dus nie vanuit die berggebiede self gekom nie. Voor 1760 was dit hoofsaaklik geleerdes uit stedelike nedersettings buite die Alpe wat oor die bergtonele opgewonde geraak het. Die tweede tydperk, die baanbrekerstyd tussen 1760 en 1880, word oorheers deur toeriste (en bergklimmers) uit Engeland, die bakermat van die nywerheidsomwenteling. So is die eerste bergklimklub ter wêreld, die Alpine Club, in 1857 in Londen gestig.[11] Vanaf 1880 wek die Alpe die belangstelling van moderne toeriste uit Europa se nywerheidstede – ter verbasing van die inheemses wat die Alpe-geesdriftiges aanvanklik as "mal" beskou, maar kort voor lank as 'n welkome nuwe bron van inkomste begin waardeer en hul dienste aanbied as toergidse en kamerverhuurders.[12]

Die romantiese toeristiese ideaal berus op die selektiewe waarneming van buitestaanders en stedelinge wat op soek is na estetiese ontspanning in 'n ongerepte natuurwêreld waar die mens nog nie sy merk gelaat het nie, of waar ten minste 'n paradysagtige wêreld aangetref word waar onbedorwe bewoners in harmonie met hul natuurlike omgewing en in vryheid lewe (in teenstelling met die toeris se eie leefwêreld binne die destydse min of meer absolutistiese bedelings), al voldoen die bergwêreld nie oral aan dié ideaal nie en word die Alpereeks se ekonomiese geleenthede al eeue lank benut en ontsluit.

Kritiek op ekonomiese ontsluiting en vryetydsbesteding in die postmoderne tydperk

[wysig | wysig bron]

Vanaf die vroeë 1970's het omgewingsbewaringsgroepe hul stem laat geld met 'n nuwe waarneming van die Alpe waarin omgewingsvraagstukke sentraal gestaan het. Interessant genoeg het hulle die tradisionele romantiese Alpebeeld as uitgangspunt en maatstaf geneem het vir die felle kritiek wat hulle op moderne verskynsels soos die bergreeks se stelselmatige ontsluiting vir vervoer, verstedeliking en massatoerisme gelewer het.[13] Hul selektiewe waarneming projekteer dikwels 'n Alpebeeld waaruit ekonomiese aktiwiteite summier verban word.

Westerse samelewings se oorgang van nywerheids- tot dienste-ekonomieë, wat in die tydperk tussen 1965 en 1985 voltrek is, het inderdaad ook gepaard gegaan met sosiale en kulturele veranderinge waardeur die toeristiese publiek se waarneming van die Alpe geraak is. Vryetydsbesteding het sinoniem geword met aktiewe ontspanning en deelname aan skisport. Hoe meer Alpebesoekers genot vind by liggaamlike sensasies, hoe meer word natuur beperk tot die materiële basis en visuele agtergrond vir dié aktiwiteite wat as aangenaam ervaar kan word, maar nie lewensnoodsaaklik daarvoor is nie. Die koop van 'n skihyserkaart het die fisiese uitdagings en ervarings van bergklim maklik vervang.

Filosofie en literatuur

[wysig | wysig bron]
Caspar David Friedrich: Wandelaar bo die see van mis

Rousseau se Briewe van twee verliefdes uit 'n klein nedersetting aan die voet van die Alpe was minstens in twee opsigte 'n rewolusionêre boek. Baie van die Franse rewolusionêres, wat die ou bewind en orde in 1789 omvergewerp het, het daarmee grootgeword. In 'n tyd, toe die tradisionele godsdiens saam met die ou wêreldlike orde bevraagteken moes word, het die Alpynse bergwêreld self 'n voorwerp van aanbidding geword – as 'n beskermende wal teen kultuur en beskawing, 'n toevlugsoord waar die oorspronklike natuurlike wêreld in al sy harmonie en geluksaligheid bewaar gebly het. Mense, wat staptoere in die Alpe onderneem het, het Rousseau se boek saamgeneem as die eerste staptoergids ter wêreld.[14]

'n Tweede, latere werk van Rousseau wat in sy laaste lewensjare tussen 1776 en 1778 ontstaan het, met sterk outobiografiese trekke, het die sleutelwoorde vir 'n nuwe religieus-filosofiese stroming gelewer. In Les rêveries du promeneur solitaire ("Die dromerye van 'n eensame wandelaar") skep die filosoof die ideaal van die eensame wandelaar wat gedurende sy staptoere deur die bergwêreld op soek is na die weerspieëling van sy eie gemoedslewe. Sodoende word natuur 'n metafoor vir die menslike siel.[15]

Die gevolge van aardverwarming

[wysig | wysig bron]
Die Groot Aletsch-gletser in 1979 (links), 1991 (middel) en 2002 (regs)

Aardverwarming hou 'n groot bedreiging vir die Alpe se damme, kragsentrales, landbou en toerisme in. Die drie eersgenoemdes is aangewese op bepaalde neerslae en sal waarskynlik deur skommelinge in die jaarlikse reënval geraak word. Hierdie skommelinge is een van die effekte van die temperatuurstyging in die Alpegebied wat in die honderd jaar tussen die vroeë 20ste en 21ste eeu 1,5 °C beloop het en dus twee keer so hoog was soos die wêreldwye gemiddelde.[16]

Die Duitse deelstaat Beiere koördineer tans die navorsingsprojek "Climate Change Impacts and Adaption Strategies in the Alpine Space" wat die gevolge van klimaatsverandering in die Alpegebied ondersoek en probeer om aanpassingstrategieë te ontwikkel.

Die Alpegletsers se smeltproses is een van die eerste dramatiese effekte wat reeds besigtig kan word – talle gletsertonge het in die laaste dekades oor 'n afstand van honderde meter teruggetrek. Die Switserse gletsers het volgens nuwe metings tussen 1985 en 2000 twintig persent van hulle oppervlak en 'n kwart van hul volume verloor. Die verlies aan oppervlak het in die tydperk tussen 1973 en 1985 slegs sowat een persent beloop.[17] In 2017 is die jaarlikse verlies aan gletserys op twee kubieke kilometer beraam.[18]

Die smeltproses by die Schneeferner-gletser van Duitsland se hoogste bergpiek, die Zugspitze (2 962 meter), het die plaaslike owerhede genoodsaak om rotsheuwels te verwyder wat andersins 'n bedreiging vir skitoeriste sou inhou. Die gletser verloor op 'n warm dag tans tien sentimeter en produseer daagliks 35 miljoen liter se smeltwater. Met die gletsers raak die Alpebewoners 'n belangrike bron van drinkwater kwyt, terwyl stap- en skitoeriste deur rotsstortings bedreig word. Navorsers vrees dat die Beierse gletsers binne twintig jaar sal kan verdwyn, terwyl daar moontlik palms in die gebied van die Beierse mere sal aard.

Stygende wintertemperature en veranderde neerslagpatrone dra daartoe by dat in baie tradisionele skigebiede minder sneeuval aangeteken word. In Duitsland, Oostenryk en Switserland moet sogenaamde sneeukanonne ingespan word om skihellings met kunssneeu te bedek. Tussen Oktober en Pase is orals in die Alpe altesaam 40 000 sneeukanonne in bedryf.[19]

Ekonomie

[wysig | wysig bron]
'n ABe 8-12-Allegra-treinstel van die Switserse spoorwegmaatskappy Rhätische Bahn op pad na Tirano, Italië

Geografiese en klimatologiese omstandighede bepaal die ekonomiese basis van die verskillende gebiede. Die noordelike Vooralpegebied word deur 'n moderne landbousektor met melkboerdery en veeteelt gekenmerk, terwyl die bosgebiede 'n aantal werksgeleenthede in die houtbedryf skep. Die gematigde klimaat in die valleie van die suidelike Alpe is uiters geskik vir die wynbou en vrugteverbouing, terwyl in die oostelike gebiede sout en ertse gemyn word.

Hidroëlektriese kragopwekking voorsien in die elektrisiteitsbehoeftes van baie Alpegebiede.

Die alpiene sportbedryf is 'n belangrike bron van inkomste in alle gebiede, alhoewel die massatoerisme negatiewe uitwerkings op die sensitiewe omgewing en mikroklimaat van die gebergte het.

Sien ook

[wysig | wysig bron]

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (de) O. Cuntz: Die Geographie des Ptolemäus. Berlyn 1923
  2. (de) Werner Bätzing: Die Alpen. Geschichte und Zukunft einer europäischen Kulturlandschaft. 3de uitgawe. München: C.H. Beck 2005, bl. 13
  3. (de) Historisches Lexikon der Schweiz: Alpen – Die Römerzeit
  4. (de) Historisches Lexikon der Schweiz mobil: Alpinismus. Besoek op 11 Desember 2017
  5. (de) Planet Wissen: Landwirtschaft in den Alpen. Besoek op 11 Desember 2017 Geargiveer 7 September 2017 op Wayback Machine
  6. (de) www.3sat.de: Umbau der Alpen – Die Grenzen des Wachstums. Besoek op 11 Desember 2017
  7. (de) Werner Bätzing: Die Alpen. Geschichte und Zukunft einer europäischen Kulturlandschaft. München: C.H. Beck 2015, bl. 14
  8. (en) Angela Easterhammer, Diane Piccitto en Patrick Vincent (reds.): Romanticism, Rousseau, Switzerland. New Prospects. Basingstoke: Palgrave Macmillan 2015, bl. 1
  9. (de) Bätzing (2015), bl. 15
  10. (de) Bätzing (2015), bl. 16
  11. (en) Alpine Club: Mission. Besoek op 24 Mei 2017 Geargiveer 3 Julie 2017 op Wayback Machine
  12. (de) Bätzing (2015), bl. 16–17
  13. (de) Bätzing (2015), bl. 18
  14. (de) Michail Schischkin: Auf den Spuren von Byron und Tolstoi. Eine literarische Wanderung von Montreux nach Meiringen. Zürich: Rotpunktverlag 2012
  15. (de) Schischkin (2012)
  16. (de) www.3sat.de: Umbau der Alpen – Die Grenzen des Wachstums. Besoek op 11 Desember 2017
  17. (de) Globale Erwärmung: Gletscherschwund weltweit beschleunigt. In: Der Fischer Weltalmanach 2006. Frankfurt am Main: Fischer Taschenbuch Verlag 2005, bl. 684
  18. (de) www.3sat.de: Umbau der Alpen – Die Grenzen des Wachstums. Besoek op 11 Desember 2017
  19. (de) www.3sat.de: Umbau der Alpen – Die Grenzen des Wachstums. Besoek op 11 Desember 2017

Bronne

[wysig | wysig bron]
Kultuurgeskiedenis
  • (fr) Dictionnaire historique de la Suisse. Boekdeel I. Hauterive: Editions Gilles Attinger 2002
Klimaatsverandering
  • (de) Alpen-Klima: Das Eis geht, die Palmen kommen. Der SPIEGEL Online, 3 Augustus 2006: spiegel.de – Besoek op 1 Oktober 2007
Ensiklopedieë

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]
  • (en) Toerisme-inligting oor Alpe op Wikivoyage
  • (en) "Alps". Encyclopædia Britannica. Besoek op 27 April 2019.