Alfred Schaffer, Shaka en die transnasionalisme
Louise Viljoen
Alfred Schaffer, Shaka and transnationalism
In this article, I read the Dutch poet Alfred Schaffer’s volume of poetry Mens dier ding (Man animal thing) against the background of transnationalism.
I employ transnationalism as critical or hermeneutic perspective and focus on the identity of the author, the themes worked out in the volume and
the use of anachronism and metapoetical references as literary strategies in support of the transnational nature of the text. Reference is made to
the way in which Schaffer’s biography (his Dutch-Aruban descent, his movement between the Netherlands and South Africa, his views on poetry)
facilitates a transnational reading of his volume Mens dier ding based on the history of the Zulu king Shaka as depicted in Thomas Mofolo’s novel
Chaka (published in 1925). The article also reads Mens dier ding against the background of the idea that transnational literature is a particular kind
of literature that emerges at a specific point in history and deals with issues and themes associated with imperialism, colonisation, decolonisation
and globalisation such as migration, displacement, cultural hybridity, identity, citizenship and the status of refugees. This reading is prompted by
the fact that Schaffer displaces the historical Shaka to the present and eventually also represents him as an asylum seeker in an unnamed country. I
discuss the volume’s formal features, the transnational conversation with Mofolo’s novel, the use of anachronism and the insertion of metapoetical
elements in the text as literary strategies to deal with transnational issues such as migration, displacement, racial hierarchies, inequality and refugee
experience. Keywords: transnationalism, transnational literature, minor transnationalism, lateral transnationalism, anachronism, metapoetry, Alfred
Schaffer, Mens dier ding, Thomas Mofolo, Chaka.
Inleiding
By die oorhandiging van die P. C. Hooft-prys aan Alfred Schaffer op 9 September 2021 verwys Ellen Deckwitz na
sy bundel Mens dier ding van 2014 as ’n “vuurwerkbom […] een mix van een geschiedenisboek en een lsd-trip” en
sê sy dat dit ’n belangrike breuk met sy werk tot in daardie stadium verteenwoordig (Glorie). Die bundel Mens
dier ding het inderdaad ’n verskuiwing en vernuwing in Schaffer se oeuvre gebring, onder andere deur die manier
waarop dit nasionale grense oorgesteek het met die verwerking van die Suid-Afrikaanse historiese figuur Shaka
(1787–1828) se lewensgeskiedenis, aan die hand van ’n roman oor sy lewe deur die Sotho-skrywer Thomas Mofolo.
Die bundel oorskry ook nasionale grense deur die manier waarop dit omgaan met kontemporêre kwessies soos
migrasie, vlugtelingskap, rassisme en dekolonisering. Hierdie artikel is ’n poging om Schaffer se bundel te plaas
teen die agtergrond van die transnasionalisme en transnasionale letterkunde, en aan die hand daarvan sekere
leesvoorstelle te maak.1
Transnasionalisme en die sogenaamde “transnational turn” het in die laaste twee dekades binne verskillende
dissiplines na vore getree as ’n belangrike manier om te besin oor die impak wat bewegings oor nasionale grense heen
binne daardie dissiplines het, alhoewel daar ooreenstemming is dat die wortels daarvan veel ouer is (Vandebosch
en D’haen 3). Ingebed in die term “transnasionalisme” is die idee van ’n oorskryding van die grense van die nasie,
wat veral verbind word met negentiende-eeuse idees oor die nasie. Presies hoe ’n mens die begrip “nasie” moet
verstaan, is die onderwerp van heelwat debat. Jay wys daarop dat ’n nasie nie noodwendig ooreenstem met ’n staat
nie: sommige nasies is staatloos, terwyl sommige state uit verskillende nasies bestaan—’n nasie is ’n kulturele
Louise Viljoen is ’n afgetrede dosent en navorser aan die Departement Afrikaans en Nederlands, Fakulteit Geesteswetenskappe, Stellenbosch Universiteit,
Stellenbosch, Suid-Afrika. Haar navorsingsfokus is die Afrikaanse letterkunde, met spesifieke verwysing na postkolonialisme, geslagtelikheid, identiteit en
transnasionalisme.
E-pos:
[email protected]
https://orcid.org/0000-0002-1748-9098
DOI: https://doi.org/10.17159/tl.v59i1.12921
DATES:
Submitted: 10 December 2021; Accepted: 24 February 2022; Published: 8 April 2022
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
© 2022. Tydskrif vir Letterkunde. Published under a Creative Commons Attribution License.
25
kategorie en ’n staat ’n wetlike entiteit (12). Met verwysing na die etimologie van die Latynse woord “natio” en die
werkwoord onderliggend daaraan, gee Morgan ’n verduideliking wat die klem laat val op ’n geografiese, kulturele
en linguistiese verstaan van die begrip “nasie”: “This verb carries the passive sense of being born into a place,
time, group or race with its specific language, dialect and ethno-cultural attributes. Thus ‘transnationalism’ in a
historical sense might incorporate this earlier and deeper sense of ‘nation’, and transnationalism in literature might
be glossed more broadly as the textual evidence of those forces which compete with the sense of ‘at homeness’ of
the literary voice, including geographical, cultural and linguistic identity-giving factors” (10). Transnasionalisme
in die letterkunde behels dus ook oorskryding van die soort grense opgelê deur geografie, kultuur en taal, nie net
van die nasie-staat nie.
Wiegandt wys daarop dat die konsep transnasionalisme literêre ondersoekers die geleentheid gee om
bepaalde eienskappe van literêre tekste, hulle bemarking en resepsie, die identiteit van outeurs en literêre karakters
te identifiseer wat nie noodwendig deur ander konsepte of benaderings belig word nie (1). Met verwysing na
die antropoloog Vertovec se werk oor transnasionalisme verskaf hy ook ’n taksonomie van die transnasionale in
letterkundestudie deur te verwys na ses kategorieë op grond waarvan tekste as transnasionaal geïdentifiseer kan
word: (1) identiteit, waarvolgens outeurs, literêre bewegings of literêre karakters as transnasionaal geïdentifiseer
word; (2) tema, waarbinne kwessies soos die lewens van diaporiese individue, migrasie of bewegings en
gebeurtenisse oor nasionale grense heen beskryf word as transnasionaal; (3) estetika, wanneer literêre tekste en
genres wat put uit estetiese vorme wat oor nasionale grense heen funksioneer, insluitende trans- en multilinguale
werke, uitgewys word as transnasionaal; (4) resepsie, wanneer lesers nie noodwendig gekategoriseer word op
grond van hulle nasionaliteit nie, maar volgens ander faktore soos gedeelde belangstellings, opvoedkundige
agtergrond of ’n gedeelde lesersinstelling wat oor nasionale grense heen funksioneer; (5) bemarking, indien daar
gefokus word op die bemarking van literêre tekste deur te wys op die transnasionale identiteit van die skrywers
en/of karakters, die transnasionale aard van die temas of die transnasionale estetika van die betrokke werke; en
(6) kritiese perspektief, wanneer literêre tekste gelees, geïnterpreteer en geklassifiseer word sonder inagneming van
nasionale affiliasie (Wiegandt 2–3).
Hierdie bespreking van Alfred Schaffer se digbundel Mens dier ding sluit in verskillende opsigte aan by die
kategorieë uitgewys deur Wiegandt. Dit sal uitgaan van die transnasionale as ’n kritiese perspektief en aansluit
by Vandebosch en D’haen se opmerking dat transnasionalisme nie net ’n objek van studie is nie, maar ook ’n
hermeneutiese perspektief wat die nasie as analitiese en organiserende kategorie in die letterkundestudie
bevraagteken (1). Terselfdertyd sal die bespreking in ag neem dat die blote gebruik van die term transnasionaal
die belangrikheid en relevansie van die nasionale impliseer. Wiegandt skryf dat die term transnasionaal juis
erkenning gee aan die nasionale deur aan te dui dat iets of iemand die grense daarvan oorskry: “‘Transnational’
does not imply that nations no longer play a role, but recognises that nations remain decisive actors in a globalised
world” (7). Asmann argumenteer eweneens dat die nasie nie weggedink word uit die transnasionalisme nie, maar
eerder simbolies en polities herverbeel word: “They [nations] are imagined differently as inherently and externally
relational, embedded and contextualised, always implicated in and partaking of larger processes and changes”
(Assmann 547).
Met Wiegandt se taksonomie in gedagte sal hierdie bespreking verder ook fokus op die transnasionale
identiteit van die skrywer asook die transnasionale tematiek en transnasionale estetika onderliggend aan die
bundel. Wat die transnasionale tematiek betref, sal dit uitgaan van die standpunt dat Mens dier ding op verskillende
maniere die tema van transnasionale beweging na vore bring. Jay argumenteer dat transnasionale letterkunde op
twee maniere gekonsepsualiseer kan word. Aan die een kant kan die transnasionaliteit van letterkunde, met ander
woorde die beweging van literêre tekste oor grense heen, gesien word as iets wat nog altyd bestaan het en waarvan
die produksie, bewegings en resepsie bestudeer word om na te gaan wat sodanige tekste in staat gestel het om
buite hulle historiese en geografiese oorspronge te beweeg. Aan die ander kant kan transnasionale letterkunde
gesien word as ’n bepaalde soort letterkunde, wat op ’n spesifieke historiese moment na vore getree het en waarin
daar sprake is van bepaalde temas en literêre tegnieke. Wanneer hy transnasionale letterkunde onderskei van
wêreldletterkunde (“world literature”) omskryf hy dit as volg: “In contrast, transnational literature is a particular
type of literature, emergent at an identifiable historical moment and dealing, collectively, with a set of issues
and themes associated with decolonization, globalization, postmodernity, and technology. Put another way,
transnational literature is about the variety of forms of transnational experience produced by the convergence
of these forces” (51). Omdat transnasionale letterkunde fokus op die sosiale, politieke, kulturele, ekonomiese en
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
26
sosiale kragte wat gepaard gaan met imperialisme, kolonialisme, dekolonisering en globalisering, betrek dit ’n
wye spektrum van kwessies en onderwerpe, waaronder migrasie, verplasing (“displacement”), ballingskap, die
vloeibaarheid van letterlike en figuurlike grense, kulturele hibriditeit, identiteit en burgerskap, die status van
vlugtelinge, ensomeer (52). Schaffer se Mens dier ding sou verder as ’n voorbeeld van transnasionale letterkunde
gesien kan word as gevolg van die wyse waarop dit sommige van hierdie kwessies aanroer.
Verder ter sake by die lees van die Nederlandse digter Schaffer se bundel Mens dier ding oor die SuidAfrikaanse historiese figuur Shaka en ’n skrywer uit Lesotho (vroeër Basotholand) se verwerking van hierdie
historiese gegewens in ’n roman is die idee van “minor transnationalism”, soos omskryf deur Lionnet en Shih.
Hulle argumenteer ten eerste dat die transnasionale nie gebonde is aan die binêre opposisie tussen die lokale en
die globale nie, maar dat dit kan voorkom bínne die grense van nasionale ruimtes (6). Die idee dat transnasionale
bewegings ook binne nasionale grense kan uitspeel, vind ’n mens in talle omskrywings van die transnasionalisme
(vergelyk Jay 10; Vandebosch en D’haen 4). Wat Suid-Afrika betref, is daar byvoorbeeld sprake van een SuidAfrikaanse staat wat bestaan uit diverse rasse, etniese groepe, kulture, taalgroepe en letterkundes. ’n Transnasionale
benadering sou dus bewegings tussen hierdie groepe (byvoorbeeld in die vorm van vertalings, uitruilings op die
gebied van vorm en tema, intertekstuele gesprekke) kon akkommodeer en selfs fasiliteer. Morgan herinner ’n
mens ook daaraan dat hierdie proses onderskei moet word van multikulturalisme in literêre studie wat verwys
na werke wat binne ’n bepaalde land geskryf word deur outeurs van verskillende etno-kulturele agtergronde of
immigrante-oorspronge, maar tog ingebed is in die raamwerk van ’n nasionale letterkunde (5). In dié geval is daar
nie sprake van ’n bevraagtekening of selfs problematisering van die konsep nasie as ’n analitiese of organiserende
beginsel nie.
Wat Lionnet en Shih betref, word die integrale rol wat minderheidskulture (“minor cultures”) in die
transnasionalisme speel, ontken as gevolg van ’n manier van dink oor die transnasionalisme wat steeds berus op
binêre opposisies soos dié tussen die globale noorde en globale suide, ook tussen die dominante en die ondergeskikte
(8). Hiervolgens word die transnasionalisme gesien as ’n vertikale beweging van die kleiner of minder gerekende
kulture (“minor”) na die groter en meer belangrike kulture (“major”), eerder as om ook ondersoek in te stel na die
bewegings en netwerke tussen die kleiner kulture onderling. Volgens Lionnet en Shih is die logika van globalisering
sowel sentripetaal as sentrifugaal in dié sin dat dit ’n universele norm veronderstel wat oor die wêreld versprei
en ander kulture intrek om uiteindelik getoets te word aan daardie norm. Uiteindelik produseer dit ’n hiërargie
waarin die sogenaamd universele (verbind met die groot kulture wat politieke, ekonomiese en kulturele mag het)
hoër gewaardeer word as die lokale (verbind met die kleiner kulture wat nie oor daardie soort mag beskik nie) (5).
Wat hulle betref, is die transnasionale ook ’n ruimte waarbinne uitwisseling en deelname tussen kleiner kulture
kan plaasvind, sonder dat een van die groot kulturele sentrums in die globale Noorde tussen die twee kleiner
kulture hoef te medieer (5).
Dit is opvallend dat Lionnet en Shih in hulle omskrywings van hierdie soort transnasionale verkeer gebruik
maak van die term “minor”, wat enersyds gelees kan word as normatief (in die sin van “minder belangrik” of
“minder waardevol”) en andersyds as beskrywend (in die sin van kleiner in omvang van die literêre veld, die aantal
publikasies, die aantal lesers, ensovoorts). Hulle verwys ook vlugtig na die moontlikheid om die woord “minor”
te lees as ’n verwysing na ’n “minor key” of mineursleutel, soos wat dit in die musiek gebruik word, wanneer
hulle suggereer dat werke wat deel uitmaak van die uitwisselings tipies van “minor transnationalism” dikwels ’n
“introspective and mournful tone” het en dalk die modus is waarin “the trauma of colonial, imperial, and global
hegemonies as well as the affective dimensions of transcolonial solidarities continue to work themselves out” (21).2
Teen hierdie agtergrond verkies ek om liewer—soos T’Sjoen en Linde—die term “laterale transnasionalisme” te
gebruik. Die woord “lateraal” impliseer dat dié vorm van transnasionalisme ’n interaksie tussen verskillende klein
letterkundes is en probeer daarmee afstap van die idee dat daar in essensie ’n hiërargie bestaan tussen groot
(“major”) en klein (“minor”)—sonder om te ontken dat die veronderstelling van so ’n hiërargie deur die groot
imperiale en koloniale sentrums van die wêreld ’n historiese gegewe is wat tot vandag toe gevolge het vir dié in
die eertydse kolonies. Myns insiens sou die interaksie tussen Nederland en Suid-Afrika as ’n vorm van laterale
transnasionalisme gesien kon word omdat beide die Nederlandse en die Suid-Afrikaanse literêre velde as klein
beskou sou kon word. Alhoewel Nederland in vroeër tye groot politieke, ekonomiese en kulturele mag gehad
het, word dit tans nie meer beskou as ’n groot speler in die wêreldrepubliek van die lettere nie. ’n Mens dink hier
aan D’haen se enigsins wrang opmerking dat die Nederlandstalige letterkunde onder die “minor literatures” van
Europa tel, naamlik literature wat min globale blootstelling kry teen die agtergrond van ’n haas oorweldigende
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
27
Anglo-globalisme (8). Die Nederlandse outeur Schaffer se interaksie met ’n Suid-Afrikaanse onderwerp en ’n
Suider-Afrikaanse roman kan myns gelees word as ’n voorbeeld van bogenoemde soort laterale transnasionalisme.
Mens dier ding is ’n bundel van uitsonderlike digtheid, kompleksiteit en subtiliteit wat tot ’n hele spektrum
van ondersoeke en lesings sou kon lei. My eie lesing van die bundel word bepaal deur my gebruik van die
transnasionalisme as kritiese perspektief en ook deur my geplaastheid as (Suid-)Afrikaanse literêre ondersoeker.
My fokus val in hierdie artikel op die identiteit van die digter, die ontstaansproses en die teks, in dié sin dat
ek nagaan in watter mate die digter transnasionaal geplaas is, die ontstaan van die teks beïnvloed is deur
transnasionale bewegings en die teks self getuig van ’n transnasionale ingesteldheid, tematiek en estetika. Ek
sal dus stilstaan by die Schaffer-biografie, die transnasionale gesprek met Mofolo se roman Chaka asook die
gebruik van anachronismes en die metapoësie as literêre strategieë wat die transnasionale aard van die bundel te
ondersteun. Verdere ondersoeke sou gedoen kon word na die transnasionale bewegings van die bundel deur te
fokus op die verskillende vertalings van die bundel (tot op datum is dit in Afrikaans, Frans en Engels vertaal), die
resepsie van die verskillende vertalings binne hulle bepaalde kontekste en die manier waarop die vertaalde teks
opgeneem word in ander literêre sisteme deur lesers en ander skrywers.
Transnasionalisme en die Schaffer-biografie
Wat ’n transnasionale lesing van Mens dier ding betref, sou ’n mens—sonder die ‘psigologisering’ waarteen Franssen
(19) waarsku—kon begin by Schaffer se biografie. Hy verwys by geleentheid na homself as ’n Nederlands-Arubaanse
digter oftewel “Dutch-Aruban poet” (vergelyk die bio-nota by Schaffer, “‘A reflection of a reflection’: Notes on
representational and ethical possiblities in Thomas Mofolo’s Chaka”). Schaffer se vader was ’n Nederlander,
sy moeder ’n boorling van die eiland Aruba (’n Karibiese eiland wat sedert 1636 ’n Nederlandse besitting is),
waarvandaan sy in die vyftigerjare na Nederland gegaan het om daar as verpleegkundige te werk (De Jong). In ’n
gesprek met Willem Anker in 2015 verwys Schaffer na sy familiegeskiedenis as “’n geskiedenis van velkleur, tuis
wees en ontuis voel, migrasie, die Karibiese eilande” (Anker en Schaffer), ’n gegewe wat hy later poëties ondersoek
in sy bundel wie was ik. strafregels van 2020.3
Schaffer is verder ook ’n skrywer wat beweeg tussen sy geboorteland Nederland en Suid-Afrika waar hy tans
woon. Hy kom in 1996 na Suid-Afrika om aan die Universiteit van Kaapstad te studeer waar hy in 2002 ’n PhD
verwerf met ’n proefskrif oor representasies van die argetipiese adolessent en jong man in literatuur uit Nederland,
Afrika en ander wêrelddele. Hierna word hy dosent in Nederlandse letterkunde aan dieselfde universiteit tot
met sy terugkeer na Nederland waar hy vanaf 2005 tot 2007 as fondsredakteur werk by die uitgewery Cossee
en vanaf 2007 tot 2010 by die uitgewery De Bezige Bij. In 2011 keer hy weer terug na Suid-Afrika waar hy doseer
aan die Universiteit van Stellenbosch (vergelyk die onderhoud met De Jong). Daar is dus nie net sprake van die
transnasionale beweging van die skrywer tussen Nederland en Suid-Afrika nie, maar ook—soos wat die fokus van
sy doktorale studie getuig—van ’n belangstelling in die literatuur van Suider-Afrika, Afrika en die groter wêreld
naas dié van Nederland.
Ook belangrik vir ’n begrip van die transnasionale invloede in Schaffer se werk is die impak wat die verblyf
in Suid-Afrika op sy opvattings oor poësie gehad het. In die Hans Groenewegen-lesing, gelewer in Gent in 2019,
sê hy dat ’n mens die bystelling van sy denke oor die poësie “niet los kan zien van de urgente, Zuid-Afrikaanse
leefomgeving die anders is dan die waarin ik opgroeide” (“Op de rug gezien” 7). Hy vertel in dieselfde lesing dat sy
eie voorkeur vir ’n hermetiese poësie, veral gemoeid met die ontginning van taal, op losse skroewe te staan gekom
het na ’n poësie-voorlesing in die Kaapse woonbuurt Delft waartydens ’n vrou ’n gedig oor die verkragting van
haar dogter voorgelees het. Veral treffend vir hom was die feit dat sy juis die medium van die poësie gekies het
om ’n intiem persoonlike ervaring te verwoord (12). Tesame met sy vertaling van die werk van Afrikaanse digters
soos Ronelda Kamfer lei die ervaring in Delft hom daartoe om in hierdie lesing om te gaan met die moontlikheid
dat poësie ’n ambagtelike taalproduk is, wat tegelykertyd persoonlik mag wees én betrokke by die dringende
realiteite wat die digter omring (28). Hy verwys in hierdie verband ook na uitsprake van H. H. ter Balkt en Antjie
Krog (41).
Schaffer verwys ook na die impak van Suid-Afrika op sy werk in gesprekke rondom die toekenning van die P.
C. Hooft-prijs. Op ’n vraag of hy homself as ’n geëngageerde digter beskou en watter rol Suid-Afrika daarin speel,
antwoord hy: “[Zuid-Afrika] heeft mijn blik op poëzie en het leven radicaal veranderd. Zonder Zuid-Afrika en
mijn werk en collega’s daar—altijd in een andere taal aan het werk zijn, alleen dat al—zorgt ervoor dat je anders
tegenover je moedertaal komt te staan. En dan ook nog in een land dat nou niet Frankrijk of Italië of Amerika is.
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
28
Het is iets heel anders, hoewel de Westkaap wel veel Europese invloeden heeft. Je komt daar op straat zoveel
verschillende talen tegen, zoveel contrasten tussen hoe mensen leven in de wereld. Dat doet iets met je als mens,
en dat doet vervolgens ook iets met je als schrijver” (Glorie). Dit blyk dus dat die blootstelling aan die dringende
maatskaplike probleme van Suid-Afrika asook die voortdurende kontak met ander tale as Nederlands ’n impak op
sy skrywerskap het: nie net lei dit tot ’n betrokkenheid by die werklikheid buite die poësie nie, maar ook ’n nuwe
soort bewuswording van sy eie taal. Elders maak hy die opmerking dat die skryf van poësie in Nederlands en die
doseer van Nederlandse letterkunde ’n manier is waardeur sy band met Nederland behoue bly (Glorie).
Hieruit blyk dit dat transnasionale beweging en transnasionale bemoeienisse by wyse van spreke ingebed
is in Schaffer se biografie, sy poëtikale opvattings en poëtiese projekte. Dit verskaf ’n verdere motivering om sy
bundel Mens dier ding as ’n voorbeeld van transnasionale letterkunde te lees.
Die transnasionale en intertekstuele gesprek met Mofolo
Schaffer se keuse om ’n digbundel oor ’n prominente figuur uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis te skryf, is
’n duidelike manifestasie van ’n digterskap gewortel in ’n transnasionale gevoeligheid. ’n Belangstelling in
letterkundes oor nasionale grense heen blyk reeds uit sy doktorale proefskrif, getitel “De geschiedenis van een
jonge god: mythe, primordialiteit en de representatie van de archetypische adolescent en jonge man in werken
uit die moderne Afrikaanse literatuur en de wereldliteratuur” waarin werke uit Europa, Afrika, Japan en die VSA
aan bod kom. Reeds in hierdie proefskrif bespreek Schaffer die Sotho-skrywer Thomas Mofolo se roman Chaka
(voltooi in 1909, gepubliseer in 1925—vergelyk Sandwith 472), tesame met die Afrikaanse digter D. J. Opperman
se gedigreeks “Shaka” uit sy debuutbundel Heilige beeste van 1954, om aan te toon dat die Shaka-figuur gesien kan
word as verteenwoordigend van die universele argetipe verteenwoordig deur die Griekse God Apollo. Winkler
wys daarop dat “de vergelijking over landsgrenzen” moontlik gemaak word deur Schaffer se oortuiging dat ’n
literêre werk pas geslaagd is wanneer dit ’n tydlose of universele laag ontsluit, ’n “sublieme primordialiteit”
aanboor.
Schaffer se terugkeer na die historiese figuur Shaka en Mofolo se roman Chaka met die skryf van Mens dier ding
staan veel sterker in die sfeer van die transnasionalisme as die argetipiese benadering daarvan in sy proefskrif.
Hierdie teks waarin ’n Nederlands-Arubaanse skrywer in gesprek tree met ’n Suider-Afrikaanse Sotho-skrywer
word naamlik geskryf en gepubliseer in ’n tyd waarin die nadruk op die soort omstandighede wat met die
transnasionale letterkunde, soos omskryf deur Jay, geassosieer word veel sterker is as tevore. In die tyd wat die
bundel geskryf, gepubliseer, bekroon en bestudeer word, is daar veral in Europa sprake van ’n krisis rondom
migrante en vlugtelinge. Wêreldwyd is daar ook ’n steeds sterker bewuswording van die effekte van rassisme
(vergelyk die #Black Lives Matter-beweging wat in 2013 in die VSA begin), ’n besondere gevoeligheid rondom
ekonomiese ongelykheid as een van die gevolge van kolonialisme (vergelyk Suid-Afrikaanse bewegings soos
#RhodesMustFall, #OpenStellenbosch en #FeesMustFall in 2015 en 2016) en oproepe om ’n hernude proses van
dekolonisering, veral van universiteite in Afrika. In 2021 sê Schaffer in ’n onderhoud met Laura de Jong dat hy in
Mens dier ding oor ’n swart personasie wou skryf omdat hy vind dat dit te min in die Nederlandse poësie gebeur,
ook omdat kwessies soos rassisme en swart-wit-verhoudings tot in daardie stadium nie so prominent was in sy
bundels nie (De Jong).
Beide die historiese Shaka en Mofolo se roman Chaka was al die onderwerp van verskillende vorme van
transnasionale appropriasie en verwerking. Ten spyte van die feit dat Mofolo gekritiseer is omdat hy homself as
Basothoskrywer aangematig het om oor die Zulu-koning Shaka te skryf (vergelyk Krog 12–3), kan sy roman gesien
word as ’n vorm van laterale transnasionalisme wat die grense tussen twee grondgebiede, etniese en taal-groepe
oorskry het. Wanneer Sandwith skryf oor die publikasie-, vertalings- en resepsiegeskiedenis van Mofolo se roman
aan die hand van paratekstuele gegewens, verwys sy ook na hierdie bewegings as transnasionaal: “There is thus an
important transnational element to its successive restaging as it moves within and across national boundaries and
reading circuits” (472). Vassilatos beskryf op haar beurt Franstalige Afrika-skrywers se verwerking van Mofolo
se roman as ’n gesprek tussen periferieë: “not between metropole and peripheries but within the peripheries, no
matter how removed historically and culturally from one another they appear” (165). Sy lê veral klem op Leopold
Senghor se epiese gedig Chaka, gepubliseer in die bundel Éthiopiques van 1956, waarin hy die Shaka-figuur ’n draer
van sy filosofie van négritude maak deur Mofolo se roman te herskryf en Shaka op poëties-anachronistiese wyse
voor te stel as ’n martelaar vanweë die kolonialisme waaraan Afrika onderwerp is (164–6). Wylie skryf op sy beurt
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
29
in Savage Delight. White Myths of Shaka (2000) oor die manier waarop wit skrywers dié Zulu-koning geapproprieer en
gestereotipeer het in hulle uitbeeldings van hom.
Gesien die ryk voorgeskiedenis van verwerkings van beide die Shaka-geskiedenis en Mofolo se Chaka is dit
nie vreemd dat Schaffer eksplisiet vir homself rekenskap gee van sy eie omgang met die Shaka-figuur en Mofolo
se roman nie. Hy erken dat hy veel verskuldig is aan Mofolo (waarvan hy die Afrikaanse vertaling deur Chris
Swanepoel eerder as die bekende Engelse vertaling deur Daniel Kunene gebruik het) (“‘Reflection of a reflection’”
151). Hy noem sy eie teks ’n kreatiewe verwerking (“creative adaptation”) van die Mofolo-teks, getransponeer na ’n
ander tyd en aangevul met ’n hele spektrum van ander verwysings (149). Nie net word Shaka se lewensgeskiedenis
gefiksionaliseer en verplaas na die hede nie; hy word ook in ’n bepaalde stadium in die teks ’n asielsoeker gemaak
in ’n vreemde land. Laasgenoemde skuif toon in welke mate Schaffer homself besighou met die transnasionale
tematiek van migrasie, vlugtelingskap, ontheemding, ballingskap en beweging oor grense heen.
Die mees opvallende struktuurelement in die bundel is die afwisseling tussen die 47 gedigte waarin die verhaal
van Shaka vertel word (elk van hierdie gedigte begin met die eerste reël in hoofletters) en die 43 “dag(droom)”gedigte wat genommer is vanaf 12.868 teruglopend tot by 0. Die “Sjaka”-gedigte is breedweg gebaseer op Mofolo
se roman. Hulle is ook vormlik en stilisties hoogs gevarieerd (daar word gebruik gemaak van ongewoon lang titels,
die briefvorm, onderhoude, gesprekke, ’n grap, ’n Twitter-verslag oor ’n hofsaak, ’n tv-speletjie). Verder is daar
sprake van speelse en komiese elemente in hierdie gedigte, sy dit dan gekleur met ’n donker-ironiese aanslag. Die
“dag(droom)”-gedigte is stilisties veel meer eenvormig, maar bevat ’n element van die surrealistiese en beskryf op
die oog af ervarings van vervreemding, disoriëntering en benouing deur ’n ek-spreker wat waarskynlik Sjaka is.
Opvallend van die bundel is dat Schaffer die meer gebruiklike spelling van die naam Shaka verander na Sjaka wat
volgens hom verwys na die tipies-Nederlandse seunsnaam Sjaak (“‘Reflection of a reflection’” 155). Om hierdie rede
sal ek die skryfvorm “Sjaka” gebruik wanneer ek verwys na die karakter in Mens dier ding, maar—ooreenkomstig
die Afrikaanse woordelys en spelreëls se voorskrifte in verband met eiename uit Afrikatale—die skryfvorm “Shaka”
wanneer ek na die historiese figuur en die karakter in Mofolo se roman verwys.
Die bundel begin met twee gedigte wat die leser daarop voorberei dat dit hier sal gaan oor die Sjaka-figuur
as beide koning en asielsoeker. Die eerste gedig is getitel “EEN ZWARTE MAN GEWAPEND MET EEN SPEER
HEEFT GISTERAVOND TIJDENS HET SPITSUUR VOOR ONTSTELTENIS GEZORGD. BREEDUIT GING
HIJ OP DE SNELWEG LIGGEN. EEN WEG DIE NOTA BENE DWARS DOOR DE VERBLIJFPLAATS LOOPT
VAN DEZE MAN” (7).4 Die gedig roep assosiasies met Afrika op vanweë die verwysing na die spies (“speer”)
wat in die daaropvolgende gedig bevestig sal word deur die verwysing na die historiese figuur Shaka. Die man
in hierdie gedig se handeling suggereer enersyds ’n daad van protes, andersyds die handeling van iemand wat
desperaat is, onder die invloed van drank of dwelms of dalk geestesongesteld en gevul met selfmoordgedagtes.
Terugskouend gelees is die feit dat hy “verward en aggressief” reageer wanneer hy in hegtenis geneem word,
veelseggend ten opsigte van figuur wat ons in die daaropvolgende teks gaan ontmoet: hy is tegelyk die verwarde,
gedeprimeerde en hallusinerende asielsoeker en die magtige, gewelddadige Zulu-koning.
Die tweede gedig, getitel “HARDE FEITEN RONDOM SJAKA DAT WIL ZEGGEN HARDE FEITEN
RONDOM MIJ” (8–12), bevestig die identiteit van die swart man as Sjaka en verskaf ook ’n grondplan vir die
bundel wat gaan volg. In die eerste plek bied hierdie gedig vir ons die sogenaamd “harde feite” in verband met
Sjaka, die buite-egtelike seun wat die Zulu-koning geword het deur in verskillende strofes na die verloop van
sy lewe te verwys. Tweedens word daar in ander strofes verwys na die alternatiewe identiteit van Sjaka wat
hierdie bundel ten tonele sal voer, naamlik dié van vlugteling of asielsoeker wat per boot uit Afrika aankom in
’n ongeïdentifiseerde land waarin hy ’n rigtinglose lewe lei. Ook van kardinale belang vir die lees van die bundel
is die feit dat sommige strofes in hierdie gedig beklemtoon dat hierdie (trouens enige) voorstelling van Shaka
bevraagteken kan word vanweë die gebrek aan historiese feite in verband met hom (vergelyk “Op van alles en nog
wat ben ik gebaseerd / niet op die waarheid”, strofe 1) en die feit dat mense geneig is om hulle eie idees op hom
te projekteer (“Ik ben een projectiescherm, een zwarte krijger / met een donkerbruine huid en doorschijnende
ziel”, strofe 3). Dit word verder onderstreep deur die feit dat Sjaka sy eie spieëlbeeld as volg beskryf: “Wat zie ik
als ik kijk in de spiegel? Een golvende reflectie / van een reflectie van een reflectie. / Ik noem dit het Droste-effect
/ u noemt het Symboliek” (strofe 24). Die verwysing na die Droste-effek (oftewel mise en abyme-effek), tesame
met verwysings na die verfilming van bepaalde gebeure, bevestig dat die leser hier te doen het met ’n refleksie of
fiksionalisering wat berus op ander refleksies en fiksionaliserings tot in die oneindige toe. Hierdeur word die leser
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
30
van meet af aan bewus gemaak dat dit hier gaan om ’n artefak, ’n kreatiewe produk wat nie herlei kan word tot
‘ware’ feite nie, maar tog kommentaar kan lewer op ’n bepaalde werklikheid.
Gaan ’n mens Schaffer se kreatiewe aanpassing van Mofolo se roman na, blyk dit dat hy in ’n groot mate die
hoofmomente van Mofolo se gefiksionaliseerde weergawe van Shaka se lewe volg. Van elkeen van die hoofstukke is
daar ’n korresponderende, maar ook duidelik verskillende gedig gemaak (met daartussen ’n aantal “Sjaka”-gedigte
wat nié noodwendig met ’n spesifieke moment in Mofolo se roman verbind kan word nie). Op hierdie manier bied
Schaffer sy lesers die geleentheid om die belangrikste momente in Shaka se lewe mee te maak in die loop van die
bundel. Onder hierdie momente tel byvoorbeeld die volgende: die ontmoeting tussen Senzanghakona en Nandi
wat lei tot die buite-egtelike geboorte van Shaka; die verwerping van Nandi en Shaka deur Senzanghakona en die
gevolglike afknou van Shaka deur die ander kinders; Shaka se ontmoeting met die waterslang wat voorspel dat hy
sal regeer; die aanval op Shaka deur sy halfbroers en sy besluit om te vlug; Shaka se ontmoeting met die toordokter
Isanusi wat hom behandel met medisyne om hom voor te berei vir die koningskap en meedeel dat dit sy opdrag
is om dood te maak sonder genade; Shaka se aansluiting by die leërs van Dingiswayo en sy sukses as kryger;
Shaka se ontmoeting met sy twee helpers Ndlebe en Malunga; Shaka se ontmoeting met sy geliefde Noliwa; Shaka
se opvolging van sy vader Senzanghakona as kaptein; Shaka se opvolging van Dingiswayo as koning; Isanusi se
oorreding van Shaka om sy geliefde Noliwa te offer aan sy ambisie en die skep van ’n nuwe naam vir die nasie; die
doodmaak van Noliwa deur Shaka; Shaka se bloeddorstige en gewelddadige veldtogte; Shaka se onredelike eise
aan sy onderdane en sy wrede teregstellings van hulle; die dood van Shaka se moeder Nandi; Shaka se pynlike
drome en die verdwyning van sy handlangers Malunga en Ndlebe; die ontstellende drome waarin Shaka sy lewe
herleef; en die moord op Shaka deur sy halfbroers Dingana en Mhlangana.
Die noukeurige navolging van Mofolo se roman, gekombineer met ’n uitermate kreatiewe transponering van
die gegewens na ’n kontemporêre konteks, stel Schaffer in staat om ’n beeld op te bou van ’n komplekse figuur,
wat uiteindelik deur sy magslus, bloeddorstigheid en innerlike konflikte (beliggaam in die teenwoordigheid van
die toordokter Isanusi en sy twee helpers) gedryf word tot op die punt waar hy om die lewe gebring word. Een
moontlike interpretasie van Schaffer se herskrywing sou kon wees dat die vertelling van Shaka se opkoms en
val as diktator, aangevul met sy uitbeelding as asielsoeker, ook iets wil sê oor transnasionale magsverskuiwings
(van diktator na asielsoeker), die psigologiese impak van migrasie, die nasleep van die wêreld se geskiedenis van
kolonisering en die ongelykhede meegebring deur globalisering. Dit mag wees dat die bundel ook ’n verrekening
is van Schaffer se omgang met ’n komplekse stel gegewens: sy eie dubbelsinnige posisie as Nederlander wie se
moeder afkomstig was uit Aruba, sy kennismaking met ’n Suider-Afrikaanse teks deur ’n swart skrywer wat
self oor ‘nasionale’ of etniese grense beweeg het om sy roman te skryf, die intensiteit waarmee rassekwessies in
die Suid-Afrikaanse letterkunde aan bod kom en sy behoefte om ’n swart karakter ten tonele te voer binne die
Nederlandse konteks.
Die gebruik van anachronismes
Die Nederlandse resensent Gert de Jager skryf in sy resensie van Mens dier ding heel gunstig oor die gebruik van
anachronismes in die bundel, maar noem dit ook ’n ouderwetse motief en een van die eenvoudigste literêre
procédés denkbaar: “dit soort anachronisme verwacht je bij Salman Rushdie of bij operaregisseurs uit de
provincie—niet bij een vooraanstaand Nederlands dichter”. Laasgenoemde opmerking sluit aan by die bekende
binêr-hiërargiese teenstellings tussen sentrum en marge (“provincie”), Europa en kolonie, groot kulture en klein
kulture. Hierteenoor is dit my indruk dat Schaffer juis die anachronisme gebruik om die grense wat deur hierdie
binêre patrone veronderstel word te deurbreek en te ondermyn. Dit is een van die literêre strategieë wat die
transnasionale verplasing van ’n Suid-Afrikaanse koning wat geheers het aan die begin van die negentiende eeu na
kontemporêre Nederland moontlik maak, terwyl dit ook die gegewe vir Nederlandse lesers bevatlik en aantreklik
maak. Tesame met die insluiting van verwysings na tekste uit die wêreldliteratuur, verwysings na ’n wye spektrum
van kontemporêre verskynsels en die gebruik van vorme geïnspireer deur nuwe tegnologieë (byvoorbeeld televisie
en Twitter) maak dit deel uit van dié soort poëtika wat put uit estetiese vorme wat funksioneer oor nasionale
grense heen en deur Ramazani in Transnational poetics beskryf is.
Schaffer wys self uit dat die gebruik van anachronismes een van sy belangrikste werktuie is. Volgens hom is
dit ’n eties-verantwoordelike manier om met beide die historiese figuur Shaka en die Mofolo-roman om te gaan.
Eerder as wat daar die pretensie is om hierdie figuur en teks te deurgrond, word hy verplaas na ’n nuwe konteks
om daar herverbeel te word in ’n poging om iets te verstaan van die kompleksiteite van beide die hede en die
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
31
verlede. Boonop beklemtoon dit die gemaaktheid (“artificiality”) van die nuwe teks en hou dit die ‘vertaling’ van
die gegewe en vroeër teks te alle tye sigbaar vir die leser (“‘Reflection of a reflection’” 148). Schaffer meen ook dat
die gebruik van anachronismes hom toelaat om te reflekteer oor die diskoerse van swart teenoor wit, inheems
teenoor uitheems en om Shaka uiteindelik te verander in ’n asielsoeker in Nederland, verlore in ’n Westerse
konteks waarin vreemdelinge dikwels as ‘onwettig’ beskou word al was hulle magtige of despotiese leiers in hulle
eie konteks (“‘Reflection of a reflection’” 157).
Alhoewel die anachronismes dwarsdeur die teks gebruik word, noem ek slegs enkele voorbeelde wat
aangewend word om die groei van Sjaka se geweld en roem uit te beeld. In “WANNEER IS HET BEGONNEN
AL DIE STEMMEN IN ZIJN HOOFD” (30–1) lê Sjaka lomerig in sy hangmat en dink hoedat hy kan doodmaak
wie hy wil, terwyl die Schaffer-ekwivalent van die toordokter Isanusi, sy “splinternieuwe sidekick / met een koel
glas ijsthee” gereed staan, soos “een soort butler”. Terselfdertyd word ’n verwysing na die Westerse letterkunde
gebruik om te verwys na Sjaka as Faust wat ’n ooreenkoms met die duiwel gesluit het. In “BLOEDDORST HOE
ZIET DAT ERUIT” (35–7) word Sjaka se veldslae vergelyk met die dophou van ’n voetbalwedstryd in ’n stadion
(“Oorlog voeren of een voetbalwedstrijd kijken in het stadion / voor Sjaka is het één pot nat / hetselfde gejuich en
geschreeuw, dezelfde liederen”). Terwyl die “Afrikaanse zomer rilt” hang daar ’n walm bo die “van bloed doordrenkte
steppe”, totdat die “sterspeler” Sjaka uiteindelik soos ’n voetballer in die kleedkamer sit, “(f)lesje water in de hand,
handdoek om de nek” (36). In “EN ZO LEERT SJAKA LIEGEN” (43) word daar vertel hoe sy roem as kryger
sodanig versprei dat hy die allure van ’n hedendaagse beroemdheid (“celebrity”) verkry: “Sjaka’s faam verspreid
zich als een virus. / Sjaaltjes posters mokken pennen buttons—/ de merchandise draait op volle toeren”. Sjaka
se troonopvolging word in “KLEINE GREEP UIT DE LOGISTIEKE FEITEN ROND DE TROONWISSELING”
(62) beskryf met behulp van gegewens uit berigte oor die kroning van Willem Alexander as Nederlandse koning
in 2013 (vergelyk Monna), enersyds om te suggereer dat mag en magsvertoon alomteenwoordig is, andersyds om
vergelykings op te roep tussen die kroning van ’n Afrika- en ’n Europese koning.
Soos reeds aangedui, is die grootste gedeelte van die bundel gebaseer op Shaka se lewe soos gefiksionaliseer
in Mofolo se roman en tree die idee van Shaka as asielsoeker eers aan die einde van die bundel sterker op die
voorgrond. Naas die ruim gebruik van anachronismes word daar ook verwys na ruimtes waarin die historiese
Shaka hom nooit bevind het nie, soos byvoorbeeld ’n stad met ’n grag (130), die “Centraal Station” in ’n ongenoemde
stad (131) en ’n kantoor waar asielsoekers gespreek word (125). Die verplasing van een ruimte na ’n ander herinner
aan die term analokalisme in die komparatiewe reg, waar dit gebruik word vir die ongeregverdigde oordrag
van ’n regskonsep van een plek na ’n ander waar dit nie toepaslik is nie (vergelyk Vanderlinden, aangehaal in
Moréteau 189). In die geval van ’n kreatiewe teks soos Schaffer se bundel word die ‘ongeoorloofde’ verplasing in
ruimte egter produktief gemaak om sekere spannings na die voorgrond te bring. Die verplasing van Shaka van die
posisie van Zulu-koning in Suid-Afrika na dié van asielsoeker in Nederland suggereer historiese prosesse soos die
kolonisering van Afrika en die nalatenskap daarvan in verskynsels soos ekonomiese en politieke vlugtelingskap.
Soos reeds gesê, word die idee van Sjaka as asielsoeker reeds in die eerste twee gedigte van die bundel
geopper. In “HARDE FEITEN RONDOM SJAKA DAT WIL ZEGGEN HARDE FEITEN RONDOM MIJ” (8–12)
sê Sjaka: “Om mijn verhaal te doen kwam ik per boot uit Afrika / een kleine boot met heel veel mensen”. ’n Mens
sou dit dalk ook kon lees as ’n verwysing na die Zulu-koning wat die transnasionale oorgang na ’n Nederlandse
digbundel maak om daar deur ’n Nederlandse digter tot spreke gebring te word. Die beeld van Sjaka as vlugteling
word hierna eers weer in “VERZOEKNUMMERS?” (122) geopper wanneer daar verwys word na Sjaka wat in ’n
ry staan vir ’n visum en uiteindelik een koue aand by ’n haweloods staan en onderhandel voordat hy homself op ’n
dobberende bootjie op die golwe bevind.
Kort hierna volg ’n reeks van vyf kort gedigte, “SJAKA’S AZIELZOEKERSNACHTMERRIE” (124–8) waarin
Sjaka as ek-spreker vertel hoe hy die proses van aansoek om asiel ervaar. Die gedigte is klein vinjette wat die
situasie van ’n asielsoeker teken: die onseker aankoms, die ontkenning van enige status in die land van herkoms
en die lang wagperiodes; die ‘veroordeling’ tot vryheid in “Vrije Beperkte Locatie” (wat eintlik beteken dat jy
gerepatrieer gaan word); die verlies van mag wat ’n vlugtende diktator ervaar; en die ironiese omkering van die
begrippe siekte en genesing in ’n nuwe omgewing.5 Alhoewel daar reeds in die derdelaaste gedig in die bundel,
“VADER EN MOEDER. N. HALFBROERS” (139), vertel word hoe Sjaka sterf (“Daarna is Sjaka los”) en sy liggaam
later in die veld gevind word, teken die laaste gedig in die bundel iemand wat die noodlyn bel om hulp te vra
omdat hy nie verder kan nie (“‘Ik ben op’”). Die bundel eindig dus met die suggestie dat Sjaka in die vreemde aan
sy einde kom.
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
32
Schaffer se transnasionale bundel oor Shaka bring ’n Suid-Afrikaanse historiese figuur onder die aandag van sy
Nederlandse lesers (ook die lesers van die verskillende vertalings wat daarop volg). Sy anachronistiese bewerking
van die Mofolo-teks vestig die aandag op die pynlike en problematiese aspekte van transnasionale verplasings
soos vlugtelingskap, ballingskap en asiel (onder andere die magsverwisselings wat dit meebring, die pertinente
fokus op ras en die rassisme wat daaruit kan voortspruit, die psigologiese aftakeling en selfvermindering wat dit
kan inhou vir diegene wat dit ervaar). In die geheel gesien teken Schaffer ’n komplekse prentjie van transnasionale
beweging. Aan die een kant is dit iets wat vir hom persoonlik ’n kreatiewe inspuiting was, sy blik op die poësie
verander het, ’n element van groter betrokkenheid in sy oeuvre bewerkstellig het, die emosionele lading van
sy werk geïntensiveer het en dit groter reikwydte gegee het. Aan die ander kant is die historiese figuur wat hy
hier teken ’n gewelddadige en bloeddorstige diktator wat uiteindelik deur omstandighede omskep word in ’n
verwarde, getormenteerde en eensame asielsoeker.
Metapoëtiese momente in die bundel
Vervleg met die “Sjaka”-gedigte is die uitgebreide reeks “dag(droom)”-gedigte. Laurens Ham lees dit in sy resensie
as “scènes uit Sjaka’s leven door zijn eigen ogen”. ’n Leser wat reageer op Ham se interpretasie in die kommentaarseksie onderaan die aanlynweergawe van die resensie vra in ’n soort ope vraag of die “dag(droom)”-gedigte nie
ook ’n biografiese en meta-element bevat in dié sin dat dit gelees kan word as die “gedurende jaren verzamelde
droomnotities” van die digter Schaffer nie en of dit nie die dier- en dingwording in die bundel beskryf vanuit die
perspektief van die digter en van die poësie self nie. Dié lesersreaksie open myns insiens ’n interessante perspektief.
My eie reaksie is enersyds dat daar onweerlegbare getuienis is dat die “dag(droom)”-gedigte inderdaad die
perspektief van die Sjaka-figuur verteenwoordig, heel waarskynlik van die kloustrofobiese omgewing waarin hy
hom bevind as asielsoeker. Andersyds is my gevoel dat daar, onderliggend aan hierde interpretasie-moontlikheid,
ook ’n selfrefleksiewe en metapoëtiese element in hierdie gedigte ingebou is sodat ’n mens dit eweneens kan
lees as die gewaarwordings van die digter wat besig is om die bundel oor Shaka te skryf. As sodanig kan dit
gesien word as deel van die literêre strategie wat die transnasionale beweging tussen Suid-Afrika en Nederland
of Europa fasiliteer.
’n Lesing van dié reeks gedigte in die bundel as waarnemings deur die Sjaka-figuur word ondersteun deur die
feit dat drome en dagdrome ’n belangrike rol speel in die Mofolo-teks waarop Mens dier ding steun. Vroeg in Mofolo
se roman word die seun Shaka deur ’n toordokter behandel met middels om hom veglustig te maak, waarna hy ’n
onblusbare begeerte het om te veg en onophoudelik daarvan droom. Kunene se vertaling van die Mofolo-roman
verwys na sy drome én dagdrome hieroor: “He dreamed about it at night when he was sleeping; he dreamed about
it during the day, with his eyes open” (14). Verder speel pynlike drome en nagmerries ’n belangrike rol in Mofolo
se voorstelling van die laaste gedeelte van Shaka se lewe. Hoofstuk 24 is getitel “Painful dreams” en vertel hoedat
Shaka in die laaste dae van sy lewe geteister word deur drome oor sy eie lewe en deur angsdrome van hoe hy
doodgemaak word, terwyl hoofstuk 25 drome beskryf waarin Shaka sy lewe herleef en nagmerrieagtige visioene
sien van almal wat hy self doodgemaak en laat doodmaak het. Dit mag wees dat die prominente rol van drome
en dagdrome in Mofolo se roman ’n prikkel was vir die “dag(droom)”-gedigte in Mens dier ding. ’n Mens sou kon
redeneer dat die digter daarmee die Sjaka-figuur se innerlike lewe wou weergee, maar dan op so ’n manier dat die
ouktoriële instansie én die leser as ’t ware sigself daarin kan projekteer. Schaffer sê verder in ’n onderhoud dat die
bundel eintlik begin vorm aanneem het rondom die skryf van die “dag(droom)”-gedigte: “Ik schreef een aantal
dagdromen vanuit een heel claustrofobische setting: geen jij en ik, maar alleen een interne monoloog. Ik speelde al
langer met het idee een keer een bundel te maken rond Shaka Zoeloe, maar bij het negende gedicht dat ik schreef,
dacht ik: ik heb iets beet, dit zou Shaka’s stem kunnen zijn” (aangehaal in Mertens). Omdat hulle getipeer word
as drome of dagdrome het die gedigte ’n byna surrealistiese sfeer waarin die klem veral val op benouende ruimtes,
gevoelens van verwarring, vervreemding, paranoia, selftwyfel en selfhaat. Die feit dat die gedigte vanaf 12.868
terugtel tot 0 suggereer ’n regressie, wat in hierdie geval die aftakeling van die ek-figuur tot by ’n nul- of sterfpunt
verteenwoordig.
Daar is sekere elemente in hierdie reeks gedigte wat die Sjaka-figuur, in beide sy inkarnasie as diktator en
asielsoeker, oproep en bepaalde gemoedstoestande weergee. Ek lig slegs enkele voorbeelde uit om my stelling te
motiveer. In “dag(droom) # 12.292” (20) verwys die ek-figuur na sy fisieke ongemak, maar ook daarna dat hy op
iets wag wat hom in staat sal stel om rustig te slaap, sonder enige spoke, of om op die strand te gaan wandel. Kom
hy egter by die strand, is die see weg en staar hy “een afgrijzelijke diepte in / een rottende, onmetelijke bodem”
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
33
(wat ’n mens laat dink die ravyn waarin Mofolo se Shaka afkyk om almal te sien wat hy doodgemaak het, vergelyk
die Kunene-vertaling 163–4). Die gedig “dag(droom) # 5.106” (44) praat van ’n “klassieke shoot-out” tussen die ekspreker en homself: hy staan aan die een kant van ’n betonvlakte asook aan die ander kant, maar dan “de uitgelekte
en verkouden versie” van homself wat lyk soos die “albinosmurf die uit De Smurfs werd geknipt”. Die suggestie van
’n innerlike tweestryd en verlies aan (rasse-)identiteit tree hier na vore. In “dag(droom) # 4.349” (55) sien die
ek-spreker ’n pragtige vuur wat versprei deur die duine en gooi hy alles wat hy bymekaar kan raap in die vlamme,
“geil van doelloze begeerte”, ’n moment wat herinner aan Mofolo se Shaka wat as deel van sy oorlogstaktiek
brande gestig het om die vyand in sy arms te dryf (63–4). In hierdie geval sê die ek-spreker dat daar van hom net
’n “spoor van as en zwartgeblakerd gras” sal oorbly. Ook hier is daar suggesties van ʼn verlede waarin geweld ’n
soort erotiese genot verskaf het, ook van die vlugtigheid van die menselewe in die onduidelike spore wat selfs ’n
veelbesproke figuur soos Shaka agterlaat.
Ander gedigte in hierdie reeks suggereer weer deur die beelding ’n verband met die ek-figuur as asielsoeker.
In “dag(droom) # 4.260” (58) beskryf die spreker hoedat hy met ’n suurstofmasker op sy gesig deur struike kruip
na ’n hoofweg waar hy sien dat die “kruispunt” ontruim is en die hekke dig gesluit (miskien ’n grenspos?). In
’n latere gedig, “dag(droom) # 2.109” (75) vertel die spreker dat hy elke oggend sy ewebeeld sien: “een grauwe
oceaan met hier en daar een bootje / of een drenkeling die zwaait alsof hy onverwachts op televisie is”, beelde
wat die Sjaka-figuur se vertrek per boot en die beeld van vlugteling-migrante oproep. Hy vertel ook dat hy dié
oggend deur bosse geloop het, “echt alleen / als mens als dier als ding”. Die bundeltitel Mens dier ding word meestal
gelees as ’n verwysing na die diktator-slagter se regressie van menslikheid tot brutale dierlikheid en uiteindelik
ongevoelige dinglikheid. Omdat die bundel Shaka egter ook uitbeeld as asielsoeker sou dit ’n buite-perspektief op
die asielsoeker, die onwettige vreemdeling (“illegal alien”) of swart persoon as nie menslik nie, maar eerder dier
of ding, kon verteenwoordig. ’n Ander gedig wat sinspeel op iemand wat homself drywend en ontheemd voel, is
“‘nieuwjaar’—dag(droom) # 1.354” (80) waarin die spreker vanaf sy piepklein balkon ’n anker in die grond gooi
omdat hy “geen schijn van kans het teen het straatgewoel” (amper asof die straatgewoel soos ’n onstuimige see
is). Wanneer hy na middernag half wakker word, sien hy hoe die skynsel van die dorp agter die horison verdwyn
en die anker heen en weer swaai, wat die indruk skep dat die gebou waarin hy hom bevind, besig is om weg te
dryf van die dorp. Die beeld van ’n drywende boot op water en die agterlaat van ’n dorp, roep weer eens ’n beeld
van die migrant of vlugteling ter see op, ook van die drywende doelloosheid van die asielsoeker se bestaan—
transnasionale beweging en die psigologiese implikasies daarvan vasgevang in ’n surrealistiese beeld.
Die laaste groep van die “dag(droom)”-gedigte teken die beeld van ’n persoon wat in ’n ekstreme randposisie,
asof aan die uiteinde van sy lewe, verkeer. Die spreker beskryf sy eie situasie as dié van iemand wat vassit in ’n
draaideur (98), wat lê en hyg na asem langs ’n swembad met sy liggaam vol “mieren, spinnen, pissebedden” (101)
of op ’n berugte bergpas wat bly styg en styg (111). Beelde van afhandeling, opruim en vertrek kom ook voor: hy
dra sy besittings uit sy huis na die straat, maar staan dan beteuterd daar (120); hy sit in ’n vertreksaal gevul met
digte mis (123), sy koffers staan in die portaal, die kaste is leeg en die vensters gesluit (129), hy maak hom gereed
om te vertrek met ’n rugsak waarin daar water, kos, droë klere en ’n handvol koeëls is (138). Daar is ook sprake
van liggaamlike aftakeling: sy spiere is verlam (123), hy kry nie die lepel by sy mond nie (135), hy is honger en dors
in ’n helder-verligte en hittige landskap met die skrikwekkende gevoel dat hy ineens kan verdwyn (136). In die
laaste van hierdie reeks gedigte, “dag(droom) # 0” (140), bevind hy hom, “dronken van vermoeidheid na alles wat
ik heb vernietigd”, in ’n oerbos met sonverbrande bome, waar hy “brokke mens, gebarsten of gesmolten”, tussen
die stamme en struike sien. In hierdie vreesaanjaende ruimte bid hy terwyl die sirenes aanswel: “Ik zocht naar U
maar vond geen tegenstand.” Dié slotreël suggereer dat die Sjaka-figuur as vegter gekondisioneer is om teenstand
te verwag; wanneer dit nie daar is nie, voel hy of hy niks gevind het nie. Die reeks “dag(droom)”-gedigte eindig dus
met gevoelens van teleurstelling en verydeling, terwyl die onheilspellende klank van sirenes steeds nader kom.
Alhoewel die bundel oënskynlik oor Sjaka as diktator én asielsoeker handel, is daar tog–soos reeds gesê–
momente in beide die “Sjaka”-gedigte en die “dag(droom)”-reeks wat geïnterpreteer kan word as metapoëties. Dit
is veelseggend dat Sjaka in “POGING TOT EEN INTERVIEW” (99–100) vir ’n onderhoudvoerder sê sy bydrae tot
die lewe is: “Rijm en ritme. Ritme en Rijm. Simmetrie”. Hierop vra die onderhoudvoerder: “U belichaamt poëzie?”.
Alhoewel dit na pure spelery mag lyk voordat Sjaka uitgevra word na sy wandade, word die idee van die Sjakafiguur as digter of selfs as die beliggaming van poësie tog hier geopper in ’n speelse en vlugtige meta-moment.
In “HIER KUN JE MET HET BLOTE OOG NIET KOMEN” (132–4) lyk dit asof Sjaka in ’n gesprek is met ’n
amptenaar, wat sy vrae moet beantwoord en dalk oor hom toesig hou. Belangriker as die vrae is die amptenaar
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
34
se opmerking dat Sjaka homself steeds beter uitdruk (“Het moet gezegd, je komt steeds beter uit je woorden”),
waarop Sjaka antwoord dat die “autocue” hom help. Die amptenaar se antwoord hierop (“Autocue, autobahn,
auctorieel…”) roep die idee op dat die Sjaka-figuur in die bundel deur ’n ouktoriële stem (of digter) voorgesê
word wat om te sê. Sjaka gaan verder om te sê dat daar inderdaad stemme is wat rondom hom speel en dalk vir
hom wil dikteer wat om te sê. Hy brei uit deur te sê dat dit byna is om soos deur “een gigantische hangar” te
dwaal “te midde van een koor van theatrale echo’s” wat ’n “enorme lus” rondom hom vorm, al kan hy nie sing nie.
Metapoëties gelees kan dit verwys na die situasie van ’n digter wat beïnvloed word deur die stemme wat rondom
hom opklink in ’n soort nimmereindigende lus (“loop”), al voel hy homself onmagtig om te skryf. Dit sou kon
sinspeel op die situasie van ’n transnasionale digter wat byna soos ’n asielsoeker dwaal deur oorweldigende groot
ruimtes waarin hy voorgesê word deur ’n koor van uiteenlopende stemme uit verskillende dele van die wêreld, nie
net dié van sy omgewing nie.
Dieselfde soort meta-element vind ’n mens in die slotgedig “‘ALARMCENTRALE, ZEG HET MAAR’”(141)
waarin gesuggereer word dat Sjaka homself in extremis bevind en die alarmcentrale (noodlyn) bel. Op die eerste
vlak kan dit gelees word as ’n noodoproep deur die asielsoeker Sjaka wat hulp nodig het, maar nie goed gehoor kan
word nie. Op die meta-poëtiese vlak sou dit geïnterpreteer kon word as ’n digter wat vir die leser vra: “‘Ontvangt u
mij’” (hoor jy my, verstaan jy my?). Dit is ’n vraag wat nuwe betekenis kry binne die konteks van die transnasionale
letterkunde: daar is ’n onsekerheid of die teks, wat elemente uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verplaas na ’n
Nederlandse ruimte, verstaan sal word. Die beller (Sjaka of die digter) bevind hom in ’n “lastige situatie”, maar kan
nie vir die persoon aan die noodlyn of vir die leser duidelik maak presies wat dit is nie. Die hakkelende gesprek,
onderbreek deur ’n slegte verbinding en moeilike omstandighede, eindig wanneer die beller sê: “Ik ben op”. Gelees
op die metavlak, eindig die bundel dus met die suggestie dat die digter (net soos Sjaka) dit nie meer kan volhou
nie en die bundel moet afsluit. Die verwysings na die moeite om kontak te maak en dinge wat verhinder dat die
boodskap duidelik deurkom, sou heel goed van toepassing gemaak kan word op die maak van transnasionale
poësie. Die metapoëtiese element in die bundel wil dit dus onder die leser se aandag bring dat hierdie bundel’n haas
onmoontlike poging behels om oor nasionale grense heen die kompleksiteite van ’n historiese figuur soos Shaka en
die omvang van die transnasionale tematiek van vlugtelingskap, asiel en die ontreddering wat dit meebring onder
woorde te bring in ’n bundel gerig aan lesers wat dit moontlik nie sal verstaan nie.
Konklusie
My doelstelling met hierdie artikel was om Alfred Schaffer se digbundel Mens dier ding teen die agtergrond van die
transnasionalisme te lees. Om hierdie rede is daar uitgegaan van die transnasionalisme as kritiese of hermeneutiese
perspektief. Schaffer se bundel is benader as ’n teks wat ’n uitdaging rig aan pogings om die nasie of die nasionale
as ’n analitiese of ordenende kategorie te gebruik deur die wyse waarop dit oor nasionale grense heen beweeg.
Met verwysing na Wiegandt se taksonomie van dié elemente wat lei tot die identifikasie van literêre tekste as
transnasionaal is daar gefokus op identiteit, tema en estetika. Daar is ondersoek ingestel na die transnasionale
elemente in die Schaffer-biografie, temas soos migrasie, verplasing en vlugtelingskap in Mens dier ding wat daarvan
’n voorbeeld van transnasionale letterkunde (soos omskryf deur Jay) maak en estetiese strategieë soos die gebruik
van anachronisme en metapoëtiese elemente wat die transnasionaliteit daarvan ondersteun.
Daar is dus gefokus op die evokatiewe en subtiele wyse waarop Schaffer, in ’n laterale eerder as vertikale
oorskryding van grense, in gesprek tree met ’n Suider-Afrikaanse roman oor die historiese figuur Shaka om
deur middel van anachronismes ’n greep te kry op die manier waarop mag in die geval van ’n diktator ontplooi
en uiteindelik tot ’n val kom. Terselfdertyd roep die anachronistiese voorstelling van Shaka as ’n asielsoeker
in ’n land, wat volgens bepaalde aanduidings Nederland is, ook die spanninge teweeg gebring deur Europa se
kolonisering van gebiede soos Afrika, die voortslepende rasse-en klasse-hiërargieë wat dit meegebring het, die
ekonomiese ongelykheid in die wêreld en die verskillende vlugtelingkrisisse waarmee die wêreld te kampe het, na
die voorgrond. Veral aangrypend is die wyse waarop die psigologiese trauma veroorsaak deur hierdie verskynsels
gesuggereer word deur die surrealistiese, nagmerrieagtige sfeer van die “dag(droom)”-gedigte in die bundel. Ten
slotte is daar ook gekyk na die wyse waarop ’n metapoëtiese element in die bundel ingebou word om iets weer
te gee van die komplekse situasie waarbinne ’n transnasionale digter hom bevind, blootgestel aan en beïnvloed
deur ’n byna oorweldigende aantal estetiese en ander invloede uit die groter wêreld. Ten spyte van die slot se
suggesties dat die digter oorweldig word deur die haas onhanteerbare kompleksiteit van die gegewe wat hy onder
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
35
woorde probeer bring, is Mens dier ding ’n merkwaardige voorbeeld van hoe produktief en insiggewend die laterale
interaksies tussen verskillende nasionale ruimtes en literêre velde kan wees.
Aantekeninge:
1. In hierdie verband bou ek voort op werk wat reeds gedoen is oor transnasionale bewegings tussen die (Suid-)Afrikaanse
en Nederlandstalige letterkundes deur Viljoen (“Die rol van Nederland in die transnasionale beweging van enkele
Afrikaanse skrywers” en “‘’n Postkoloniale Umweltkas’: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans met verwysing
na Marlene van Niekerk se Kaar”), T’Sjoen en Linde. Vergelyk ook De Jong oor J. M. Coetzee se gebruik van Kaapshollands
in sy vroeë werk as ’n vorm van transnasionalisme.
2. Hulle siening in hierdie verband is waarskynlik gekleur deur Deleuze en Guattari se hantering van die begrip “mineure”
in hulle invloedryke werk, Kafka: Pour une littérature mineure van 1975, waarin hulle Kafka se werk oor klein letterkundes
bespreek. Tuckerova wys daarop dat Deleuze en Guattari se keuse vir die term “littérature mineure” (“mineurletterkunde”
in Afrikaans, “minor literature” in Engels) verband hou met Marthe Robert se 1954-vertaling van “kleine Literatur” in
Kafka se teks as “littérature mineure” in Frans (439).
3. Die verwysing na velkleur kom ook ter sprake in ’n artikel wat Schaffer in 2018 in Stilet publiseer: “een opvallend kenmerk
van de huid is de kleur. dankzij huidskleuren kan de mens zich in verschillende klimaten handhaven” (vergelyk Schaffer
“een opvallend kenmerk van de huid is de kleur”).
4. Bladsynommers verwys na die eerste uitgawe van Mens dier ding in Nederlands, gepubliseer in 2014.
5. Vergelyk die inligting gegee op die webwerf van die Nederlandse Ministerie van Justitie en Veiligheid se Dienst Terugkeer
en Vertrek.
Geraadpleegde bronne
Anker, Willem & Alfred Schaffer. “Oor pypdrome, anachronismes en ander ongemakke.” LitNet. 1 Apr. 2015. https://www.
litnet.co.za/oor-pypdrome-anachronismes-en-ander-ongemakke.
Assmann, Aleida. “Transnational Memories.” European Review vol. 22, no. 4, 2014, pp. 546-556. DOI: https://doi.org/10.1017/
S1062798714000337.
De Jager, Gert. “Knorrende beesten.” Neerlandistiek. Online tijdschrift voor taal- en letterkunde. 15 Mei 2015. https://neerlandistiek.
nl/2015/05/knorrende-beesten/.
De Jong, Laura. “‘Poëzie komt het dichtst in de buurt van hoe wij denken en associëren.’ Interview met Alfred Schaffer.” De
Volkskrant Boeken. 27 Aug. 2021. https://www.volkskrant.nl/cultuur-media/alfred-schaffer-poezie-komt-het-dichtst-in-debuurt-van-hoe-wij-denken-en-associeren~b2dc0a8d/.
De Jong, Marianne. “‘Ystervarken’s gat’ en ‘porcupine hole’: Kaapshollands in die vroeë romans van J.M. Coetzee as
transnasionalisme. Stilet vol. 23, no. 2, 2011, pp. 1–27.
D’haen, Theo. “Major histories, minor literatures, and world authors.” CLC web: Comparative literature and culture vol. 15, no. 5,
2013, pp. 2–9. https://docs.lib.purdue.edu/clcweb/vol15/iss5/9/.
Glorie, Ingrid. “Alfred Schaffer ontvangt P. C. Hooftprijs: ‘Zonder Zuid-Afrika zou ik nu een totaal andere dichter zijn.’”
Voertaal, 14 Sep. 2021. https://voertaal.nu/alfred-schaffer-ontvangt-p-c-hooftprijs-zonder-zuid-afrika-zou-ik-nu-eentotaal-andere-dichter-zijn/.
Franssen, Gaston. “Een gesprek met de lezer. Het werk van Alfred Schaffer.” Dichters van het nieuwe millenium. Nederlandse en
Vlaamse poëzie in de 21e eeuw, geredigeer deur Jeroen Dera, Sarah Posman & Kila van der Starre. Vantilt, 2016, pp. 19–28.
Jay, Paul. Transnational literature: the basics. Routledge, 2021.
Krog, Antjie. “Die verkleurmannetjie(s) op Shaka: ’n Vergelyking tussen D.J. Opperman en Thomas Mofolo.” Tydskrif vir
Letterkunde vol. 47, no. 2, 2010, pp. 5–18. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v47i2.60620.
Linde, Janien. “‘’n Pouse tussen oorsprong en bestemming’: Heterochronisiteit en laterale transnasionalisme in Marlene van
Niekerk se Gesant van die mispels en In die stille agterkamer. LitNet Akademies vol. 16, no. 3, 2019, pp. 186–212. https://www.
litnet.co.za/n-pouse-tussen-oorsprong-en-bestemming-heterochronisiteit-en-laterale-transnasionalisme-in-marlenevan-niekerk-se-gesant-van-die-mispels-en-in-die-stille-agterkamer/.
Lionnet, Françoise & Shu-mei Shih. Minor transnationalism. Duke U P, 2005.
Mertens, Dieuwertje. “‘Ik vroeg me nooit af of het wel poëzie is.’” Het Parool, 28 Jan. 2014.
Mofolo, Thomas. Chaka. vertaal deur Daniel P. Kunene. Heinemann, 1981.
_____. Tjhaka, vertaal deur Chris Swanepoel. Tafelberg, 1974.
Monna, Janita. “‘Nu kan ik ook over mijn moeder schrijven’. Interview met Alfred Schaffer.” Trouw, 18 Jan. 2020.
Moréteau, Olivier. “The words of comparative law.” Journal of International and Comparative Law vol. 6, no. 2, 2019, pp. 183–208.
https://digitalcommons.law.lsu.edu/faculty_scholarship/447/.
Morgan, Peter. “Literary transnationalism: A Europeanist’s perspective.” Journal of European Studies vol.47, no. 1, 2017, pp. 3–20.
DOI: https://doi.org/10.1177/0047244116676685.
Nederlandse Ministerie van Justitie en Veiligheid. Dienst Terugkeer en Vertrek. https://www.dienstterugkeerenvertrek.nl/hetterugkeerproces/verblijfslocaties/vrijheidsbeperkende-locatie.
Pienaar, Hans. “The poetics of Shaka as modern asylum seeker.” Business Live. 3 Feb. 2021. https://www.businesslive.co.za/life/
books/2021-02-03-the-poetics-of-shaka-as-modern-asylum-seeker.
Ramazani, Jahan. A transnational poetics. U of Chicago P, 2009.
Sandwith, Corinne. “History by paratext: Thomas Mofolo’s Chaka.” Journal of Southern African Studies vol. 44, no. 3, 2018, pp.
471–90. DOI: https://doi.org/10.1080/03057070.2018.1445355.
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
36
Schaffer, Alfred. “De geschiedenis van een jonge god: mythe, primordialiteit en de representatie van de archetypische
adolescent en jonge man in werken uit die moderne Afrikaanse literatuur en de wereldliteratuur.” Proefskrif. U
Kaapstad, 2002. https://open.uct.ac.za/handle/11427/6937.
______ “een opvallend kenmerk van die huid is die kleur. dankzij huidskleuren kan de mens zich in verschillende klimaten
handhaven.” Stilet vol. 30, no. 1&2, 2018, pp. 228–44.
______. Man animal thing. Vertaal deur Michele Hutchinson. Eyewear, 2021.
______. Mens dier ding. De Bezige Bij, 2014.
______. Mens dier ding, vertaal deur Zandra Bezuidenhout. Human & Rousseau, 2018.
______. “Op de rug gezien.” Derde Hans Groenewegen lezing. Poëziecentrum, 2019.
______.“‘A reflection of a reflection’: Notes on representational and ethical possiblities in Thomas Mofolo’s Chaka.” Tydskrif vir
Letterkunde vol. 53, no. 2, 2016, pp. 147–60. DOI: https://doi.org/10.17159/tvl.v.53i2.12.
T’Sjoen, Yves. “Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel in Nederland en Vlaanderen: Laterale transnationale bewegingen van
Afrikaanstalige schrijvers naar Nederlands en Engels.” Tydskrif vir Geesteswetenskappe vol. 55, no. 1, 2015, pp. 111–22. DOI:
https://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2015/V55N1A8.
Tuckerova, Veronika. “The archeology of minor literature: Towards the concept of the ultraminor.” Journal of World Literature
vol. 2, no. 4, 2017, pp. 433–53. DOI: https://doi.org/10.1163/24056480-00204007
Vandebosch, Dagmar & Theo D’haen. “Introduction.” Literary transnationalism(s), geredigeer deur Dagmar Vandebosch & Theo
D’haen. Brill, 2019, pp. 1–11.
Vassilatos, Alexia. 2016. “The transculturation of Thomas Mofolo’s Chaka.” Tydskrif vir Letterkunde vol. 53, no. 2, 2016, pp. 161174. DOI: https://doi.org/10.17159/tvl.v.53i2.13.
Viljoen, Louise. “Die rol van Nederland in die transnasionale beweging van enkele Afrikaanse skrywers.” Internationale
Neerlandistiek vol. 52, no. 1, 2014, pp. 3–26. DOI: https://doi.org/10.5117/IN2014.1.VILJ.
______. “‘’n Postkoloniale Umweltkas’: die vraag na ’n transnasionale poëtika in Afrikaans met verwysing na Marlene van
Niekerk se Kaar.” LitNet Akademies vol. 14, no. 3, 2017, pp. 133–65. https://www.litnet.co.za/n-postkoloniale-umweltkasdie-vraag-na-n-transnasionale-poetika-afrikaans-aan-die-hand-van-marlene-van-niekerk-se-kaar/.
Winkler, Marieke. “‘Ik heb me nog nooit zo bevrijd gevoeld!’ Over het lezen van Mens Dier Ding van Alfred Schaffer.” Dietsche
Warande en Belfort no. 1, 2015, pp. 108–12.
Wiegandt, Kai. “Introduction: The concept of the transnational in literary studies.” The transnational in literary studies. Potential
and limitations of a concept, geredigeer deur Kai Wiegandt. De Gruyter, 2020, pp. 118.
Wylie, Dan. Savage delight. White myths of Shaka. U of KwaZulu-Natal P, 2000.
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE • 59(1) • 2022
ISSN: 0041-476X
E-SSN: 2309-9070
37