Gaan na inhoud

Šiauliai

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Šiauliai

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Litaue Litaue
 Administratiewe gewes Šiauliai
 Koördinate 55°56′N 23°19′O / 55.933°N 23.317°O / 55.933; 23.317
 Stigting (eerste verwysing) 1236
 Stadstatus 1589
 Oppervlakte:  
 - Totaal 81,13 vk km
 Hoogte bo seevlak 151 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2023) 108 000
 - Bevolkingsdigtheid 1 300/vk km
 Tydsone UTC +2 (OET)
 - Somertyd UTC +3 (OEST)
 Klimaat  
 - Tipe Kontinentaal-gematig
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 7,6°C
 - Gem. temp. Januarie/Julie −2,5 / 18,5 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 642,7 mm
 Burgemeester Artūras Visockas
 Amptelike webwerf www.siauliai.lt/

Šiauliai (Litaus: [ɕɛʊ̯ˈlʲɛɪ̯ˑ], ; Lets: Šauļi; Duits: Schaulen; Pools: Szawle) is die vierde grootste stad van Litaue na die hoofstad Vilnius, Kaunas en Klaipėda met 'n oppervlakte van 81,13 vierkante kilometer en 'n bevolking van 108 000 (in 2023). Die moderne nywerheidstad is in die noorde van die land teen die oostelike uitlopers van die Žemaitiese heuwelland geleë en word deur drie mere, Talkša, Rėkyvos en Ginkūnai, omring. Šiauliai is vandag ook 'n belangrike kulturele sentrum wat staan 'n aantal musea veral vir die Heuwel van Kruise, 'n Rooms-Katolieke bedevaartsoord in die omgewing, bekend staan.

Die Heuwel van Kruise naby Šiauliai

Šiauliai het al 'n beduidende rol in die Litause geskiedenis gespeel. Op 22 September 1236 het die Lyflandse Ridderorde naby die huidige stad in die Slag van Saulė 'n verpletterende nederlaag teen Litaus-Žemaitiese magte gely. Die stadsnaam is volgens oorlewerings van die Litause saulė ("son") of die woord šaulys ("skutter") afgelei.

Teen die einde van die 18de eeu het talle ambagslui uit Oos-Pruise hulle saam met Silesiese wewers in Šiauliai gevestig, en die plaaslike tekstiel- en leerbedryf het tot die beduidendste sektor van die plaaslike ekonomie ontwikkel. In 1871 is 'n spoorwegverbinding met die Letlandse stad Liepāja gebou.

Die oorspronklike historiese stadskern is in die twee wêreldoorloë byna volledig verniel. Ná 1945 het die Sowjet-owerhede naby Šiauliai een van die grootste militêre lughawens in Oos-Europa opgerig. Vandag, ná Litaue se toetreding tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) in 2004, word NAVO-lugpatrollies oor die Baltiese lande gereeld vanuit hierdie lughawe uitgevoer. Šiauliai beskik daarnaas oor die jongste universiteit in Litaue.

Geografie

[wysig | wysig bron]
Die Rėkyva-meer (Rėkyvos ežeras)

Šiauliai is in die noorde van Litaue teen die Samogitiese (Žemaitiese) Heuwelland en by die waterskeiding van die Venta-, Dubysa-, Nevėžis- en Mūša-riviere geleë. Naas die Talša- of Talkša-meer in die stadsentrum is daar nog 'n aantal mere in en rondom Šiauliai: Die Ginkūnai-meer noord van die Talša-meer, die klein Švedė-meer in die ooste, en die Rėkyva-meer – die grootste in Litaue – in die suidelike stadsgebied.

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Die 13de tot 19de eeu

[wysig | wysig bron]

Šiauliai is 'n geskiedkundige stad waarna in die vroeë 13de eeuse kronieke van die Swartridder-orde as Soule, Saulia en Saulen verwys word. Die sogenaamde Slag van die Son, wat op 22 September 1236 naby die huidige Šiauliai plaasgevind het en waarin die kruisvaarders van die Lyflandse Swartridder-orde 'n verpletterende nederlaag teen Litaus-Žemaitiese magte gely het, word tans ook as die stigtingsdatum van die stad beskou. Gedurende die 13de en 14de eeu het Šiauliai as die sentrum van die "Sonland" bekend gestaan.

In 1445 is 'n houtkerk in die stadsentrum opgerig wat 1625 deur die huidige baksteengebou vervang is. In 1589 het Šiauliai stadstatus volgens die Maagdeburgse Reg gekry. Die destydse gewes Šiauliai (Litaus: Didieji Šiauliai) het ook omliggende nedersettings soos Joniškis, Radviliškis en Meškuičiai ingesluit. Šiauliai was die administratiewe sentrum vir 'n koninklike landgoed met 6 000 boereplase.[1]

Tussen die 16de en 18de eeu is Šiauliai sowel deur Sweedse troepe verwoes asook deur 'n pesepidemie getref. Die stad het nogtans teen die laat 18de eeu tot 'n beduidende administratiewe sentrum vir dertien distrikte in sy omgewing ontwikkel. Terselfdertyd is 'n verskeidenheid nywerhede in Šiauliai gestig, terwyl sy boukuns destydse Europese style weerspieël het. Vanaf 1795 het Šiauliai as die hoofstad van die gelyknamige distrik gedien, en in die volgende eeu was dit 'n beduidende handelstad wat Litaue met die Oossee-hawens in Riga en Liepaja (Letland) verbind het.

Die bou van spoorweglyne tussen Sint Petersburg en Koningsberg (1839) en tussen Liepaja en Romnai (1871), wat albei deur Šiauliai geloop het, het sy status as ekonomiese sentrum in Noord-Litaue bevestig. Ná 'n verwoestende brandramp in 1872 is Šiauliai vinnig heropgebou, en in dieselfde tydperk het nuwe fabrieke ontstaan waar sy, wol, sjokolade, leer en sigarette vervaardig of verwerk en bier gebrou is.

Danksy die ekonomiese voorspoed was Šiauliai in 1897 na Kaunas die tweede grootste stad in Litaue met 'n bevolking van meer as 16 000. Die stad was daarnaas ook 'n beduidende Joodse sentrum, met 'n Joodse bevolkingsaandeel wat in 1909 56,4 persent beloop het.[2]

Die 20ste eeu

[wysig | wysig bron]
Šiauliai tydens die Eerste Wêreldoorlog

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het tussen April en Junie 1915 groot slagte in en naby Šiauliai plaasgevind waartydens op 17 April nie net die historiese stadsentrum verniel is nie, maar ook sowat 85 persent van alle geboue in die stadsgebied afgebrand het. Die stad is vervolgens deur Duitse troepe beset.

Met die onafhanklikwording van Litaue ná die einde van die oorlog het 'n nuwe tydperk vir Šiauliai aangebreek. Die stad is heropgebou, en naas vyf leer- en skoenfabrieke het ook aanlegte vir wolverwerking en wewerye, 'n meubelfabriek en die Gubernija-brouery ontstaan. In 1938 het die plaaslike nywerhede 85 persent van Litaue se leervervaardiging, 60 persent van sy skoen-, 75 persent van sy linnegoed- en 35 persent van sy sjokolade-vervaardiging verteenwoordig. Šiauliai was tussen die twee wêreldoorloë steeds die tweede belangrikste Litause stad ná die destydse hoofstad Kaunas.

Die Tweede Wêreldoorlog het weer verwoesting in Šiauliai gesaai. Tydens die gevegte is tagtig persent van alle geboue verniel, en die stad is weer deur Duitse troepe beset. Šiauliai is ná 1945 as 'n moderne stad heropgebou en dien steeds as die administratiewe sentrum van 'n gebied wat munisipaliteite soos Joniškis, Pakruojis, Radviliškis, Kelmė en Naujoji Akmenė insluit.

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Handel en ambagte was sedert die 15de en 16de eeu die ekonomiese basis van Šiauliai. Die oorloë tussen Swede en Rusland het net soos Napoleon Bonaparte opmars na en terugtog uit Rusland het 'n nadelige uitwerking op die ontwikkeling van die stad gehad. 'n Nuwe bloeitydperk het met die vestiging van wewers uit Silesië in die laat 18de eeu en die stigting van tekstielnywerhede begin.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het Šiauliai sy posisie as beduidende nywerheidstad bevestig – klere, skoene, fietse, radio- en televisietoestelle, wat plaaslik vervaardig is, is na alle dele van die Sowjetunie uitgevoer. Aangesien die elektroniese fabrieke ook militêre hoëtegnologie ontwikkel het, was Šiauliai tot en met 1987 nie toeganklik vir buitelandse besoekers nie.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. (de) Günther Schäfer: Litauen. Bielefeld: Peter Rump 2009, bl. 386
  2. (en) "www.siauliai.lt: Die geskiedenis van Šiauliai". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2009. Besoek op 11 Julie 2009.

Eksterne skakels

[wysig | wysig bron]